Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Suiker kan óók skaars raak

Suikertekorte is waarskynlik verbruikers se voorland nadat suikerriet-lande afgebrand is en suikermeulens in die hartjie van die bedryf moes sluit.

Suid-Afrika is die tweede grootste vervaardiger van suiker op die Afrikavasteland en het in 2019 ’n uitset van 2,2 miljoen ton gehad. Foto: Unsplash

Meer as 350 000 ton suikerriet is reeds vernietig weens brandstigting wat sedert die naweek in KwaZulu-Natal en Gauteng deel is van die modus operandi van die opstande en plundering in die twee provinsies.

Teen R600 ’n ton, het suikerrietboere tot dusver ’n geskatte inkomste van meer as R211 miljoen in die onrus verloor.

Volgens Andrew Russell, voorsitter van die Suid-Afrikaanse Suikerrietverbouersvereniging, het alle suikermeulens in KwaZulu-Natal hul bedrywighede gestaak omdat hulle in elk geval nie suikerriet kan ontvang, of suiker en molasse kan versprei nie. Paaie is geblokkeer en baie vervoermaatskappye ry nie op die oomblik in paaie in die provinsie nie.

Die verlies aan suikerriet te midde van die bedryf se oestyd, kan daarom die vervaardiging van onder meer kos en drank erg knou.

Vrese oor voedseltekorte het reeds posgevat en ’n tekort aan suiker kan ook bydra tot ’n skaarsste van byvoorbeeld brood.

Verskeie bakkerye in Gauteng en KwaZulu-Natal het ook reeds gesluit as voorsorgmaatreël teen geweld en plundering.

Tongaat Hulett het al sy suikermeulens en

-aanlegte in KwaZulu-Natal gesluit en reeds drie dae se produksie verloor. Die suikervervaardiger kan nie sê wanneer sy aanlegte weer met suikervervaardiging sal kan begin nie, maar sê dit is ook nie net so maklik om aanlegte en meulens aan te skakel en met produksie te begin nie.

Volgens Gavin Hudson, Tongaat Hulett se uitvoerende hoof, moet herstelwerk aan verskeie toerusting gedoen word voordat dit ná afskakeling weer gebruik kan word.

LEES OOK: Tekort aan hoender en brood dreig ná plundering

Russel sê KwaZulu-Natal is die beginpunt van die opstande, maar dit is ook die hart van die land se suikerbedryf.

“Hierdie onrus vind plaas in ’n kritieke tyd waarin suikerrietboere in die middel van hul oestyd is. Die verliese wat hulle nou ly weens brandstigting, is onvervangbaar vir die boere, werkers en miljoene mense wat afhanklik is van dié bedryf,” sê Russell.

Hy waarsku die geweld wat oorgespoel het na Gauteng en nou al ook in Mpumalanga kop uitsteek, hou erge gevolge in vir die land se ekonomie.

“Die wetteloosheid wat nou in die land gesien word, rig onherroeplike skade aan die land se ekonomie aan.”

Volgens hom trek die totale verliese wat gely is deur brandstigting van landerye reeds op 353 000 ton.

“Dit is tyd dat die Suid-Afrikaanse regering ’n noodtoestand afkondig.”

Sy oproep is een van vele uit die kos- en drankvervaardigingsbedryf wat reeds sê die president behoort meer weermaglede te ontplooi en ’n noodtoestand uit te roep.

Meer oor:  Suikerriet  |  Plundering En Geweld  |  Noodtoestand  |  Onluste  |  Landbou  |  Suikerbedryf
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.