Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Swakker JSE laat Sanlam sweet

Die vrot prestasie van die plaaslike aandelebeurs tot dusver vanjaar is te sien in die handelsverslag wat die finansiëledienstegroep Sanlam Woensdag uitgereik het.

Ian Kirk, uitvoerende hoof van Sanlam.Foto:

Sanlam verwag nie enige groot verbeterings in handelstoestande vir die res van sy boekjaar nie.

Sy genormaliseerde wesensverdienste het in die tien maande tot einde Oktober met 10% gedaal, wat volgens Sanlam toe te skryf is aan ’n 55%-daling in beleggingsopbrengs.

Die JSE se Swix-indeks het in die tien maande tot Oktober ’n negatiewe opbrengs van -16% gelewer teenoor ’n positiewe opbrengs van 15% in dieselfde tydperk in 2017.

Sanlam het in dié tydperk sy nuwe sakevolumes met net 3% tot R188 miljard laat groei in vergelyking met dieselfde tien maande van 2017.

Aandeelhouers het nie van Sanlam se syfers gehou nie en sy aandeelprys op die JSE was Woensdagmiddag 3,7% laer op R77,10.

Teen einde Junie het Sanlam nog ekstra kapitaal van sowat R10 miljard gehad, maar hy het dit alles gebruik om vir die verkryging van die oorblywende belang in die pan-Afrika-groep Saham Finances te betaal. Sanlam beskryf dit as die grootste transaksie in sy geskiedenis van 100 jaar, en dit gee hom ’n unieke voetspoor en mededingende voordeel in Afrika.

Die opbrengs op die voorgestelde bemagtigingstransaksies wat Sanlam onlangs aangekondig het, sal gebruik word om korttermynskuld terug te betaal wat ook in die Saham Finances-verkryging gebruik is. Dit sal ook gebruik word om sy kapitaalportefeulje “tot ’n toepaslike vlak te herstel”.

Sanlam-aandeelhouers vergader op 12 Desember om oor die bemagtigingstransaksies te stem.

Sanlam sê hy is tevrede met die vertoning van sy verskillende afdelings in die tien maande tot einde Oktober, gegewe die swak ekonomiese toestande en die wisselvallige internasionale beleggings- en valutamarkte.

Sanlam Persoonlike Finansies se nuwe sake het met 7% gegroei, met herhalende premies wat met meer as 20% gegroei het (hoewel met net 7% as die bydrae van BrightRock uitgesluit word).

Die afdeling se netto bedryfswins het in die tien maande met 5% gegroei.

Sanlam Sky se nuwe sake het met 80% gegroei danksy ’n sterk vraag na begrafnis- en lewensversekeringspolisse wat Sanlam vir Capitec-bank se kredietkliënte bied. As Capitec-sake en die impak van die tweejaarlikse hernuwing van die skema vir die Zionist Christian Church uitgesluit word, het Sanlam Sky se verkope met 10% geklim.

Sanlam Sky vorm deel van Sanlam se lewensversekeringsaanbod.

By die Sanlam Investments Group het nuwe sakevolumes met 10% gedaal. Die afdeling is geraak deur die onttrekking van R8,5 miljard van ’n passiewe beleggingsportefeulje met laer winsmarges wat namens ’n institusionele kliënt bestuur is.

Die totale netto invloei van fondse was 5% hoër op R36,2 miljard.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.