Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Steinhoff weier om dié verslag vir Jooste te gee

Markus Jooste, voormalige uitvoerende hoof van Steinhoff, sal nou waarskynlik ’n hofaansoek moet bring om toegang te kry tot die reuse forensiese verslag oor die ongerymdhede met die maatskappy se boeke.

Markus Jooste, voormalige uitvoerende hoof van Steinhoff. Foto: Getty Images

Hy het in ’n tussengeding ingevolge die hofreëls vir die blootlegging van die forensiese verslag gevra.

Steinhoff het Maandag in reaksie daarop laat weet dit gaan nie gebeur nie.

“Die PwC-verslag is onderhewig, en beskerm, deur regsprivilegie en Steinhoff International Holdings (Edms.) Bpk. en Steinhoff International Holdings N.V. weier dienooreenkomstig om dit aan Jooste beskikbaar te stel,” lui die maatskappye se reaksie.

Jooste het begin Julie gevra hy wil toegang tot die bevindinge en 4 000 dokumente hê wat deel uitmaak van die forensiese ondersoek oor die gebeure wat tot die maatskappy se ineenstorting gelei het nadat die twee Steinhoff-maatskappye hom as derde party tot ’n hofaansoek gevoeg het.

LEES OOK: Jooste vra hof vir forensiese verslag oor Steinhoff

Steinhoff het Jooste in Junie as derde party gevoeg tot die eis van gesamentlik amper R60 miljard wat Thibault Square Financial Services en Titan Premier Investments teen die groep gebring het. Die maatskappye behoort aan ’n familietrust van Christo Wiese, voormalige voorsitter van Steinhoff.

Jooste is ook deur Steinhoff as derde party gevoeg by ander eise wat teen die maatskappye gebring is deur partye wat ’n verlies gely het weens die ineenstorting van die maatskappy se aandeelprys en beweerde ongerymdhede wat met sy boeke plaasgevind het.

Steinhoff het middel Maart net ’n opsomming van 11 bladsye uitgereik oor die bevindinge van die forensiese ondersoek oor ongerymdhede in sy boeke wat vanaf Desember 2017 uitgevoer is.

Sedertdien weier die maatskappy om die volledige verslag openbaar te maak omdat daar aangevoer word die inligting is vertroulik.

Jooste het in Julie in die tussengeding ingevolge die hofreëls kennis gegee dat hy vir die blootlegging van die dokumente vra.

Steinhoff het nou ook in reaksie daarop gesê Jooste demonstreer nie op enige grondslag dat die verslag nodig is vir die formulering van sy verweer in opposisie van hul tussengeding om hom as ’n derde party tot die hofsaak te voeg nie.

’n Regskenner het gesê dit beteken Jooste sal nou ’n hofaansoek moet bring om te bepaal wie reg is oor die toegang tot die forensiese verslag.

Meer oor:  Steinhoff  |  Markus Jooste  |  Meubels  |  Meubelhandel  |  Kleinhandelaars  |  Bedrog  |  Kleinhandel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.