Die internasionale meubelgroep Steinhoff hervat sy planne om sy Europese meubelwinkelgroep Pepco moontlik te noteer.

Pepco, wat 1 300 winkels in onder meer Pole en Roemenië bedryf, word as een van Steinhoff se winsgewendste ondernemings beskryf.
Steinhoff het Maandagmiddag op die JSE se nuusdiens, Sens, bekend gemaak die evaluasieproses vir strategiese opsies vir die Pepco-groep is hervat. ’n Hele aantal opsies word oorweeg, wat ’n moontlike notering insluit.
Steinhoff het in November 2019 al aangedui hy oorweeg dit om Pepco te verkoop of dit afsonderlik te noteer. Maar deur die loop van 2020 is die tydsberekening van sy planne deurmekaar gekrap deur die Covid-19-pandemie.
Steinhoff sê die hervatte proses is nog in sy kinderskoene en geen definitiewe besluit is al geneem oor enige spesifieke plan met Pepco nie.
In Maart verlede jaar het Bloomberg berig dat Steinhoff die verkoop van Pepco wil uitstel weens die geweldige onsekerheid in die wêreldmarkte en omdat Andy Bond, uitvoerende hoof van Pepco, toe siek was. Bond is bekend as een van die mense wat gehelp het om die Europese kleinhandelgroep Asda om te keer voordat dit in 1999 aan die Amerikaanse Walmart verkoop is.
Steinhoff se aandeelprys het Maandag op die JSE met meer as 12% tot R1,45 geklim.