Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Swart Vrydag: TV’s, toiletrolle vlieg in VS, N-Kaap

Vrystaters en Noord-Kapenaars was op Swart Vrydag vroeg uit die vere om hul trollies te laai met winskopies vir onder meer televisiestelle, yskaste, toiletrolle, koffie, sjokolade, pap, speelgoed en skoene.

Mense oor die land heen het op Swart Vrydag, minder as ’n maand voor Kersfees, na winkels gestroom om hul hartsbehoeftes en -begeertes teen goedkoper pryse uit te snuffel. Sommige het maande lank hiervoor gespaar.

Mense staan tou op Swart Vrydag om by Sportscene in die Loch Logan-waterfront in Bloemfontein in te kom. Foto: Mlungisi Louw

Die vriendinne Mangaka Mokoena, Kelebogile Lekapa en Mantinki Mathipe van Bloemfontein het sedert Januarie gespaar vir dié dag waarop hulle minstens twee trollies stampvol gepak het in die Checkers Hyper in Fleurdal, Bloemfontein. Saam het hulle R4 000 vir hoofsaaklik noodsaaklike kruideniersware begroot.

Chantelle Horn, wat ’n haarsalon in die stad besit, het onder meer vier pakke toiletrolle van 18 elk by dié supermark gekoop.

Ook in Checkers het Mia Kruger (5) van Hanover in die Noord-Kaap knus in die trollie tussen minstens vier kleurvolle sagte speelgoed gesit. Drie bokse babapoppe het in die ander trollie by haar ma, Johanna, gelê.

Mense soek op Swart Vrydag verwoed na winskopies by Sportscene in die Loch Logan-waterfront in Bloemfontein.Foto: Mlungisi Louw

Hoeveel het die Krugers vir dié dag begroot? “Baie,” sê Johanna en vertel hulle moet Mia nog na die speelgoedwinkel neem. Pa Coenie het twee van die drie trollies gestoot waarin onder meer koffie vir Afrika, tonne sjokolade en sjokolade-melkies was.

By Game in Fleurdal het Fussi Tjemolane gesukkel om die 58-duim-platskerm-TV in haar trollie te kry. Sy het R14 000 vir Swart Vrydag gespaar en sou die volle bedrag gebruik.

By die Loch Logan-waterfront in die stad was daar ’n ellelange ry by die sportwinkel Sportscene waar mense verwoed na goedkoper luukse skoene en klere gesoek het. Dit was ook moeilik om die stert van die rye by betaalpunte te vind.

Mense staan Vrydagoggend in ’n lang ry en wag vir Makro in Bloemfontein om sy deure oop te maak.Foto: André Damons

Kort voordat Kloppers om 07:30 sy deure geopen het, was daar nie veel mense by sy ingange nie.

Mel Mulder, Kloppers-woordvoerder, sê daar was nie ’n toestroming van mense nie, omdat Swart Vrydag reeds Woensdag hier begin het en mense ook aanlyn kon koop.

Steva Klopper, direkteur van Kloppers, het gesê verkope het egter vroegoggend reeds veel beter as verlede jaar dieselfde tyd gelyk.

Mense staan Vrydagoggend in ’n lang ry en wag vir Makro in Bloemfontein om sy deure oop te maak. Foto: André Damons

Thabo Mvula, ’n vragmotorbestuurder van Rocklands, Bloemfontein, het vir Vrydag verlof ingesit.

Mvula, wat voor in die tou by Makro buite Bloemfontein was, sê hy het reeds net ná 02:00 by Makro aangekom nadat hy by Game was.

“Daar was te veel mense by Game. So toe kom ons hierheen. Ek is baie bly ek was eerste hier in die ry.

“Ek het ’n TV, verf en ’n klankstelsel nodig. Miskien kan ek die groot TV kry wat ek soek. Ek het in Januarie vir vandag begin spaar,” sê hy.

Mony Thomas van Bloemfontein het speelgoed vir haar seuntjie, Theo (4), en susterskind Chanic (11 maande) by Toys R Us gekoop. Foto: André Damons

Mvula het later met ’n yskas op sy winkeltrollie en ’n groot glimlag in die winkel rondgeloop.

Mony Thomas, wat met ’n trollie vol speelgoed by die speelgoedwinkel Toys R Us by College Square in Bloemfontein geloop het, sê sy beplan al maande vir Swart Vrydag en die speelgoedwinkel was haar eerste stop.

“Ons gaan tot die einde van die dag koop. Ek koop vir my seuntjie (Theo, 4) en my susterskind (Chanic, 11 maande).

“Albei verjaar in Januarie. Swart Vrydag help ons. My begroting is aanpasbaar, jy moet maar oopkop wees,” sê sy.

Die Krugers van Hanover in die Noord-Kaap stap op Swart Vrydag met drie trollies uit die Checkers Hyper in die Fleurdal-winkelsentrum in Bloemfontein. Van links is ma Johanna, pa Coenie en Mia Kruger (5).Foto: Mlungisi Louw

In Kimberley was daar Vrydagoggend nie veel rye voor die winkels nie, hoewel die kasregisters druk besig was. Winskopiejagters het reeds Donderdagmiddag begin om hul mandjies by winkels, wat toe reeds winskopies aangebied het, te vul.

By Game het mense meesal met TV-stelle, yskaste, plastiekstoele, koelhouers en wasgoedmandjies weggeloop. Iemand het selfs ’n potspeltafel gekoop en op sy motor se dak vasgebind.

Abul Hossian en Fokhrul Islam van Boshof is baie tevrede met die geld wat hulle op ’n TV-stel bespaar het.

Charles en Johanna Boje van Kimberley was vroegoggend reeds by Checkers en Pick n Pay om margarien, koffie, suiker, olie en vla te koop.

“Die koffie was vandag R50 per blik, gewoonlik is dit R80 of R90,” sê Charles.

Bridgette Dinku het baie geld gespaar by Game. Sy het koelbokse, mandjies, ’n strykyster en Explora DStv-dekodeerder gekoop en daarmee R500 gespaar.

Verslagspan: André Damons, Marita Herselman en Charné Kemp

Die vriendinne Mangaka Mokoena, Kelobogile Lekapa en Mantinki Mathipe het saam R4 000 vir Swart Vrydag begroot. Hulle is hier in die Checkers Hyper in die Fleurdal-winkelsentrum in Bloemfontein. Foto: Mlungisi Louw
Bridgette Dinku op Swart Vrydag in Kimberley. Foto: Charné Kemp
Abul Hossian en Fokhrul Islam van Boshof het Swart Vrydag in Kimberley gehou. Foto: Charné Kemp
Meer oor:  Vrystaat  |  Noord-Kaap  |  Swart Vrydag  |  Verkope  |  Maatskappye
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.