Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Sukkelende Tongaat wil stysel-afdeling verkoop
Die meule van Tongaat Hulett Starch in Bellville. Op sy webtuiste word gesê die meule is in 1949 gebou. Sowat 250 ton mielies word per dag gemaal. Dit is een van vier meulens wat die groep het, en die kleinste.

Die suikergroep Tongaat Hulett se aandeelprys het met 3% versterk nadat hy aangekondig het hy wil sy vervaardiger van stysel verkoop.

Die stysel-afdeling het die afgelope halfjaar tot einde September ’n inkomste van R1,8 miljard getoon en sy bedryfswins was R306 miljoen.

Dié bedryfswins was in die herstateerde halfjaarstate by verre die grootste in die groep, selfs groter as vir suiker.

Die groep het Donderdagoggend ’n nuwe omsigtigheidsverklaring uitgereik en sy aandeelhouers gemaan om versigtig met sy aandele handel te dryf weens die beoogde transaksie.

Die afdeling se naam is Tongaat Hulett Starch. Dit word op sy webtuiste beskryf as die grootste vervaardiger van stysel, glukose en verwante produkte in Afrika. Dit word vir klante oor die wêreld heen geproduseer en die grondstof is mielies.

Die produkte, wat by vyf meulens vervaardig word, word as bestanddele gebruik in die vervaardiging van voedsel.

Tongaat sê onderhandelinge is begin om die afdeling te verkoop.

Die groep het ook sy vorige omsigtigheidsverklaring teruggetrek wat in Maart verlede jaar uitgereik en einde Januarie hernu is, omdat dit nie meer enige “relevansie of uitwerking” op die maatskappy het nie.

Die aandele het eers Maandag weer begin verhandel nadat dit vir lank op die JSE opgeskort was. Dit is in Junie verlede jaar opgeskort op versoek van die direksie weens sy vertraging met die uitreiking van sy finansiële state en die ondersoek oor sy boeke wat aan die gang was.

Die direksie het toe gehoop die jaarstate vir die boekjaar tot einde Maart sal einde Oktober uitgereik word en die verhandeling in sy aandele dan of dalk vroeër sou kon hervat.

Die direksie het in Oktober, toe die jaarstate uitgereik is, aangekondig hy het die JSE versoek om die opskorting eers op te hef wanneer sy halfjaarstate uitgereik word. Dit is einde Januarie vanjaar uitgereik.

Sy aandeelprys het met 63% geval toe hy op 3 Februarie weer begin verhandel het.

Tongaat Hulett Starch het in 1919 ontstaan uit ’n maatskappy genaamd African Products Manufacturing Company Beperk. Sy eerste meule is in 1920 in Germiston, Gauteng, gebou.

Sy halfjaarresultate toon van sy herstateerde inkomste van R8,2 miljard in die halfjaar tot einde September het suiker R6,2 miljard bygedra en stysel R1,8 miljard.

Die herstateerde bedryfswins van suiker het R68 miljoen beloop, terwyl stysel R305 miljoen was.

Die verkope van stysel en glukose het met 4,5% tot 254 000 ton gestyg in die halfjaar.

“Die verkope het voordeel getrek uit die groter vraag van die dranksektor ná bemarkingsveldtogte aan klante, die voortgesette groei in die koffieverromersektor en die terugwen van markaandeel met glukose van ingevoerde glukose af.”

Meer oor:  Tongaat Hulett  |  Suikerbedryf  |  Verkoop  |  Maatskappye
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.