Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Swart Vrydag: Winkels wil mense só veilig hou

Sommige winkelgroepe wat hul aanbiedings vir Swart Vrydag oor die afgelope maand verleng het om stormlope en groot groepe mense in die pandemie te voorkom, stel ook die naweek langer handelsure vir hul klante in.

As gevolg van die verlengde promosies die afgelope maand verwag winkelgroepe dat daar minder mense as verlede jaar in hul winkels sal wees.

  

Game: Langer ure, maar geen middernag-opening

Andrew Stein, hoof van Game, sê hulle het juis hul promosies die hele November lank aangebied om Suid-Afrikaners meer geleentheid en tyd te gee om dit benut. Hulle het hul handelsure van Woensdag af verleng.

Honderde mense staan verlede jaar tou om inkopies op Swart Vrydag by Checkers te doen. Dit was voordat Covid-19 ’n faktor was. Foto: Argief

Game se gebruiklike middernagtelike opening van winkels vir Swart Vrydag is gekanselleer.

Stein sê Game se klante het egter duidelik laat blyk dat hulle van 25 November af verkies om in winkels inkopies te doen.

“As ’n verantwoordelike kleinhandelaar doen ons alles wat ons kan om te verseker dat die winkels veilig is en genoeg voorraad het.”

Bykomende voorraad van die gewildste produkte op promosie is verkry. Dit sluit in opblaasmattrasse, yskaste, skootrekenaars en tuisteaters.

Nog ’n voorsorgmaatreël is dat dieselfde Swart Vrydag-promosies aanlyn as in die winkels aangebied word. Die promosies vir Swart Vrydag is al op 24 November om middernag aanlyn geopen.

Die meeste Game-winkels is al van Woensdag af landwyd tot Swart Vrydag op 27 November van 06:00 tot 20:00 oop.

Dit gaan Saterdag van 08:00 tot 18:00 oop wees en Sondag 29 November van 09:00 tot 17:00.

“Dit sal klante tyd gee om vóór en ná werk inkopies te doen om groot skares in die gewone handelstye te vermy.”

Hy sê die maatreëls wat ingestel is tydens die inperking geld steeds – naamlik handontsmettingsmiddels by die ingange, plekke in die winkel waaraan klante baie vat, word gereeld ontsmet, die verpligte dra van maskers deur die personeel en die klante, asook die nodige beskermende kleredrag vir personeel.

Die voorraad ontsmetmiddels is vir die besige Swart Vrydag en die feestyd aangevul.

Omdat verbruikers meer tyd by die huis deurbring weens die pandemie, het die verkope van huisware vanjaar teenoor verlede jaar skerp gestyg. Die Retailers’ Liaison Committee se marknavorsing toon dat dié verkope sedert die begin van die jaar tussen 11% en 25% jaar tot jaar gestyg het.

Volgens Stein is dit dus nie verrassend nie dat huisware die afgelope maand met promosies vir Swart Vrydag die beste verkopers was. Dit sluit in verf, braai- en kampeertoerusting, elektroniese produkte soos LED-televisies en groot toestelle soos wasmasjiene, yskaste en vrieskaste.

  

Shoprite, Checkers: Meer veiligheidspersoneel aangestel

Shoprite en Checkers het gesê hulle het ook vir die eerste keer hul Swart Vrydag-promosies vroeër en oor verskeie dae in plaas van net op een dag aangebied.

Bykomende veiligheidspersoneel sal waar nodig in die winkels ontplooi word.

Toegang sal indien nodig beperk word om te voorkom dat die winkels te vol raak

“Deurdat die promosies vroeër oor verskeie dae aangebied is, verwag Shoprite en Checkers dat minder mense Vrydag as in vorige jare in die winkels sal wees omdat hulle meer tyd kry om inkopies te doen.”

“Maatreëls om die skare te beheer, is egter in plek en die toegang sal indien nodig beperk word om te voorkom dat die winkels te vol raak.”

Die gebruiklike maatreëls vir streng higiëne en ontsmetting is in plek om die klante en die personeel te beskerm. Maskers moet ook te alle tye gedra word. Daar is oral handreinigers en gesonde afstande moet gehandhaaf word.

  

Pick n Pay: Promosies is versprei in winkels

John Bradshaw, hoof van bemarking van Pick n Pay, sê die winkelgroep het maande lank nou saamgewerk met verskaffers om “aansienlik meer voorraad vir die groot promosies te kry”.

“Ons het verskeie proaktiewe stappe gedoen om te voorkom dat die winkels te vol raak. Dit behels onder meer dat ons Swart Vrydag-promosies oor twee weke verleng is en Maandag begin het.”

Makro en ander winkels probeer stormlope verminder deur Swart Vrydag oor ’n langer tyd te rek.

Sekere winkels gaan ’n uur vroeër om 07:00 open.

Bradshaw sê die winkelgroep het ook sy aanlyn opsies verbeter sodat klante alle Swart Vrydag-promosies vir aflewering vir die volgende dag of binne ’n uur deur die Bottles-app kan bestel.

