Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Swart Vrydag: Woolies neem vir 1ste keer ook deel

Dis 2 dae voor Swart Vrydag. Ons hou jou op hoogte van winkels se spesiale aanbiedinge. Ons sal dié berig bywerk soos wat nog nuus ontvang word, so hou dit dop van nou tot 23 November!

  

Woolworths

 

Woolworths neem vanjaar vir die eerste keer aan Swart Vrydag deel.

Die kleinhandelaar se spesiale aanbiedings geld van Swart Vrydag tot Kubermaandag (26 November).

Met 50%-afslag op goedere in drie afdelings – mode, skoonheid en tuis – kan verbruikers ook munt slaan uit die gratis aflewering van goedere wat op die aanlyn winkel gekoop is. Dit geld vir aankope van minstens R475.

Woolworths wil die voordele van Swart Vrydag deur sy Give Back Friday-inisiatief uitbrei.

Vir elke transaksie oor die naweek waar verbruikers hul Woolworths-, MySchool-, MyVillage- of MyPlanet-kaart gebruik, sal Woolworths ’n bykomende persentasie aan sy FoodForward SA-inisiatief skenk. Hy mik om deur dié inisiatief op Kersdag 2,5 miljoen maaltye aan minderbevoorregtes te voorsien.

Op Swart Vrydag kan verbruikers verder uitsien na spesiale ervarings in winkels landwyd, soos gratis Swart Vrydag-sap en -lekkernye, gratis mini-mooimaaksessies en skoonheidskonsultasies in sy skoonheidsafdeling.

Pick n Pay

   

Pick n Pay begin reeds Donderdag landwyd by hipermarkte met sy spesiale Swart Vrydag-aanbiedings en verbruikers kan afslag van tot 60% op yskaste, televisies, kombuistoestelle en swembadprodukte verwag.

Pick n Pay stel voor dat verbruikers vroeg in die ry val omdat daar beperkte voorraad is en elke kliënt ook net ’n beperkte aantal items mag aanskaf.

Van die spesiale aanbiedings wat uitstaan, is:

Vir die huis:

  • R7 999 vir ’n Defy-dubbeldeur-yskas van 740 liter- (bespaar R3 000);
  • R8 999 vir ’n 55 duim-UHD- LG-slimtelevisie (bespaar R3 000);
  • R3 999 vir ’n Sizzler 500-gasbraai van vlekvrye staal plus ’n gratis bedekking en ’n 50 liter-koelboks van Big Jim Royal Blue (bespaar R1 399); en
  • R219 vir 8 kg HTH droë swembadchloor (bespaar R80).

Vir die kinders:

  • R4 999 vir ’n PlayStation 4-konsole plus drie gratis speletjies en twee draadlose kontroles (bespaar R1 000);
  • R3 499 vir ’n 1 teragreep Xbox One S-konsole plus gratis draadlose kontrole (bespaar R3 500); en
  • R699 vir ’n Monterra- 16 duim- of 20 duim- Ranger BMX-fiets (bespaar R300).

Op Swart Vrydag self maak alle Pick n Pay-winkels hul deure om 06:59 oop met verdere spesiale aanbiedings wat tot Sondag 25 November sal duur.

Pick n Pay se aanlyn winkel bied reeds sedert 5 November weekliks spesiale aanbiedings aan en sal op Vrydag 23 November om 00:01 sy eksklusiewe aanlyn aanbiedings bekend maak wat tot Sondag 25 November beskikbaar sal wees.

Klante moet www.pnp.co.za dophou vir inligting oor aanbiedinge en inskryf op die nuusbrief oor Swart Vrydag om kennisgewings daaroor te kry.

      

Takealot

Takealot gaan minder produkte op Swart Vrydag te koop hê, maar sê die beste handelsname vir tegnologie tel daaronder.

Hoekom het Takealot vanjaar byna 5 000 minder produkte op afslag op Swart Vrydag?

Die winkelgroep sê hy fokus vanjaar eerder op die gehalte van die transaksies as op die getal transaksies.

Hy het vanjaar meer as 10 000 produkte op afslag teenoor meer as 15 000 produkte verlede jaar.

Julie-Anne Walsh, hoof van bemarking, sê in ’n verklaring Takealot besef in die huidige taai ekonomiese tye is Suid-Afrikaners nog meer bewus van pryse as voorheen.

