Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Survé se Ayo is kontrak met Sasol kwyt
Sasol se hoofkantoor in Sandton, Johannesburg.Foto: Elvira Wood

Sasol het ’n kontrak ter waarde van R2,3 miljard met dr. Iqbal Survé se Ayo Technology Solutions gekanselleer.

Ayo is die tegnologiefiliaal van African Equity Empowerment Investments (AEEI), beleggingsbeheermaatskappy waarin Survé se Sekunjalo Investment Holdings die grootste aandeelhouer is met ’n belang van 61%.

Amabhungane berig dat toe Ayo in Desember in die verslag oor sy tussentydse resultate berig het dat ’n “beduidende kliënt ’n IKT meesterdienskontrak wat in Mei 2018 gesluit is wil kanselleer” het dit die waarskuwingsligte laat flikker.

Hoewel nie Ayo óf Sasol wou bevestig dat dit dié kontrak is nie, wys Amabhungane daarop dat al die datums waarna daar in die tussentydse resultate verwys word, presies ooreenstem met dié wat Ayo self oor die transaksie gepubliseer het.

Die beskrywing van Sasol as “beduidende kliënt” aan wie ’n “IKT meesterdienskontrak” verskaf word, stem ook woord-vir-woord ooreen met hoe die transaksie in ’n berig beskryf word wat in koerante wat aan Independent Media behoort in 2018 gepubliseer is.

Independent Media word óók deur Survé beheer.

Luidens Ayo se finansiële verslag het “die kliënt” reeds op 1 Oktober kennis gegee dat hy ses maande kennis gee dat hy die kontrak beëindig.

Dit is vyf jaar korter as wat die kontrak sou duur.

Die deel in Ayo se tussentydse resultate waarna hy na die kansellasie van ’n kontrak met ’n “beduidende kliënt” verwys.Foto: Skermgreep

“Ayo betwis die beduidende kliënt se reg om die ooreenkoms te kanselleer. Op grond van die dispuut het Ayo hom kragtens die ooreenkoms op die arbitrasieproses beroep en verwag dat die saak in die eerste kwartaal van 2020 verhoor sal word.

Dit was juis hierdie spesifieke kontrak met Sasol wat luidens getuies voor die kommissie van ondersoek na gebeure by die Openbare Beleggingskorporasie (OBK), die groot rede was hoekom dié korporasie prosesse aan die einde van 2017 gesystap het om R4,3 miljard in Ayo te belê as deel van sy notering op die JSE.

Lufuno Nemagovhani, hoof van interne oudits by die OBK, het in Januarie 2019 voor die kommissie onder voorsitterskap van regter Lex Mpati, getuig dat ’n roetine-oudit gewys het dat dr. Dan Matjila, voormalige uitvoerende hoof van die OBK, die belegging goedgekeur het nog vóórdat die transaksie aan die beleggingskomitee van die korporasie voorgelê is.

LEES OOK: Skok-getuienis oor OBK se belegging in Ayo

Die OBK het R43 per aandeel betaal. Sedertdien het Ayo se aandeelprys tot R1,31 geval.

Volgens Iress is die huidige markwaarde van Ayo R450,8 miljoen.

Die transaksie met Sasol, was volgens getuienis voor die Mpati-kommisie, dan ook die groot dryfveer wat Ayo gesê het sal help om ’n belang van 30% in British Telecom SA van sy eie moedermaatskappy African Equity Empowerment Investments (AEEI) te bekom.

Survé se Sekunjalo Investment Holdings besit ’n belang van 60% in AEEI.

Hoewel Ayo en Sasol wel die kontrak wat sewe jaar sou duur gesluit het, het die belegging in BTSA nooit gerealiseer nie.

Ayo het reeds in Mei 2019 aangekondig dat hy beplan om die OBK vir “wat na verwagting miljarde rande sal wees” dagvaar.

Die maatskappy het in ’n verklaring gesê dat hy “genoeg gehad het van die aantygings van bewerings wat op hoorsê en foutiewe feite gegrond is en deur middel van ’n rampspoedige propaganda-oorlog wat deur baie van die Suid-Afrikaanse media gevoer word, aan die mark deurgegee word.”

Die OBK het op sy beurt op 29 Mei ’n aansoek by die hooggeregshof in Kaapstad ingedien waarin hy vra dat Ayo beveel moet word om die R4,3 miljard terug te betaal.

Hy het ook in Oktober ’n aansoek by die hof ingedien om Sekunjalo te laat likwideer.

Meer oor:  Sekunjalo  |  Obk  |  Sasol  |  Ayo  |  Openbare Beleggingskorporasie  |  Iqbal Survé
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.