Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Survé moet voor OBK-kommissie getuig, eis DA
Dr. Iqbal Survé

Dr. Iqbal Survé moet voor die Mpati-kommissie van ondersoek na gebeure by die Openbare Beleggingskorporasie (OBK) getuig.

Alf Lees, DA-LP, skryf Maandag in ’n verklaring dié party het reeds ’n brief aan regter Lex Mpati, wat aan die hoof van dié kommissie staan, gestuur en gevra dat hy moet bevestig dat Survé wel getuienis voor die kommissie sal lewer.

Survé se familie het belange in Ayo Technology Solutions, African Equity Empowerment Investments (AEEI) en Independent Media.

Die OBK word erg gekritiseer oor sy besluit om R4,3 miljard in Ayo te belê kort voor sy notering in Desember 2017.

Die OBK het aandele teen R43 elk bekom.

Ayo se aandele verhandel Maandagoggend teen net R18,50 op die JSE.

Die OBK se grootste kliënt is die staatsdienspensioenfonds (GEPF).

Die herrie rondom hoe die OBK beleggings bestuur het, het laat in Januarie tot die skorsing van twee werknemers gelei.

Victor Seanie, assistentportefeuljebestuurder van die OBK en Fidelis Madavo, die OBK se hoof van genoteerde beleggings, is spesifiek vir hul betrokkenheid by dié transaksie geskors.

Lees ook: Só het OBK geknoei om in Ayo te belê

Die hele direksie van die OBK het kort hierna bedank nadat drie lede van korrupsie beskuldig is.

Die Sunday Times het Sondag berig dat Survé dié geld as sy “spaarvarkie” gebruik het.

Survé het Maandagoggend in Business Report, wat deur Independent Media besit word, teruggekap en gesê dié beweringe is onwaar.

Lees het in reaksie op al dié gebeure gesê dit is nou van groot belang dat Survé self getuienis voor die Mpati-kommissie moet lewer.

“Indien nodig, moet hy gedagvaar word om te verskyn,” sê Lees in die verklaring.

Lees sê verder van die bewerings wat gemaak word is dat Survé die opdrag gegee het dat R1,5 miljard van die R4,3 miljard wat die OBK in Ayo belê het in ’n spesiale fonds gestort moet word sodat sou Ayo se bankrekeninge gesluit word soos wat die geval met die Guptas se bankrekening was, die maatskappy steeds toegang tot fondse sou hê.

Ayo moes ook glo R1,5 miljoen van dié geld gebruik om te betaal sodat Survé die Wêreld- Ekonomiese Forum se jaarlikse beraad einde Januarie in Davos, Switserland, kon bywoon.

Lees sê hy vermoed dat sou Survé wel geroep word om getuienis te lewer, hy daarop gaan aandring dat dit in camera gebeur waar die media nie daaroor kan berig nie.

Hy sê gegewe die omvang van die inligting wat reeds oor Survé en Ayo na vore gekom het en die duidelike invloed wat dit “op staatsamptenare en pensioenarisse het, is dit noodsaaklik dat hy nie net getuienis voor die OBK-kommissie lewer nie, maar dat hy in ’n oop sessie getuig”.

“Die Iqbal Survé/Ayo-spaarvarkie moet gesluit word en dringende stappe moet deur die OBK geneem word om die R4,3 miljard wat onwettig deur die OBK in Ayp belê is, te verhaal voordat die fondse na geheime plekke geskuif word.”

Die kommissie hervat sy sittings op 25 Februarie in Pretoria.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.