Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Survé dreig OBK wéér
Iqbal SurvéFoto: Argief

Iqbal Survé se Ayo Technology het vroeg Woensdagoggend uitgevaar teenoor Lindiwe Dlamini, waarnemende regshoof van die Openbare Beleggingskorporasie (OBK), oor haar uitlatings Dinsdag oor die maatskappy.

Dlamini het aan die parlement se staande komitee oor finansies gesê bewerings word nou ondersoek dat Survé se Sekunjalo-groep, wat ’n onregstreekse belang in Ayo het, planne het om die bate waarin die OBK belê het, te verkoop.

Sy het ook gesê die OBK oorweeg dit om aansoek te doen dat die bates bevries word aangesien daar kommer is dat dit oorsee geskuif kan word.

Die moontlikheid word ook oorweeg om vir die likwidasie van Sekunjalo aansoek te doen om die sowat R1 miljard terug te kry wat die OBK vroeër aan Sekunjalo geleen het om Independent Media te koop.

Ayo sê in ’n verklaring op die JSE se nuusdiens Sens hy “is ’n Suid-Afrikaanse maatskappy en werk onder die wette van Suid-Afrika en sal dieselfde proses as enige ander maatskappy moet volg wat fondse buite die land wil oordra deur aansoek vir goedkeuring by die Reserwebank te doen.

“Ayo wil bevestig dat hy nie ’n aansoek by die Reserwebank gedoen het om fondse na die buiteland oor te plaas nie en is ook nie van plan om dit te doen nie.

“Ayo het via sy prokureurs ’n brief aan die OBK gestuur met besonderhede van die verskillende rekeninge asook rekeningnommers van Suid-Afrikaanse banke waarin die fondse beskikbaar is,” lui die verklaring.

Fin24 berig dat Survé Dlamini 24 uur gegee het om “haar valshede in die openbaar reg te stel”.

Hy het verder gedreig dat sy groep “gepaste stappe sal doen” indien sy nie aan sy spertyd voldoen nie.

“Om te sê daar is enige basis waarop die OBK Sekunjalo kan likwideer, is bedrieglik, roekeloos en daarop gemik om ons besigheid te vernietig en te destabiliseer.

“Die opmerkings van vandag en die FSCA-aanval van verlede week hou verband met mekaar en is doelbewus ontwerp om Sekunjalo en myself maksimum skade te berokken,” sê Survé Dinsdagmiddag in ’n verklaring.

Om te sê daar is enige basis waarop die OBK Sekunjalo kan likwideer, is bedrieglik, roekeloos en daarop gemik om ons besigheid te vernietig en te destabiliseer.
Iqbal Survé

Die Gedragsowerheid vir die Finansiële Sektor (FSCA) het Woensdag ’n klopjag op die kantore van Sekunjalo in Kaapstad uitgevoer.

Survé het reeds aangedui hy gaan die FSCA hof toe neem vir ’n “blatante misbruik van mag”. Hy eis ook skadevergoeding.

Survé het Sondag in ’n artikel wat dié groep aanlyn gepubliseer het, gesê dat hy “bewyse” het dat Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, probeer om die kommissie van ondersoek na gebeure by die OBK te beïnvloed en dat hy wil hê die kommissie moet “nadelige bevindinge” maak oor sy maatskappye.

Volgens hom het Gordhan deel daarin gehad om toestemming vir die klopjag te gee. Gordhan en regter Lex Mpati, voorsitter van die kommissie, het reeds dié beweringe heftig ontken.

Daar word vermoed dat die klopjag verband hou met ’n ondersoek na die OBK se belegging in Ayo.

Daar is beweringe dat markte gemanipuleer is om ’n veel hoër waarde aan Ayo te heg as wat dit werklik was voordat die OBK oorreed is om daarin te belê.

Die OBK het in Desember 2017 R4,3 miljard in dié maatskappy belê toe dit op die JSE genoteer is.

Die OBK het destyds R43 per aandeel vir Ayo betaal. Dit verhandel tans op die JSE teen R5,60 per aandeel.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.