Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Steinhoff ‘wil bonusse terugeis’
Steinhoff se hoofkantoor in Stellenbosch.

Die voormalige topbestuur van Steinhoff kan dalk binnekort die vet bonusse kwyt wees wat hulle die afgelope jare gekry het.

Steinhoff het Donderdagmiddag in ’n verklaring gesê die forensiese ondersoekspan van PwC het sy eerste terugvoering gegee oor die ondersoek na Steinhoff se boeke.

“Die rolle en verantwoordelikhede van diegene wat voorheen aan die stuur van die groep was, word ondersoek as deel van die PwC-proses. Die groep sal so spoedig moontlik toepaslike stappe (teen die voormalige topbestuur) doen,” lui die verklaring.

Sodra regsadvies ingewin is oor PwC se bevindings, sal verdere aankondigings hieroor gedoen word.

Een van die stappe wat oorweeg word, is om die bonusse wat in die verlede aan sekere senior bestuurders betaal is, terug te eis.

Steinhoff sê ook hy het die hof in Amsterdam versoek om Markus Jooste, voormalige uitvoerende hoof, in te sluit by ’n groepsgeding teen Steinhoff.

Steinhoff sê die verhoor oor die groepsgeding wat die Vereniging van Effectenbezitters (VEB) teen hom aanhangig gemaak het, begin voor einde September in Amsterdam.

Sedert sy jaarvergadering het hy ook ’n groepseis van Duitse beleggers teen hom ontvang.

Steinhoff sê in die verklaring die terugvoer van PwC stem wesenlik ooreen met, en bevestig die onreëlmatighede wat Deloitte geïdentifiseer het wat daartoe gelei het dat die ouditfirma nie Steinhoff se jaarstate vir 2017 wou afteken nie.

Die ondersoek handel oor die geldigheid en verhaalbaarheid van sekere bates buite Suid-Afrika wat aanvanklik op 6 miljard geraam is.

Daarby het hy sedert Desember boonop ’n oordrywing van winste en verwante-party-transaksies gevind wat tot ’n wesenlike bykomende afskrywings gaan lei.

“Die omvang hiervan word nog ondersoek, en gaan deel vorm van die aanbieding oor die tussentydse resultate van die groep wat Junie uitgereik word.”

Steinhoff sê hy wend elke moontlike poging aan om sy resultate vir die halfjaar tot einde Maart voor die einde van Junie uit te reik. Dit sal nie geouditeer wees nie. Dit sal ’n balansstaat tot einde September insluit, maar ook dít sal nie geouditeer wees nie.

Die groep mik nog om sy geouditeerde resultate vir die jaar tot einde September 2017 einde Desember uit te reik en die geouditeerde jaarstate tot einde September 2018 voor einde Januarie volgende jaar uit te reik.

Met verwysing na Christo Wiese, voormalige voorsitter, se eis van R59 miljard teen Steinhoff, sê die maatskappy: “Die posisie oor Wiese . . . is anders as met ander verkoper- en aandeelhouerseise vanweë die intieme betrokkenheid van Wiese by die groep oor baie jare. Die maatskappy sal ten einde die groep en sy belangegroepe te beskerm, alles in sy vermoë doen om die stappe deur Wiese te verdedig.”

Steinhoff het ook aangekondig ’n eis van R1,4 miljard is van GT Ferreira, die Stellenbosse bankier en eienaar van die Tokara-wynplaas, asook van R1,7 miljard van Tekkie Town ontvang.

’n Handelsoorsig sal in Junie uitgereik word.

Steinhoff het ná die opdatering aan beleggers amper 4% of 4c laer op R1,74 gesluit. Dit is weer ’n nuwe laagtepunt.

Meer oor:  Steinhoff  |  Pwc  |  Gt Ferreira  |  Markus Jooste  |  Christo Wiese  |  Maatskappye
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.