Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Survé lê klag oor ‘spioenasie uit apartheidsera’

’n Klag van spioenasie op dr. Iqbal Survé, sy ondernemings en hul bestuur is by die polisie aanhangig gemaak.

Dr. Iqbal Survé Foto: Argief

Die Sekunjalo Groep, wat onder voorsitterskap van Survé is, sê Maandag in ’n verklaring hy het “rede om te glo dat voormalige senior lede wat vir die “sekerheidstak in die apartheidsera” gewerk het en nou in diens van private speuragentskappe is, “kan agter die onwettige spioenasie sit”.

“In ondersoeke is die teenwoordigheid van hoogs verfynde meeluisterapparate gevind, asook die gebruik van militêre toerusting wat vir die aflaai van inligting, klank, beelde en tekste gebruik word,” lui die verklaring.

Sekunjalo het glo reeds in Junie ’n private speurder aangestel, wat gevind het dat Survé, sy familie, asook senior bestuurslede van Independent Media, Ayo Technology Solutions en African Equity Empowerment Investments (AEEI) onwettig afgeluister word.

“Survé, Sekunjalo en Independent Media beskou die onregmatige optrede nie net as ’n poging om Sekunjalo en Independent Media te destabiliseer nie, maar dit kan ook die lewensbestaan van duisende werknemers bedreig,” lui die verklaring.

Sekunjalo sê dit is nou die tweede strafregtelike klag wat hy by die polisie ingedien het.

Hy sê ’n eerste klag is ingedien nadat ’n “onbekende stof” in Survé se motor “geplant” is.

Survé het glo ook doodsdreigemente ontvang.

Survé kla lank reeds dat hy en sy maatskappye onregverdig beskuldig word van ongerymdhede wat by die Openbare Beleggingskorporasie (OBK) plaasgevind het.

Survé en sy maatskappye het sentraal gestaan in die kommissie van ondersoek na gebeure by die OBK wat in 2019 sy openbare sittings in Pretoria gehou het.

Bewerings is gemaak dat markte gemanipuleer is om ’n veel hoër waarde as die werklike aan Ayo te heg voordat die OBK oorreed is om daarin te belê.

Die OBK het in Desember 2017 R4,3 miljard in dié maatskappy belê toe dit op die JSE genoteer is.

Die OBK het destyds R43 per aandeel vir Ayo betaal. Dit verhandel tans op die JSE teen R5,75 per aandeel.

In Oktober 2019 het die Gedragsowerheid vir die Finansiële Sektor (FSCA) ’n klopjag op Sekunjalo se kantore in Kaapstad uitgevoer.

Die FSCA het later bevestig dat dit met die ondersoek na die OBK se belegging in Ayo verband gehou het.

Sekunjalo het die FSCA hof toe gesleep oor die klopjag en skadevergoeding geëis.

Survé meen die klopjag was ’n onderduimse manier om negatiewe aandag te vestig op die maatskappye waarby hy betrokke is.

Meer oor:  Aeei  |  Sekunjalo  |  Obk  |  Independent Media  |  Ayo  |  Iqbal Survé  |  Spioenasie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.