Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Swart mense besit nét 25% van SA firmas
swart ekonomiese bemagtiging
Swart mense besit 'n belang van net 25% in Suid-Afrikaanse maatskappye. Foto: Unsplash

Dink jy die aandeelhouding van swart Suid-Afrikaners in ondernemings het die afgelope jaar toegeneem?

Nie waar nie, lui die tweede verslag van die kommissie oor breë swart ekonomiese bemagtiging. Dié kommissie se mandaat is om nakoming van die Wet op Breë Swart Ekonomiese Bemagtiging te monitor. (Sien ook grafika hiernaas.)

Hy het ’n konsortium van drie maatskappye opdrag gegee om die verslag op te stel, wat gegrond is op die jaarlikse verslae wat genoteerde maatskappye, staatsinstellings en openbare ondernemings kragtens die wet moet indien, asook die sertifikate oor bemagtiging wat deur agentskappe wat ondernemings se bemagtigingstatus verifieer, ingedien word.

Van die belangrikste bevindinge is:

  • Swart eienaarskap was in 2018 gemiddeld 25,2%, minder as die 27% in 2017;
  • Die eienaarskap van swart vroue het effens toegeneem, van 9% tot 10,1%; en
  • Net 38% van genoteerde maatskappye se direksies word deur swart persone beheer; onveranderd teenoor 2017.
Swart belange te laag

Luidens die verslag laat swart belang in genoteerde maatskappye veel te wense oor. Sowat die helfte van die ondernemings wat verslae ingedien het, se swart eienaarskap is laer as 25%.

Die inligting wat elektronies op die webtuiste van die kommissie ingedien word, wys die landbousektor het die meeste groot ondernemings wat geen swart aandeelhouers het nie, gevolg deur die vervoer- en die finansiële sektor.

Hoe werk die punte?

Breë swart ekonomiese bemagtiging word ingevolge die wet gemeet aan verskillende elemente, soos eienaarskap, bestuursbeheer, vaardigheidsontwikkeling, voorkeuraankope, ondernemingsontwikkeling en maatskaplik-ekonomiese ontwikkeling.

Elke element dra ’n verskillende gewig. Afhangende van die punte wat vir elke onderafdeling behaal word, skuif die onderneming na ’n sekere bemagtigingstatus. Die hoogste status is vlak 1.

Aandeelhouding, vaardigheidsontwikkeling en ondernemingsontwikkeling word as prioriteite beskou.

swart ekonomiese bemagtiging

Al die teikens

Op grond van al die elemente waaraan ondernemings se bemagtigingstatus gemeet word – dus nie net eienaarskap nie – het die bemagtigingstatus van die deelnemers in geheel effens verswak.

Die goeie nuus is egter dat die persentasie genoteerde ondernemings met bemagtigingstatus van vlak vier of beter, met amper 11 persentasiepunte verbeter het teenoor 2017 – van 40% tot 50,9%.

Die persentasie genoteerde ondernemings wat tussen vlak 5 en nienakoming val (dus die onderste vlakke), het ook skerp afgeneem van 60% in die vorige jaar tot 44,5%.

Die verslag beveel aan dat die kommissie boetes gebruik om maatskappye te dwing om hul verslae in te dien, soos die wet vereis.

Luidens die verslag wys die data tot sy beskikking hoe stadig transformasie steeds plaasvind. Dan is daar ook baie maatskappye wat glad nie eens verslae indien nie. “Die swak verslagdoening en die stadige pas van verbetering in die elemente van breë bemagtiging wek kommer,” lui die verklaring.

Die verslag beveel aan dat die kommissie boetes gebruik om maatskappye te dwing om hul verslae in te dien, soos die wet vereis.

Ten opsigte van aandeelhouding word aanbeveel dat dit deel word van die JSE se noteringsvereistes dat genoteerde maatskappye hul swart aandeelhouding openbaar en dat boetes vir nie-openbaarmaking gehef word.

So vaar genoteerdes

Die genoteerde ondernemings wat verslae ingedien het, het met 25% tot 161 toegeneem.

Dit beloop egter net 43% van die ondernemings wat op die JSE genoteer was in die oorsigtydperk.

Van die verslae wat wel ingedien is, het 63 nie die spertyd gehaal nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.