Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Ster-Kinekor: Springmielies sál weer spring by teaters

Rolprentteaters is nie ’n nekslag toegedien as gevolg van Covid-19 nie. Fliekvlooie kan gerus hulle lojaliteitskaarte afstof in afwagting op heelwat nuwe rolprente wat binnekort in teaters begin wys.

Só glo Motheo Matsau, waarnemende uitvoerende hoof van Ster-Kinekor.

Hy het aan Netwerk24 gesê rolprentteaters sal floreer ten spyte van Covid-19 en die impak wat dit op besoekersgetalle aan rolprentteaters gehad het. Ster-Kinekor is tans in sakeredding weens die impak van die pandemie.

Oor stroming

Ding rolprentteaters regtig met stromingsdienste soos Netflix en Showmax, mee?

Matsau glo mense wil steeds rolprentteaters besoek omdat dit vir hulle vermaak weg van hul huise bied.

Hy glo hoewel die syfers wys mense het in groot dele van 2020 en 2021 eerder by die huis gebly, moet dit nie as ’n permanente verandering in verbruikersgedrag gesien word nie.

“Mense was tydens grendeltye ingeperk en gedwing om by hul huise te bly. Uiteraard is daar na alternatiewe vir vermaak gesoek, soos stromingsdienste, TV en DVD’s.”

Een van die belangrikste redes waarom die bedryf in Suid-Afrika die afgelope 15 maande so gesukkel het, was weens die inperkingsmaatreëls wêreldwyd wat daartoe bygedra het dat minder lokettreffers uitgereik is.

Rolprente soos No Time to Die, die nuutste James Bond-fliek, sou al verlede jaar sy verskyning in teaters maak, maar die uitreiking daarvan word nou eers veel later in die jaar verwag.

Die impak van die terughou van gewilde rolprente en inperkingsmaatreëls in baie lande het gereelde fliekgangers by hul huise gehou en eerder laat gryp na TV’s se afstandbeheer en DVD’s. Stromingsdienste soos Showmax en Netflix het ook lekker gedy toe mense wêreldwyd in hul huise moes bly.

Tekens van oplewing

Hollywood het steeds die grootste invloed op die landskap van die plaaslike rolprentbedryf en daarom glo Matsau dit is wel aanvaarbaar om te verwag dat wat in Amerika gebeur, ook ten minste ’n geruime tyd ’n invloed op die rolprentbedryf in Suid-Afrika sal hê.

Op 8 April het ’n peiling gewys 59% van Britte mis besoeke aan rolprentteaters die meeste van alle vermaakopsies weg van hul huise af.

Die nuutste James Bond-fliek sal eers later vanjaar in teaters vertoon word. Foto: EON Productions

In die VSA het navorsing gewys 56% van mense wat voorheen gereeld teaters besoek, het reeds in April weer teruggekeer.

Daar is ook plaaslik tekens dat mense al hoe meer rolprentteaters besoek.

Matsau sê in Maart het daar klaar meer besoekers kaartjies by Ster-Kinekor se teaters gekoop.

Getalle is egter steeds ver onder wat dit voor die pandemie was.

Dit is veral die meer bekende films wat kykers lok, soos Godzilla vs Kong, wat beter vaar en langer op die teaterrolle is as normaalweg.

LEES OOK: ‘Godzilla’, ‘Fast and Furious’ gee Ster-Kinekor hoop

Fliekgangers kan begin uitsien na heelwat nuwe rolprente wat oor die volgende 24 maande uitgereik gaan word. Dink maar hier aan die nuutste Fast & Furious-fliek wat nie in teaters kon draai as gevolg van die pandemie nie. Ster-Kinekor verwag klaar Fast-9, wat binnekort hier gaan wys, sal een van die gewilde films wees wat onlangs in sy teaters gedraai het.

Dié rolprent het in sy eerste week van vertonings in China rofweg $136 miljoen gemaak.

Filmbedryf wil teaters help

Op 19 Mei het die internasionale rolprentbedryf saamgekom om sy ondersteuning aan teaters te bevestig en voorgeneem om te help om weer lewe te blaas in teaters.

Jason Kilar, uitvoerende hoof van Warner Media, het na berig word gesê hul gewildste rolprente sal in 2022 hul debuut in rolprentteaters maak en eers later beskikbaar wees op die maatskappy se eie stromingsdiens.

“Dis bemoedigend, want dit wys dat die rolprentbedryf nie iets is wat mens sommer maklik by jou huis kan herskep nie,” sê Matsau.

Matsau sê verder rolprentteaters sorg vir tussen 45% en 50% van ’n rolprent se leeftyd, veral as dit kom by lokettreffers, en speel daarom ’n baie groot rol in die sukses daarvan. “Geen ander platform gee aan rolprente dié blootstelling nie.

“Die rolprentbedryf het al baie struikelblokke – soos ander pandemies, ekonomiese krisistye en selfs wêreldoorloë – oorkom. Ons glo deur innovasie en kundigheid sal ons ook dié pandemie oorleef.”

Meer oor:  Ster-Kinekor  |  Stromingsdienste  |  Rolprentbedryf  |  Flieks  |  Rolprente  |  Sakeredding
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.