Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Swak bestuur kos Prasa miljarde, gaan nou na e-tol
Die hoofkantoor van Sanral se afdeling vir e-tol in Midrand, Gauteng. Foto: Elvira Wood

Swak bestuur by die Passasierspooragentskap (Prasa) wat daartoe lei dat hy nie sy begroting bestee nie, is hoekom die tesourie nou R2 miljard van sy begroting na dié van die Nasionale Padagentskap (Sanral) gaan skuif.

Die geld gaan glo gebruik word om Sanral te help om sy e-tol skuld te betaal.

Dit is volgens die tesourie wat vrae oor dié voorstel in ’n e-pos aan Netwerk24 beantwoord het.

Rapport het Sondag berig dat dié voorstel gemaak is in ’n wetsontwerp oor toewysings wat verlede week in die parlement bespreek is.

“Die geld is verskuif weens Prasa se onvermoë om sy begroting te bestee wat noodsaaklik is vir die opgradering en modernisering van die spoornetwerk. Dit is deels weens ’n gebrek aan kapasiteit, maar hoofsaaklik weens slegte korporatiewe bestuur in die verlede.

“Prasa het teen Mei R18 miljard onbestede kapitaal op sy balansstaat gehad,” sê die tesourie in dié e-pos.

Die tesourie het bevestig dat dié voorstel gemaak is.

“Dit vorm deel van die wetsontwerp oor toewysings en dus die staat se oorhoofse begroting. Dit is nie sommer net ’n willekeurige wetsontwerp wat nou voorgestel word nie.

“Dit is deel van die hoofbegroting wat die minister van finansies in Februarie in sy begrotingsrede uiteengesit het.”

Die tesourie sê dit maak bloot nie sin om geld ongebruik in Prasa se begroting te los terwyl Sanral onder groot finansiële druk is nie.

Die tesourie het ook bevestig dat hy R3 miljard op ’n soortgelyke manier in die vorige boekjaar ook van Prasa na Sanral geskuif het.

Sanral skuld bykans R11 miljard vir e-tol. Die grootste rede vir dié skuld is omdat motoriste bloot weier om hul tolgeld te betaal.

Die debat oor wat van e-tol in Gauteng moet word, het die afgelope weke baie aandag geniet nadat David Makhura, Gautengse premier, in sy provinsiale rede gesê het dit sál geskrap word.

Tito Mboweni, minister van finansies, het egter op Twitter teruggekap en gesê dat dit net so sal bly en dat die verbruiker moet opdok.

Die bekgeveg tussen Makhura en Mboweni oor dié kwessie het daartoe gelei dat pres. Cyril Ramaphosa moes ingryp.

Ramaphosa het opdrag gegee dat Fikile Mbalula, minister van vervoer, Mboweni en Makhura teen einde Augustus met ’n voorstel na die kabinet moet kom oor hoe die probleem opgelos kan word.

Vusi Mona, woordvoerder van Sanral, het Sondag op ’n navraag deur Netwerk24 gereageer en gesê hulle weet niks van die tesourie se planne met die geld nie.

Meer oor:  Prasa  |  Tesourie  |  Sanral  |  Cyril Ramaphosa  |  David Makhura  |  Tito Mboweni  |  Treine  |  E-Tol
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.