Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Steinhoff: Wiese, pensioenfondse verloor miljarde

Nagenoeg R120 miljard se markwaarde is vroegoggend deur die skokgebeure by Steinhoff uitgewis toe sy aandeelprys meer as gehalveer het en dié van sy Suid-Afrikaanse filiaal ook skerp gedaal het.

Die aandelehandelaar Karin Richards het op Twitter gesê: “Tussen Steinhoff en Star (Steinhoff Africa Retail) het meer as R120 miljard se markwaarde vanoggend verdwyn. Dit is meer as ’n hele Remgro.”

Markus Jooste bedank

Hier is Mark Jooste in gelukkiger dae in 2010 toe hy ‘n trofee gekry het by Emperors Palace. Links is Bob Yearham van Emperors Palace. Die foto verskyn op ‘n webjoernaal van Summerhill.co.za

Dié slagting het gekom nadat Steinhoff die mark ingelig het nuwe inligting het aan die lig gekom oor boekhou-onreëlmatighede, wat verdere ondersoek vereis, en dat Markus Jooste, uitvoerende hoof, met onmiddellike ingang bedank.

Christo Wiese, voorsitter van Steinhoff, en die grootste aandeelhouer, gaan nou as uitvoerende hoof waarneem. Intussen word ’n onafhanklike ondersoek gedoen na die beweerde onreëlmatighede.

’n Handelaar het op Twitter gesê Wiese het al R26 miljard verloor. “Dis die einde van Wiese-Jooste-vriendskap.”

“Die vertroue tussen Wiese en Jooste is gebreek, en Jooste is uit,” het die bekende aandele-ontleder Syd Vianello aan Bloomberg gesê.

“Wiese het ’n reusebedrag geld op die spel en dit is in sy beste belang om te verseker die vertroue in die maatskappy word herstel.”

Casparus Treurnicht, ’n aandele-ontleder van Gryphon Batebestuur, sê Wiese se belang in Steinhoff was einde November nog R55,3 miljard werd en is nou R19,6 miljard werd. Hy het dus R35,7 miljard verloor sedert Vrydag.

Steinhoff International se aandeelprys het in ’n stadium so ver geval dat sy markwaarde gelyk was aan die markwaarde waarop sy binnelandse filiaal Dinsdag gesluit het, het Kruger ook op Twitter gesê. “Dis mal!”

Talle het op Twitter gewys op die impak wat dit op pensioenfondse gaan hê.

Dit is omdat Steinhoff een van die top40 grootste aandele op die beurs was en in talle pensioenfondse ingesluit is.

Steinhoff International het Dinsdag nog 2,35% in die Swix 40-indeks verteenwoordig, en was die negende grootste aandeel in die indeks.

In die indeks van alle aandele het hy 1,6% verteenwoordig.

Sy gewig in dié indekse het Woensdag gehalveer, wat beteken van die 1,5% wat die mark sover gedaal het, word 0,9% aan Steinhoff toegeskryf, sê Treurnicht.

Groot beleggings

Baie aktiefbestuurde fondse is baie groot belê in Steinhoff.

Daar is aandeelfondse wat heeltemal oorgewig in Steinhoff was met meer as 5% of amper 7% belê.

Boonop het Star, wat in September genoteer het, se aandeelprys Woensdagoggend met 21% tot R19,32 gedaal.

Die val kom nadat Steinhoff International se aandeelprys reeds maande onder druk was weens mediaberigte oorsee oor beweerde ongerymdhede met sy finansiële state.

Markus Jooste het as uitvoerende hoof van Steinhoff bedank.

Sy aandeelprys het reeds Maandag en Dinsdag met altesame 18% geval nadat hy aangekondig het dat ’n ongeouditeerde weergawe van sy resultate uitgereik gaan word omdat die oudit van sake wat grootliks verband hou met die ondersoek na strafregtelike klagte en belastingsake in Duitsland, nog nie afgehandel is nie.

Woensdagoggend is boonop gesê die bekendmaking van die resultate is tot verdere kennisgewing uitgestel.

Steinhoff het in Desember 2015 aangekondig dat ’n ondersoek na belasting by een van die kleinhandelgroep se filiale in Duitsland gedoen is.

Dit was ’n paar dae voor sy notering op die Duitse aandelebeurs in Frankfurt.

Meer oor:  Steinhoff  |  Markus Jooste  |  Christo Wiese  |  Ekonomie  |  Maatskappye  |  Aandeelprys
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.