Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Sukkelende Group Five ‘byna klaar’ met dié bouwerk

Attacq, ’n genoteerde eiendomsbeleggingstrust (reit), kan dalk binnekort met ’n groot kopseer sit.

Dié maatskappy verhuur nie net kantoorspasie aan die konstruksiegroep Group Five nie, hy besit ook eiendom wat tans deur dié maatskappy gebou word.

Group Five het Dinsdag aangekondig dat hy in sakeredding geplaas is.

Lees ook: Group Five in sakeredding geplaas

Attacq het Dinsdagaand in ’n verklaring gesê Group Five huur tans 4 793 m² se kantoorspasie in Eglinstraat 2, Sunninghill, in die noorde van Johannesburg.

Group Five se kantore in Sunninghill, wat hom meer as R500 000 per maand kos. Foto: Elvira Wood

Group Five het tot laat in 2018 nog reusekantore in Waterfall, noord van Johannesburg, gehuur. Transnet huur tans dié spasie by Attacq sedert Group Five daar uitgetrek het.

Lees ook: Group Five: Van paleis tot huis

Luidens Attacq se verklaring beloop Group Five se huur vir dié spasie R528 333 per maand.

Group Five is ook tans betrokke by die ontwikkeling van vier geboue in die Waterfall-gebied.

Waterfall Point

Die Waterfall Point-ontwikkeling is die enigste van die vier projekte waarvan Attacq die alleeneienaar is.

Group Five behoort dié projek binne die volgende drie weke te voltooi. Daar is waarborge in plek om te verseker alle uitstaande werk word wel gedoen, volgens Attacq.

Waterfall Point word as ’n “kommersiële ontwikkeling” op Attacq se webwerf beskryf.

Deloitte-hoofkantoor

Wat betref die ander drie ontwikkelings, het Attacq in elke geval ’n 50%-belang.

Die grootste hiervan is die ouditfirma Deloitte se nuwe hoofkantoor wat reg langs die N1-snelweg ontwikkel word.

Dié gebou sal 21 250 m² beslaan wanneer dit voltooi is. Group Five en WBHO is vennote in die projek, elk met ’n 50%-belang in die ontwikkeling.

“WBHO het die reg om die hele projek oor te neem sou dit nodig wees,” sê Attacq in die verklaring.

Deloitte het op navraag van Netwerk24 gereageer en ook daarop gewys dat WBHO die projek kan oorneem.

“As Deloitte is ons in kontak met die ontwikkelaars en werk ons saam met hulle. Hulle is steeds verbind tot hul kontraktuele verpligtinge teenoor Deloitte.”

Deloitte sal na verwagting in April 2020 in dié gebou intrek. Sy hoofkantoor is tans in die Woodlands-kantoorpark in Woodmead.

Altron sal in Deloitte se ou kantore in Woodlands intrek. Atterbury Property besit die ander 50% van dié projek.

Volgens Atterbury is die geraamde waarde van Deloitte se nuwe hoofkantoor meer as R1 miljard.

Waterfall- korporatiewe kampus

Die tweede gebou wat deel vorm van dié kampus is basies klaar. Group Five moet glo nog net die laaste remediërende werk klaarmaak. Waarborge is ook in plek om te verseker die projek word voltooi.

Cummins Suid-Afrika se hoofkantoor

Cummins het reeds op 1 Maart in sy nuwe hoofkantoor ingetrek. Net soos in die geval van die korporatiewe kampus, is daar nog remediërende werk wat klaargemaak moet word. Waarborge is ook in plek om te verseker die projek word voltooi.

Attacq sê hy is reeds in gesprek met Group Five rakende die besluit om in sakeredding te gaan. Hy is ook in gesprek met die sakeredder “om die pad vorentoe te bestuur”.

Meer oor:  Deloitte  |  Group Five  |  Attacq  |  Wbho  |  Konstruksie  |  Infrastruktuur  |  Handelseiendom  |  Genoteerde Eiendom
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.