Hy sê alle winkels gaan streng maatreëls volg om hul personeel en klante veilig te hou. Dit sluit in om die getalle mense in winkels te beperk, trollies wat voor gebruik ontsmet word, die ontsmetting van hande wanneer klante die winkels binnegaan, die ontsmetting van betaalpunte en afgemerkte gebiede op die vloer sodat mense ’n veilige afstand kan handhaaf. Al die winkels word ook elke nag dieper ontsmet.

“Ons gaan die naweek meer personeel by deure kry en ’n hoogs georganiseerde ry hou om almal veilig te hou.”

Volgens hom is die promosies ook binne die winkels versprei om verder fisieke afstande tussen die klante te verseker.

  

Makro: Jy hoef nie te wag nie

Ook Makro se Swart Vrydag-promosies strek oor vier weke van die begin van November af tot 29 November. Die promosies is elke week verander en dit is bemark as “Jy hoef nie te wag vir Swart Vrydag nie”.

  

TFG: 21 dae se promosies

Die klerekleinhandelaar The Foschini Group (TFG) het gesê ook sy Swart Vrydag-aanbod is verleng en die eerste handelsnaam het al op 16 November begin met promosies en die laaste promosie sal op 6 Desember eindig. Dit gee klante 21 dae om van die groep se promosies in die hande te kry.

Behalwe Foschini, besit TFG besit ook Markham, @home, Sportscene, Totalsports, Exact, Duesouth en Fabiani.

Alle winkels bly waaksaam en sal die Covid-19-regulasies nakom. TFG is veral sensitief vir die brandpunte in die Oos- en Wes-Kaap.

“Alle winkels bly waaksaam en sal die Covid-19-regulasies nakom.

“TFG is veral sensitief vir die brandpunte in die Oos- en Wes-Kaap. Ons het nakomingsbeamptes in elke winkel aangestel wat die getalle klante en personeel monitor om seker te maak dat deeglike handontsmetting by die deure plaasvind, maskers korrek gedra word en sosiale afstande behou word.”

Die getal klante in die winkels sal ook beperk word.

Die groep moedig klante aan om aanlyn inkopies op die 20 webwerwe van sy verskillende handelsname te doen.

Die winkelure sal ooreenstem met die winkelsentrums se winkelure, het ’n woordvoerder gesê.

Die promosies geld terwyl voorraad hou.

  

Mr Price: Klante word streng getel  

Mr Price-groep sê baie moeite is gedoen om te verseker dat al sy winkels aan die Covid-19-veiligheidsprotokolle voldoen.

“Ons het die maksimum getal klante vir elke winkel bereken gegrond op hoe groot die winkel is sodat die nodige afstande gehandhaaf word. Dit sal by die winkels se ingange beheer word, waar ons personeel toegerus is met ’n app op ’n iPad wat besoekers tel en seker sal maak dat die toegangsbeheer naatloos en maklik gaan plaasvind.”

Volgens ’n woordvoerder het die groep ook tydens die naweek van die maandeinde in Oktober ’n toetslopie gedoen om die prosesse te toets.

“Personeel het ook opnuut opleiding gekry om hul kennis op te knap oor die Covid-19-protokolle, die aanwysings wat nodig is soos vloerplakkers vir gesonde afstande in ons rye en ons het voldoende ontsmettingsmiddels beskikbaar.”

Die meeste winkels sal vroeër as normaal open (sommige al 06:00) terwyl ander later in die aand sal oopbly, solank daar klante in die winkels is.

Die groep het op Woensdag 25 November sy Swart Vrydag-promosies begin sodat sy klante drie dae tyd het om hul inkopies te gaan doen om ook enige opeenhoping in die winkels te voorkom.

Winkelure sal afhang van die individuele winkel se handelspatrone. “Die meeste winkels sal egter vroeër as normaal open (sommige al 06:00) terwyl ander later in die aand sal oopbly, solank daar klante in die winkels is.”

Die aanlyn winkel is ook ’n opsie en het dieselfde promosies as in die winkels.

Die groep is nie bekommerd oor voorraad nie en is tevrede met sy voorraadvlakke. “Swart Vrydag word nie deur ons gebruik as ’n uitverkoping van ou voorraad nie en klante kan vars en nuwe modes vir die somer in ons winkels en aanlyn verwag.”

  

Ackermans

Ackermans gaan ook sy handelsure verleng. Die getal klante gaan by die deure beperk word. Personeel het spesiale opleiding gekry om winkels voor te berei en al die stappe in werking te stel om klante so veilig moontlik te hou. Dubbel soveel handreiniger as normaalweg is ook na sy winkels gestuur. 

  

Pep: Geen Swart Vrydag

Pep het gesê hy het verlede jaar aan Swart Vrydag deelgeneem in sy klerewinkels, maar weens Covid-19 besluit om dit nie vanjaar te doen wat sy klere en skoene betref nie. Swart Vrydag-promosies word wel vir drie weke op sy selfoonprodukte aangebied.

“Dit gaan dus ’n gewone maandeinde vir Pep in alle provinsies wees. Ons sal Vrydag ons gewone handelsure hê.”

Die winkels handhaaf steeds dieselfde veiligheidsmaatreëls wat sedert die begin van die inperking geld.

Meer oor:  Tfg  |  Pick N Pay  |  Shoprite  |  Checkers  |  Makro  |  Mr Price  |  Game  |  Swart Vrydag  |  Kleinhandelaars  |  Kleinhandel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.