“Ons weet klante gaan rondsoek na die beste pryse, so ons het moeite gedoen om vanjaar goeie produkte teen goeie pryse te kry.”

Walsh sê net in die eerste uur van Swart Vrydag 2017 het Takealot.com 280% meer besoekers gekry as die vorige jaar. In dié uur is produkte ter waarde van R6 miljoen verkoop.

Teen 14:00 die middag was produkte ter waarde van R12 miljoen verkoop en meer as R87 miljoen aan die einde van die dag.

“Dit is ons grootste dag van die jaar om nuwe klante te lok,” sê sy.

Takealot verwag die getal besoekers aan sy webwerf gaan vanjaar op Swart Vrydag met 75% toeneem en dat die verkope meer as dubbeld sal wees.

Terwyl die meeste kleinhandelaars nog van tot 50%-afslag praat, beplan Takealot.com om pryse op sekere items met tot 60% te sny.

Walsh sê die Blue Dot-uitverkoping begin Vrydagoggend 23 November en duur tot 27 November. Nuwe aanbiedings gaan oor die hele naweek beskikbaar word, waaronder op Kubermaandag en Takealot Dinsdag. Hy sny sy pryse op sekere items met tot 60%.

Volgens Walsh is spesiale aandag daaraan gegee om goeie aanbiedings op tophandelsname te bied. Afslagpryse word ook op sommige van die beste verkopers van die afgelope jare aangebied.

“Ons het fenomenale aanbiedings op bekende rekenaarspeletjies en soos altyd sal televisies en ander toestelle gewilde verkopers wees.”

Klante kan ook goeie pryse op skoonheidsprodukte en speelgoed verwag.

        

Superbalist

        

Die aanlyn modewinkel Superbalist.com (wat Spree onlangs ingeslut het) brei vanjaar sy Swart Vrydag uit na vyf dae, van Vrydag 23 November tot Dinsdag 27 November, sê Klyne Maharaj, sy handelsnaamhoof.

Hy beloof dit gaan die grootste Swart Vrydag nóg vir modes in Suid-Afrika wees.

“Dit gaan die grootste een nog wees vir Superbalist met aanbiedinge op van die voorste handelsname en oor ’n wye reeks kategorieë wat nie misgeloop kan word nie.”

  • Wenk aan verbruikers: Bou nou al jou wenslysie op van die produkte wat jy op Swart Vrydag wil koop. Dit help jou “trollie” om op Swart Vrydag vinniger by die betaalpunt te kom en te betaal.
  • Nog ’n wenk: Laai die app voor die tyd af omdat sommige aanbiedings net op die app beskikbaar gaan wees. Verbruikers kan ook op die Superbalist Showdown Facebook-blad inteken of op die nuusbrief om kennisgewings oor aanbiedings te kry.

Takealot en Superbalist is soos Netwerk24 in die Naspers-stal.

TFG

      

Robyn Cooke, hoof van TFG se e-handel, meen Kubermaandag kan vanjaar selfs groter wees as Swart Vrydag omdat betaaldag vir baie mense op Maandag val.

TFG het die afgelope jare 40% van sy verkope vir die naweek op Swart Vrydag gehad en 22% op Kubermaandag.

TFG het in Mei vanjaar ’n peiling onder sy Facebook-volgelinge oor Swart Vrydag gedoen en 79% het gesê hulle is dol op dié dag.

Van die redes hiervoor is:

  • Enorme besparings in moeilike ekonomiese tye;
  • Items wat gewoonlik onbekostigbaar is, kan aangekoop word; en
  • Geskenke kan teen afslag gekoop word.

TFG het op 7 November sy 17 kettingwinkels (onder meer Sportscene, Markham, @home, Foschini, Totalsports, Exact, The FIX en Donna) aanlyn op een platform – www.myTFGworld.com – bekend gestel.

Cook sê hul aanbod skop om middernag op Donderdag 23 November af en duur tot middernag op Maandag 27 November.

Shoprite en Checkers

     

Trek jou plat skoene aan en wees gereed... Swart Vrydag begin vanjaar vroeg.

