Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Christo Wiese, Whitey Basson huldig Pep-stigter

Renier van Rooyen (86), stigter van die winkelgroep Pep Stores, is Maandag dood.

Renier van Rooyen tydens die bekendstelling van sy biografie in 2010. By hom is dr. Franklin Sonn. Een van Renier se twee seuns, Johann, het die boek geskryf.

In ’n doodsberig in Die Burger skryf sy familie hy het “sag heengegaan in die geseënde ouderdom van amper 87 jaar. Ons harte is vol dankbaarheid vir soveel mooi herinneringe en ’n kosbare nalatenskap.”

Van Rooyen sou op 28 November 87 jaar oud geword het.

Hy word oorleef deur sy vrou, Alice, twee seuns, Renier jr. en Johann, ’n dogter, Salóme, en ses kleinkinders.

Johann, een van Van Rooyen se seuns, sê sy pa was altyd baie geesdriftig en het altyd geglimlag. “Ons het by hom geleer ’n mens moet nederig wees en empatie hê met mense wat minder bevoorreg is.”

Hy sê sy pa het “geleef wat hy geglo het”.

Van Rooyen het ’n groot passie gehad vir reis en het ná sy vroeë aftrede tien jaar lank in Europa gebly en gereis, onder meer in Switserland, Portugal, Frankryk en Engeland. Johann sê sy pa was mal oor die kosse en leefstyl van die Mediterreense streek.

Van Rooyen het Pep in Upington begin. Christo Wiese se pa het hom by Van Rooyen aangesluit en later Wiese self ook.

Pep Stores is later uitgebrei tot Pepkor, waarvan Wiese steeds die voorsitter is.

Wiese beskryf Van Rooyen as een van Suid-Afrika se grootste entrepreneurs, wat een klein winkeltjie in Upington gekoop het en dit uitgebou het tot die Pepkor-groep, nou een van die grootste kleinhandelaars in Suid-Afrika.

Hy het vroeg afgetree – in 1981, toe hy 50 was – en in daardie stadium het Pepkor 500 winkels, 10 fabrieke en 10 000 werknemers gehad. Wiese het in 1981 Pepkor se voorsitter en grootste aandeelhouer (met ’n belang van 44%) geword.

Vandag het Pepkor meer as 50 000 werknemers en meer as 5 100 winkels in 12 lande.

Wiese sê Van Rooyen het met baie min begin. “Hy het, soos die feëverhaal van Repelsteeltjie, die vermoë gehad om goud te spin uit koringare. Hy kon gewone mense inspireer om buitengewone dinge te doen.”

“Hy was amper soos ’n pa vir my,” sê Whitey Basson, voormalige uitvoerende hoof van die Shoprite-groep.

Basson beskryf Van Rooyen as ’n “baie joviale man, ’n mens-mens”.

Wiese sê Van Rooyen het sy lewe op vyf beginsels gebou: geloof, harde werk, positiewe denke, geesdrif en meelewendheid.

Basson sê hulle het saam aan Pepkor en Shoprite beplan en hy beskou Van Rooyen as “die grootste kleinhandelaar wat ek geken het”.

Hy was ook in die donkerste tye van apartheid ’n stryder daarteen. Wiese sê in Pep-winkels was daar, ondanks wetgewing daaroor, nie aparte toilette vir swart, wit en bruin mense nie. “Daar was slegs een onderskeid – mans en vroue.”

Hy het, soos die feëverhaal van Repelsteeltjie, die vermoë gehad om goud te spin uit koringare. Hy kon gewone mense inspireer om buitengewone dinge te doen.
Christo Wiese

Basson beaam dat Van Rooyen sy tyd lank vooruit was.

Hy sê Pep was een van die eerste winkelgroepe wat winkels in bruin woongebiede begin het. Van Rooyen het bruin mense bemagtig om finansieel te groei en self ondernemings te begin. “Hy was ’n man met baie vriende, in alle gemeenskappe.”

Van Rooyen was ook ’n groot filantroop, wat studielenings, sopkombuise en ander welsynswerk uit sy eie sak gefinansier het. Hy het onder meer vir Pep-werknemers huise gebou.

Hy het veral arm gemeenskappe in die Wes- en die Noord-Kaap ondersteun. Hy het onder meer die Foundation for Community Work tot stand gebring.

Renier van Rooyen en sy seun Johann gesels oor sy biografie, wat Johann geskryf het, met die bekendstelling daarvan in 2010.

Dr. Franklin Sonn, akademikus en voormalige ambassadeur na die VSA, loof Van Rooyen in ’n huldeblyk as “weldoener en vriend wat ten volle met ons mense geïdentifiseer het in die moeilike apartheidsjare.

“Ons het hom liefgehad en hom geëer, ook vir sy nierassigheid in daardie tyd,” skryf Sonn en sy vrou, Joan.

Van Rooyen het in 2011 die Inyathelo-toekenning vir lewenslange filantropie ontvang.

Van Rooyen is in Kenhardt in die Noord-Kaap gebore en het sy loopbaan as ’n klerk in die departement van justisie begin voordat hy ’n enkele winkel in Upington gekoop het.

Een van die grootste skenkings wat Van Rooyen gedoen het, was ’n studielening aan Jakes Gerwel. Gerwel het later direkteur-generaal in die kantoor van wyle oudpres. Nelson Mandela en kanselier van Rhodes-universiteit geword. Gerwel is in 2012 dood.

Van Rooyen het ook mense soos die digter Adam Small en die ekonoom prof. Eltie Links ondersteun.

Johann, een van Van Rooyen se seuns, sê sy pa was altyd baie geesdriftig en het altyd geglimlag. “Ons het by hom geleer ’n mens moet nederig wees en empatie hê met mense wat minder bevoorreg is.”

Hy sê sy pa het “geleef wat hy geglo het”.

Van Rooyen het ’n groot passie gehad vir reis en het ná sy vroeë aftrede tien jaar lank in Europa gebly en gereis, onder meer in Switserland, Portugal, Frankryk en Engeland. Johann sê sy pa was mal oor die kosse en leefstyl van die Mediterreense streek.

’n Gedenkdiens vir Van Rooyen word Maandag om 15:30 in die NG Kerk Kenridge gehou.

Volgens Johann verwag hulle ’n groot opkoms na die gedenkdiens, veral mense wat by Pep gewerk het of steeds daar werk. Sonn en Wiese gaan ook huldeblyke lewer.

Meer oor:  Steinhoff  |  Pepkor  |  Pep  |  Renier Van Rooyen  |  Christo Wiese  |  Kleinhandel  |  Kleinhandelaars
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.