Steinhoff is in samesprekings met die versekeraars wat versekeringsdekking vir sy direkteure en amptenare verskaf het, om die regseise teen die maatskappy te help betaal.
Die groep is in die proses om die R136 miljard se regseise teen hom te skik.

Steinhoff se hoofkantoor in Stellenbosch. Foto: Getty Images
Getty Images
Volgens Theo de Klerk, finansiële hoof van Steinhoff, sal ’n ooreenkoms met die versekeraars van soortgelyke omvang wees as die een wat die maatskappy met sy voormalige eksterne ouditeur Deloitte twee weke gelede aangegaan het.
Deloitte was die groep se eksterne ouditeur gedurende die tydperk wat die beweerde ongerymdhede met sy boeke plaasgevind het.
Deloitte het ingestem om €70 miljoen euro (R1,2 miljard in vandag se wisselkoers) vir die skikking op te dok.
LEES OOK: Deloitte sal meer as R1 mjd. vir
Steinhoff-eise opdok
De Klerk meen dit is “waarskynliker as nie” dat die wêreldwye skikking suksesvol sal wees en dat diegene met eise laat hierdie jaar of vroeg in 2022 uitbetalings sal kry.
Die tipe versekering beskerm die persoonlike bates van direkteure en beamptes van ’n maatskappy sowel as dié van die maatskappy self. Die versekering dek ook die regs- en skikkingskoste wanneer direkteure en beamptes teen ’n geldige eis verdedig word.
Sodra ’n ooreenkoms gesluit is, moet Steinhoff daarop fokus om sy skuld af te betaal wat ongeveer €10 miljard beloop.
Die skuld sal afbetaal word deur bates te verkoop.
Die maatskappy wil ook 25% tot 30% van sy Europese kleinhandelaar Pepco verkoop. Na verwagting sal dít teen einde Junie afgehandel wees.
Sy belang in Mattress Firm gaan dalk ook verkoop word.
Steinhoff gebruik reeds sy aandeelhouding in Pepkor van Suid-Afrika om te help om die eise te betaal.
Dit sal die groep se aandeelhouding van 68% tot 50% verlaag.
De Klerk sê sodra die skikking in plek is sal Steinhoff dit oorweeg of die belang verder verminder moet word en of dit “waarskynlik meer sin maak om dit tot 35% te verlaag.” - Bloomberg