Die Shoprite-groep sê pryse gaan weer met tot 50% op sekere produkte, waaronder kruideniersware, elektroniese produkte, klein toestelle en speelgoed gesny word by sowel Shoprite as Checkers.

“Die afgelope jare is daar ’n groter vraag na winskopies op elektroniese produkte en toestelle op Swart Vrydag, maar gegewe die huidige ekonomiese toestande, glo ons klante sal afslag op algemene verbruikersprodukte verwelkom.

“Ons aanbiedinge vanjaar is versigtig gekies om verbruikers werklike, wesenlike besparinge te gee en ons het maande vooruit begin beplan hieraan.”

Makro

            

Makro het ook op sy webwerf, www.makro.co.za, klante ’n voorsmakie gegee van wat hulle kan verwag oor sy Swart Vrydag-aanbod wat hy nou Black5Day noem omdat sy aanbod oor vyf dae strek. Dit sluit in dat afleweringskoste R70 gaan wees en dat 10%-afslag op items in die winkels gekry kan word wat nie op promosie is nie.

Clicks

        

Só belowe Clicks spesiale aanbieding vir sy aanlyn kliënte.

Susann Caminada, woordvoerder van Clicks, sê al die gewildste gesondheid-, skoonheid-, babaprodukte en elektriese toestelle gaan vooraf in ’n Pre-Black Friday Extravaganza van 16 tot 25 November aanlyn beskikbaar wees. Dié winskopies sal van 23 tot 25 November in winkels wees.

“Swart Vrydag is ’n geleentheid om ons ClubCard-lede te wys hoe ons hulle waardeer. Kontant terug gaan vroeër opgelaai word op die kaarte sodat ClubCard-lede kan beplan vir die aanbiedinge.”

Clicks beloof tamaai afslag van tot 70% op sekere tegnologie en toebehore; tot 50% op skoonheidsprodukte en huishoudelike goedere; tot 40% op gesondheidsprodukte en tot 30% op babaprodukte.

Die aanlyn aanbod is net vir ClubCard-lede. Die aanbod kan op Clicks se Facebookblad gekry word of op clicks.co.za/brands/blackfriday.

Wat ontleders oor Swart Vrydag sê

        

“Wat duidelik is, is dat Swart Vrydag nou ’n massiewe veldtog vir kleinhandelaars is. Of hulle daarvan hou of nie, dit raak al hoe moeiliker om te ignoreer,” sê Kali Moahloli, kommersiële hoof van markinsig vir die digitale marknavorser GfK in Suid-Afrika.

“Met verbruikers onder druk, sal vervaardigers en kleinhandelaars versigtig moet beplan om ’n deel van hierdie krimpende besteebare inkomste te kry.”

Casparus Treurnicht, portefeuljebestuurder van Gryphon Batebestuur, verwag ook vanjaar strawwe mededinging op Swart Vrydag.

Die Swart Vrydag-verskynsel – wat eintlik oor die hele naweek tot Kuber Maandag strek, en vir sommige kleinhandelaars selfs langer – is ’n bemarkingstrategie waardeur klante na fisieke en aanlyn winkels gelok word met groot afslag op sommige items. “Daarná maak hulle gewone wins of selfs meer op ander items wat nie op afslag is nie.

“Die gevolg is dat mense heelwat items vooruit aanskaf (vir Kersfees) en derhalwe kan geen mededinger agterbly sonder ’n Swart Vrydag-aanbod nie.”

Moahloli sê weens Swart Vrydag skuif verbruikersbesteding weg van Desember. “Met Swart Vrydag-verkope wat ’n al hoe groter deel van November in beslag neem, is dit belangrik dat kleinhandelaars die geleentheid aangryp en nie net meer op Desember staatmaak vir verkope nie.”

Hy sê kleinhandelaars en vervaardigers hoop om die sukses van verlede jaar te herhaal wat die beste Swart Vrydag tot dusver in Suid-Afrika was, veral vir elektroniese produkte.

“Ten spyte van die swak handelstoestande word goeie groei in verkope verwag, veral in kategorieë soos platskermtelevisies en slimfone wat verlede jaar yslike verkope gehad het.”

Meer oor:  Pick N Pay  |  Clicks  |  Shoprite  |  Checkers  |  Makro  |  Takealot  |  Swart Vrydag  |  Kleinhandelaars  |  Kleinhandel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.