Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Suid-Afrikaners wil steeds vlieg, sê Flight Centre
Andrew Stark, besturende direkteur van Flight Centre in Afrika en die Midde-Ooste.

Ondanks die swak wisselkoers en die kommer oor die koronavirus is Suid-Afrikaners steeds gretig om te reis, sê Flight Centre.

Dié reisagentgroep het sowat R140 miljoen se reiskwotasies uitgereik op sy reis-ekspo die afgelope naweek en Andrew Stark, besturende direkteur van die groep in Afrika en die Midde-Ooste, sê dit wys daarop dat Suid-Afrikaners steeds wil reis.

Met die eerste geval van Covid-19 wat nou amptelik in Suid-Afrika aangemeld is en inkortings van reise wêreldwyd weens vrese vir die siekte, het die Duitse lugdiens Lufthansa aangekondig hy sal mense wat nuwe vliegkaartjies tot einde Maart gekoop het, tegemoetkom.

Lufthansa sal een herbespreking per vliegkaartjie tot einde Desember toelaat sonder enige bykomende koste.

Hulle doen dit omdat baie konferensies en sportgeleenthede gekanselleer of uitgestel is, en mense hul reisplanne wil uitstel tot nadat Covid-19 hopelik deur die loop van die volgende paar maande uitgewoed het.

“Suid-Afrikaners is ongelooflik veerkragtig en is steeds op soek na winskopie-reispakkette,” sê Stark.

Die naweek se besprekings op Flight Centre se reis-ekspo wys daar is steeds ’n yslike aptyt onder Suid-Afrikaners om te reis, veral as hulle ’n goeie prys kan kry, sê Stark.

Flight Centre is die reisagentskap wat in November besluit het om nie meer vliegkaartjies van die Suid-Afrikaanse Lugdiens te verkoop nie. Dit was nadat die versekeraar Santam nie meer bereid was om versekeringsdienste te verskaf vir dekking op vliegkaartjies wanneer ’n lugdiens bankrot speel nie.

Die SAL is kort daarna in Desember in sakeredding geplaas. Flight Centre het in Februarie weer die verkoop van SAL-kaartjies hervat nadat Santam besluit het om weer die versekering te bied.

Hennie Nel, finansiële hoof van Santam, het Donderdag in ’n onderhoud bevestig die versekeraar is tevrede om dekking vir lugdiensbankrotskap te bied nadat die sakereddingspraktisyns met hul werk by die SAL begin het, en veral nadat die nasionale tesourie gedurende die begroting verlede week aangekondig het dat daar R16,4 miljard oor die volgende drie jaar beskikbaar gemaak word om die SAL te ondersteun.

Sowat 80% van die besprekings wat op die reis-ekspo gedoen is, was vir internasionale reise, maar binnelandse reisbesprekings het die sterkste groei getoon teenoor ’n jaar gelede, het Stark gesê.

Die binnelandse besprekings was 130% meer as die vorige jaar.

Behalwe binnelandse bestemmings, was toerpakkette na Mauritius, Zanzibar, die Victoria-valle en Bali topverkopers op die ekspo.

Ander gewilde buitelandse bestemmings was Brittanje, Australië en Nieu-Seeland.

Die SAL self het ook vandeesweek ’n afslag-veldtog gehad op vliegkaartjies na van sy buitelandse bestemmings. Die verkoopsveldtog was van 3 tot 5 Maart en het afslag van tot 20% op vliegkaartjies na New York, Londen, Washington DC, Perth, Frankfurt, Dar es Salaam, Blantyre, Kinshasa, Harare, Lilongwe, Lagos, Lusaka, Livingstone, Maputo, Mauritius, Nairobi, die Victoria-valle en Windhoek ingesluit.

Meer oor:  Sal  |  Flight Centre  |  Suid-Afrikaanse Lugdiens  |  Covid-19  |  Vlugte  |  Ekonomie  |  Lugdiens  |  Koronavirus  |  Toerisme  |  Virus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.