Die beleërde Steinhoff-groep het Dinsdagoggend aangekondig hy is bereid om te onderhandel met partye wat regsgedinge teen hom begin het in die hoop om te skik.

Christo Wiese, voormalige voorsitter van Steinhoff. Hy het 'n eis van altesaam R59 miljard teen Steinhoff. Foto: Getty Images
Die groep het gesê die onthulling oor ongerymdhede met sy boeke het veroorsaak dat talle regsgedinge teen hom gebring is. Hy verwys ook na “inisiatiewe om eise op te los” wat deur sekere partye voorgestel is.
Steinhoff het gesê hy sal in beginsel ’n “alternatiewe benadering tot die eise oorweeg soos ’n onderhandelde skikking indien dit in belang van die maatskappy en sy aandeelhouers beskou word.”
Steinhoff het die verteenwoordigers van die eisers gevra om die relevante inligting oor die identiteit van die eisers wat hulle kontraktueel verteenwoordig asook die grootte van hul aandeelhouding of voormalige aandeelhouding aan hom te verskaf.
“Die maatskappy wil net beklemtoon dat so ’n versoek nie beteken dat ’n onderhandelde skikking bereik gaan word nie.”
Van die partye wat reeds eise teen Steinhoff gebring het, sluit in die sakeman Christo Wiese met eise van altesaam sowat R59 miljard asook Tekkie Town se voormalige eienaars wat hul onderneming terugeis of die waarde van die verlies wat sowat R1,8 miljard beloop.
Die Stellenbosse bankier GT Ferreira en ’n bemagtigingstrust van sy plaas Tokara het ’n eis van sowat R1 miljard teen Steinhoff.