Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Steinhoff wil geld terugkry van Wiese-transaksies
Christo Wiese vroeër vanjaar in die parlement. Foto: Nellie Brand-Jonker

Steinhoff International Holdings het in ’n ondersoek bevind transaksies wat verlede jaar gesluit is met entiteite wat verwant is aan Christo Wiese, voormalige voorsitter, het nie sy behoorlike prosesse gevolg nie.

Sy aandeelprys het Dinsdag met sowat 15% tot R2,52 gedaal ná hernude mediaberigte oor sy sake. Dit volg nadat hy Maandag wéér op ’n nuwe laagtepunt van R2,97 gesluit het.

Dinsdag se laagste vlak, R2,48, is ’n allemintige 95,6% minder as Steinhoff se sluitingsprys op 1 Desember van R55,81. Dit was die laaste handelsdag voordat aangekondig is die maatskappy se ouditeurs, Deloitte, weier om sy jaarsyfers af te teken.

Steinhoff het in ’n verklaring gesê hy wil nou die geld terugkry van die Wiese-entiteite.

Wiese was tot in Desember die voorsitter van Steinhoff en die grootste aandeelhouer.

“Entiteite binne Steinhoff-groep het kommersiële ooreenkomste in Oktober en November 2017 met entiteite wat verwant is aan Wiese gesluit. Die transaksies het nie die normale prosesse vir korporatiewe bestuur en openbaarmaking van die maatskappy gevolg nie,” is in ’n verklaring gesê.

Albei van die transaksies is onder leiding van die onafhanklike komitee van die toesighoudende direksie, wat in Desember aangestel is, ondersoek. “Daarna

is terugbetalingsooreenkomste gesluit en dit word tans n werking gestel.”

Steinhoff het nie gereageer op vrae oor na watter entiteite van Steinhoff en Wiese verwys is en watter kommersiële ooreenkomste dit behels nie.

Wiese is ook vir kommentaar genader, maar het nog nie navrae beantwoord nie.

Margelenings

Die verklaring is by navraag deur Steinhoff aangestuur nadat Moneyweb berig het dat Johan van Zyl, ’n direkteur van die maatskappy, na bewering gesê het Wiese wou in Desember gehad het die maatskappy moet sy margelenings betaal.

Steinhoff het in die verklaring ontken enige finansiering is in Desember toegestaan aan ondernemings wat aan Wiese verwant is.

Margelenings is lenings wat tipies gekry word om aandele mee te koop en waarvoor die aandele as sekuriteit aangebied word. As die waarde van die aandele onder die waarde van die lening val, kan dit opgeroep word.

Wiese het onlangs aan Netwerk24 bevestig hy is nie meer die grootste aandeelhouer in Steinhoff nie omdat sy aandele van hom vervreem is deur banke aan wie dit as sekuriteit vir margelenings aangebied is.

Netwerk24 het berig dié lenings is deur Upington Investments Holdings gekry, soos in 2016 aangekondig is.

Wiese het in 2016 sowat 314 miljoen aandele gekry in ’n kapitaalinsameling wat deur Steinhoff gehou is.

Steinhoff het die R35 miljard wat ingesamel is, gebruik vir die verkryging van die Amerikaanse maatskappy Mattress Firm.

Wiese besit 89% van Upington deur sy maatskappy Titan, terwyl 11% deur Markus Jooste, voormalige uitvoerende hoof van Steinhoff, en ander bestuur gehou is.

Middagete

Moneyweb het nou berig Van Zyl het by ’n onverwante ontmoeting met beleggers van African Rainbow Capital, waarvan Van Zyl die mede- uitvoerende hoof is, op ’n middagete oor sy direkteurskap van Steinhoff en die margelenings gepraat. Hy het op spesifieke vrae gereageer.

Van Zyl het glo gesê hy en Steve Booysen, voorsitter van die ouditkomitee van Steinhoff, het ’n paar dae nadat Jooste in Desember bedank het, bewus geword daarvan dat Wiese die maatskappy opdrag gegee het om ’n margelening te betaal wat opgeroep is.

Na bewering het Van Zyl en Booysen vir Wiese gekonfronteer en gedreig om van die direksie te bedank as die opdrag nie gekanselleer of omgekeer word nie. Blykbaar het Wiese op hul versoek gereageer.

Wiese het as voorsitter bedank dae nadat Jooste in Desember as uitvoerende hoof bedank het. Die rede wat daarvoor gegee is, is dat die onafhanklikheid van die direksie versterk is omdat hy ’n groot aandeelhouer is.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.