Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Survé reageer heftig ná Woensdag se klopjag
Dr. Iqbal Survé gedurende sy getuienis voor die kommissie van ondersoek na gebeure by die Openbare Beleggingskorporasie.

Iqbal Survé, voorsitter van Independent Media, het Donderdag in ’n verklaring op The Cape Times se voorblad die klopjag op sy beleggingsgroep Sekunjalo se kantoor as ’n “intimidasie-taktiek” beskryf.

Die klopjag is Woensdag deur die Gedragsowerheid vir die Finansiële Sektor (FSCA) uitgevoer. Die FSCA het later in ’n verklaring gesê hy het die klopjag uitgevoer as deel van ’n ondersoek oor beweerde verbode aandeelverhandeling ingevolge die Wet op Finansiële Markte.

Survé sê in die verklaring hy is “diep geskok” deur die gebeure toe die FSCA en die polisie toegeslaan het op Sekunjalo Investment Holdings en African Equity Empowerment Investments (AEEI) se kantore in Kaapstad.

Hy sê die “indringers” het sonder kennisgewing opgedaag met die opdrag om rekenaars en hardeware te konfiskeer onder die “voorwendsel van inligting wat gekry moet word oor onreëlmatige verhandeling deur die maatskappye met betrekking tot die aandele van Ayo Technology Solutions”.

Ayo en AEEI is albei genoteer.

Hy het in die verklaring namens Sekunjalo gepraat en sê daar is niks verkeerd met die maatskappy se sakepraktyke of etiek nie. Hy meen dieselfde geld AEEI.

Hy het nie namens Ayo gepraat nie omdat hy nie op die maatskappy se direksie of deel van die bestuurspan is nie.

Volgens hom is die FSCA se klopjag net nog ’n manier om negatiewe aandag te vestig op die maatskappye waarby hy betrokke is.

Hy meen dit hou verband met die verslaggewing van Independent Media en dien as ’n poging om dit te “beheer”.

Hy beskryf dit ook as ’n manier om hom te intimideer deur ’n toenemend “desperate groep trawante” in die politiek wat baat vind uit korrupsie en die plundering van staatskoffers.

Volgens hom sou hulle die dokumente vrywillig aan die FSCA oorhandig het indien daar gevra is.

Hy beweer ook daar is ’n groot belangebotsing met betrekking tot die voorsitter van die FSCA, Abel Sithole, omdat hy ook die uitvoerende hoof is van die staatsdiens se pensioenfonds (GEPF).

Die geld van die GEPF is deur die Openbare Beleggingskorporasie (OBK) in Ayo belê.

Die belegging was vanjaar in die soeklig by die kommissie van ondersoek oor beweerde ongerymdhede by die OBK.

LEES OOK: OBK-ondersoek: 10 dinge wat jy (solank) moet weet

“Ek glo vas dit is ook ’n onderduimse poging om inligting te kry oor ons saak teen die OBK en die GEPF,” sê Survé.

Die kommissie van maatskappye en intellektuele eiendom (CIPC) het vroeër vanjaar ’n kennisgewing aan Ayo uitgereik om die belegging terug te gee. Die hof het die kennisgewing nietig verklaar, skryf hy in die verklaring.

Hy het nie in die verklaring sy beskuldiging herhaal dat Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, iets met die klopjag te doen het omdat Independent Media die naweek ’n berig oor hom gaan publiseer nie.

Dit is Woensdag in ’n video gesê wat aangeheg was aan ’n berig van Business Report wat aan The Cape Times behoort.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.