Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Survé se Ayo wil OBK ‘vir miljarde’ dagvaar
Foto:

Die miljardêr dr. Iqbal Survé se tegnologiemaatskappy Ayo Technology Solutions wil die Openbare Beleggingskorporasie (OBK) vir “wat na verwagting miljarde rande sal wees” dagvaar.

Die maatskappy sê Donderdag in ’n tipies strydlustige verklaring hy het nou “genoeg gehad van die aantygings van bewerings wat op hoorsê en foutiewe feite gegrond is en deur middel van ’n rampspoedige propaganda-oorlog wat deur baie van die Suid-Afrikaanse media gevoer word, aan die mark gevoer word.”

Hy sê die OBK is welkom om die howe te nader indien hy glo dat die maatskappy wel iets verkeerd gedoen het.

By navraag blyk dit egter dat dié verklaring ’n reaksie is op regstappe wat die OBK teen Ayo gedoen het.

Deon Botha, hoof van korporatiewe sake by die OBK, sê die OBK het op 29 Mei dokumente by die hooggeregshof in Kaapstad ingedien waarin hy Ayo dagvaar om die R4,3 miljard wat hy in Desember 2017 in hom belê het, terug te betaal.

Die OBK sê hy sal die aandele wat hy met dié geld gekoop het, dan weer aan Ayo teruggee.

Botha sê verder in die verklaring die korporasie se eis is daarop gegrond dat Ayo ’n wanvoorstelling geskep het toe hy die OBK genader het om in hom te belê. Hy sê ook daar is wettige aspekte van die transaksie wat betwis word.

“Die dagvaarding is op dieselfde dag [29 Mei] deur die balju by Ayo se geregistreerde adres bedien. ’n Afskrif van die dagvaarding is ook by Ayo se prokureurs afgelewer.”

Verskeie getuies het die afgelope vier maande voor die kommissie, met regter Lex Mpati aan die hoof daarvan, getuig hoe die OBK na bewering sy eie prosedures verontagsaam het toe ’n belegging van R4,3 miljard in Desember 2017 in Ayo goedgekeur is.

Daar is ook vrae gevra oor die waardasie van die maatskappy wat daartoe gelei het dat die OBK R43 per aandeel betaal het.

Siphiwe Nodwele, voormalige beleggingshoof van Ayo, het voorheen getuig dié maatskappy was waarskynlik eerder net R1 miljard werd ten tyde van sy notering en nie R14,8 miljard soos wat die amptelike waardasie was nie.

Van Ayo se werknemers het ook getuig dat die maatskappy se boeke bekook is.

Dit het die aandag van die JSE getrek, wat op 10 April gevra het dat Ayo ’n ouditmening van sy 2018- en 2019- ongeouditeerde tussentydse resultate bekom.

Malick Salie, beleggingshoof by Ayo, het vroeër in Mei voor die kommissie erken dat die markwaarde van die maatskappy voor sy notering in Desember 2017 “opgemaak” was.

Salie het verder getuig die oudit wat tans in opdrag van die JSE gedoen word, het foute met Ayo-syfers uitgelig, maar ook dat sy inkomste uit rente van R25 miljoen nie ingereken was nie.

Ayo ontken egter steeds die beweringe.

“Die betreurenswaardig kommentaar van Mondli Gungubele, voorsitter van die OBK, en verskeie ander amptenare van die instansie wat nou die openbare domein binnedring, het die reputasie van Ayo ernstig geskaad,” sê die maatskappy Donderdag in sy verklaring.

“Die OBK het die besigheid van Ayo en sy eie belegging in dié maatskappy benadeel.

“Verder het die gedrag van die OBK en voormalige uitvoerende beamptes van Ayo wat onlangs voor die kommissie van ondersoek na gebeure by die OBK getuig het, die gevolg gehad dat Ayo aansienlike probleme ondervind met die afhandeling van transaksies. Hy ervaar ook probleme om sy besigheid ongehinderd te doen. Dit het Ayo, sy werknemers, kliënte, aandeelhouers, adviseurs en sakeverhoudings beduidend benadeel.”

Survé het voorheen alle aantygings in sy getuienis voor die kommissie ontken.

Survé se familietrust besit Sekunjalo, wat weer ’n belang van 61,5% in African Equity Empowerment

Investments (AEEI) besit. AEEI besit weer ’n 49,3%-belang in Ayo.

Ayo verhandel tans teen R12,00 op die JSE.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.