Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Swak skuld by Nedbank styg tot R7,6 mjd.
Nedbank se hoofkantoor in Sandton, Johannesburg. Foto: Argief

Nóg een van Suid-Afrika se groot banke sê kliënte se swak skuld het drasties weens die Covid-19-pandemie gestyg.

Nedbank sê in die ses maande tot einde Junie het swak skuld met 202% tot R7,675 miljard teenoor ’n jaar gelede gestyg.

Dié bedrag sluit egter in R2,9 miljard se voorsiening vir swak skuld wat moontlik gedurende die tweede helfte van die huidige boekjaar sal ontstaan.

Die bank sê vlak 3-skuld, oftewel skuld wat na verwagting glad nie betaal gaan word nie, het met 42% gestyg.

Dié styging in swak skuld het die groep se kredietverliesverhouding op bruto lenings en voorskotte aan kliënte en banke – teenoor die vorige 0,7% – tot 1,94% verhoog.

Net soos in die geval van Standard Bank en Absa het waardeverminderings weens swak skuld skerp in Nedbank se afdeling vir kleinhandel en sakebankdienste gestyg.

Voorsiening vir swak skuld in dié afdeling het met 122% tot R4,836 miljard gestyg.

Swak skuld in sy afdeling vir korporatiewe en beleggingsdienste het met meer as 100% tot R2,38 miljard gestyg.

Hulp

Nedbank sê dat hy teen 30 Junie reeds skuldverligting op skuld van R119 miljard aan kliënte gegee het.

Dit sluit skuldverligting op R30,5 miljard se skuld in sy afdeling vir korporatiewe en beleggingsbankdienste, R7,1 miljard in sy welvaartafdeling en R2,6 miljard vir kliënte in die res van Afrika (buite Suid-Afrika) in.

Nedbank sê hy het meer as 375 000 kliënte gehelp.

Die bank het ook R1,2 miljard se lenings goedgekeur as deel van die staat se gewaarborgde leningskema.

Syfers

Nedbank se inkomste het in die ses maande teenoor ’n jaar tevore met 2% tot R23,361 miljard gedaal.

Sy verwaterde wesensverdienste per aandeel het met 69,2% tot R4,34 gedaal.

Geen dividend is uitgekeer nie.

Nierente-inkomste het met 5,1% tot R12,2 miljard gedaal. Dit was hoofsaaklik omdat minder transaksies gedurende die staat van inperking uitgevoer is.

Dié syfer, wat onder meer bankkoste insluit, is vir banke belangrik omdat dit daarop dui dat mense bankdienste minder of meer gebruik.

Hiervan het kommissie en bankkoste met 9,2% tot R8,243 miljard gedaal.

Nie net het minder mense transaksies by Nedbank uitgevoer nie, hy het ook ’n beduidende aantal kliënte verloor.

Verloor kliënte

Oor die algemeen het die bank nou 2,65 miljoen kliënte wat hul salarisse by Nedbank bank. Dit is 8,8% minder as ’n jaar gelede.

Die bank het ook ’n daling van 25% gesien in die aantal kinders en jong mense wat rekeninge by hom het.

Net soos in die geval van mense wat by Standard Bank en Absa bank, het Nedbank se kliënte ook probeer om geld te spaar waar hulle kon.

Deposito’s by Nedbank het met 8,8% tot R944 miljard gestyg.

Deposito’s in die afdeling vir korporatiewe en beleggingsdienste het met 11,6%, in kleinhandel- en sakedienste met 4,2%, welvaart met 26,5% en in die res van Afrika met 19,2% gestyg.

Kliënte het egter ook meer geld by die bank geleen.

Lenings en voorskotte het in totaal met 6,8% tot R808 miljard gestyg.

Nóg een van Suid-Afrika se groot banke sê kliënte se swak skuld het drasties weens die Covid-19-pandemie gestyg.. Foto: Getty Images

Die bank sê die grootste deel van dié groei was in sy afdeling vir korporatiewe en beleggingsdienste, waar kliënte geld gebruik het in kredietfasiliteite wat reeds toegestaan was.

Lenings en voorskotte in dié afdeling het met 9,9% tot R383 miljard gegroei.

Lenings en voorskotte in die afdeling vir kleinhandel- en sakebankdienste het met net 0,8% tot R365 miljard gegroei.

’n Groot rede vir dié daling was dat daar veral gedurende April min aansoeke vir huislenings en voertuigfinansiering was.

Nedbank sê aansoeke in April vir huislenings het met 30%, vir voertuigfinansiering met 17% en vir persoonlike lenings met 38% gedaal.

Net soos by ander banke het Nedbank veral gedurende die staat van inperking, ’n groot toename in die gebruik van sy digitale bankdienste ervaar.

Aktiewe gebruikers van dié dienste het gedurende die ses maande met 8% tot 1,85 miljoen gegroei.

Nedbank sê sy Money-app is ook tot dusver reeds 5,5 miljoen keer afgelaai. Meer as 900 000 kliënte gebruik dit op ’n gereëlde grondslag.

Sy nuwe Avo-app, wat gebruikers toegang gee tot basiese dienste soos gesondheidsorg en dienste vir herstelwerk by huise, is sedert die bekendstelling op 19 Junie deur 45 000 kliënte afgelaai. Meer as 750 ondernemings het reeds hierop geregistreer om dienste aan kliënte te lewer.

Nedbank se aandele het Woensdagoggend net meer as 1% laer op R111,00 op die JSE verhandel.

Meer oor:  Nedbank  |  Resultate  |  Banke  |  Bankbedryf  |  Covid-19  |  Bankwese
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.