Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Sukkelende Pembury se stigter eis direksie se koppe
Andrew McLachlan, stigter van die groep, met die notering in 2017. Foto: Verskaf

Die tydelik geskorste stigter van die sukkelende aftreeoorde- en skolegroep Pembury Lifestyle het saam met lede van sy familie vir ’n buitengewone algemene vergadering gevra om die direksie nuut saam te stel.

Andrew McLachlan, die stigter en ’n groot aandeelhouer met 46,2% van die stemreg, het saam met Joan McLachlan, met 5,3% van die stemreg, en Jason Andrew McLachlan, met 2,8% van die stemreg, dié eis aan die direksie gestel.

Dit kom drie weke nadat McLachlan gevra is om tydelik verlof te neem hangende ’n ondersoek ná talle kwessies oor nakoming en korporatiewe beheer waaroor daar kommer is.

Dit was kort op die hakke van Willem Marais, finansiële hoof, se summiere bedanking in Januarie.

Die direksie het einde Januarie in ’n verklaring aan beleggers met verwysing na die bedanking gesê talle kommerwekkende kwessies ten opsigte van die uitvoerende hoof is onder hul aandag gebring.

Die direksie het ook gesê McLachlan probeer die besluit van die direksie teenstaan.

Daarna het sy eksterne ouditeure, Nexia SAB&T, vroeg in Februarie bedank.

Die groep het aan beleggers gesê dié bedanking hou verband met die bedanking van belangrike finansiële personeellede en die kommer wat geopper is oor nakoming en korporatiewe beheer.

’n Week later is beleggers ingelig Moore Stephens Inc, die voormalige ouditeure, het aansoeke ingedien vir die voorlopige likwidasie van die maatskappy en sy drie filiale, Pembury Schools, PLG Retirement Villages en PLG Properties.

Die groep het gesê hy gaan die aansoeke teenstaan omdat hy die ouditeursgelde wat Moore Stephens wil hef vir die oudit vir die boekjaar tot einde Desember 2018 betwis.

Die direksie het gesê ’n kennisgewing vir ’n buitengewone algemene vergadering sal binne tien werkdae uitgereik word volgens die noteringsvereistes van die JSE.

Fin24 het berig 2019 was ’n rowwe jaar vir die groep weens aantygings dat van sy skole in Gauteng nie geregistreer is by die departement van basiese onderwys nie. Die groep het in reaksie gesê die skole het hul aansoeke ingedien.

Die maatskappy, wat op die AltX genoteer is, se aandeelprys is 4c.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.