Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Stop van Shosholoza Meyl is ‘irrasioneel’

Dit was irrasioneel van die Spoorveiligheidsreguleerder (RSR) om opdrag te gee dat alle Shosholoza Meyl-treindienste gestaak word, sê die vervoervakbond Untu.

treinongeluk
Die Shosholoza Meyl-trein wat die aand van 12 Februarie omstreeks 21:00 teen ’n goedere trein gebots. Foto: ER24

Steve Harris, hoofsekretaris van Untu, meen die RSR se reaksie is waarskynlik weens die internasionale aandag wat die botsing tussen ’n Premier Class-passasierstrein en ’n Transnet-goederetrein op 12 Februarie getrek het, omdat daar toeriste op die Premier Class-trein was.

Die RSR se voorlopige bevinding oor die ongeluk waarin een passasier gesterf en vier ander beseer is, was dat die treine met die hand gemagtig was om op die spoorlyn naby Roodepoort aan die Wes-Rand te ry. Die goederetrein het stilgestaan, terwyl die passasierstrein teen 60 km/h, pleks van teen die spoedgrens daar van 30 km/h, gery het.

Die Maraisburg- sentrale beheersentrum het albei die treine se bewegings gemagtig, maar dit is nie deur die afdelingsbestuurder onderteken soos vereis word nie.

Ingevolge ’n hofbevel wat in Oktober 2018 in die hooggeregshof in Pretoria uitgereik is, moet ’n afdelingsbestuurder elke handmagtiging van ’n trein se bewegings goedkeur. Dit het gevolg op verskeie treinbotsings van die Passasierspooragentskap (Prasa), wat sowel die Shosholoza Meyl-langafstandpassasierstreine as die Metrorail- stedelike pendeldienste bedryf.

Untu wil hê Fikile Mbalula, minister van vervoer, moet die RSR-raad ontbind omdat hulle net geraas maak en niks beteken nie. Metrorail het in vorige voorvalle die 2018-hofbevel verontagsaam. Die RSR het pleks daarvan om Metrorail se bedryfspermit in te trek, dit verleng vir nog drie maande tot einde Januarie, wel wetende dat Metrorail nie aan die hofbevel voldoen nie.

Volgens Harris het die RSR-raad se termyn in Oktober verlede jaar ten einde geloop, en sedertdien word dit van maand tot maand verleng. Untu wil hê Mbalula moet ’n nuwe onafhanklike raad aanstel wat vry van politieke inmenging is.

Intussen het Prasa Vrydagmiddag bevestig dat hy in die proses is om aan die RSR se opdrag te voldoen om alle langafstand-passasierstreine te stop. ’n Plan om alle treine teen Vrydagaand te stop is by die RSR ingedien en is aanvaar.

Die bestuur is tans in die proses om alle personeel en bates te reorganiseer, en daar sal tot Vrydagaand nog ’n beperkte beweging van ’n paar leë treine wees wat vir veilige bewaring na treinloodse gestuur word.

Waar van toepassing, sal passasiers vir hul kaartjiekoste vergoed word, het Prasa gesê.

Hy beplan ook om ’n ingrypingsplan aan die RSR voor te lê om die risiko van botsings en ontsporings weens die handmagtiging van treine beter te bestuur.

Prasa werk ook aan sy program om die sinjaalstelsels in Gauteng, die Wes-Kaap en KwaZulu-Natal te moderniseer.

Prasa is tans onder administrasie. Mbalula het Bongisizwe Mpondo in Desember as administrateur van Prasa aangestel en die direksie ontbind.

Meer oor:  Transnet  |  Untu  |  Shosholoza Meyl  |  Prasa  |  Fikile Mbalula  |  Steve Harris
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.