Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Sygnia: ‘Daar is niks fout met ons boeke nie’
Wierzycka
Magda Wierzycka, uitvoerende hoof van Sygnia.

Sygnia verseker sy eie resultate is bo verdenking en is nie die rede waarom sy verhouding met Deloitte, wat onlangs as sy eksterne ouditeur bedank het, verbrokkel het nie.

Die batebestuursfirma het sy stilte verbreek ’n hele week nadat hy ’n storm veroorsaak het met die aankondiging dat Deloitte bedank het.

Die maatskappy het in antwoord op vrae gesê Deloitte het in die afgelope 12 maande “geen aanmeldbare onreëlmatighede” met Sygnia se resultate by die JSE aangemeld nie.

Sygnia sê hy volstaan by die feitelike akkuraatheid van sy Sens-verklaring verlede Woensdag oor die aanloop tot Deloitte se bedanking.

Deloitte het juis die feitelike akkuraatheid van die Sens-verklaring in twyfel getrek, hoewel Deloitte nog nie sy weergawe openbaar gemaak het nie.

Albei maatskappye wag nou op die uitslag van die JSE-ondersoek wat Sygnia met sy Sens-verklaring ontketen het.

John Burke, die JSE se direkteur van uitreiker-regulering, het verlede week gesê die JSE moet vasstel of enige van die twee partye vir aandeelhouers gejok het en of daar nie-voldoening aan enige aspek van die Wet op Finansiële Markte was. Na gelang van wat bevind word, kan Sygnia ’n sanksie (gewoonlik net ’n openbare aankondiging) of ’n boete opgelê word.

Burke sê hulle kan nie sê hoe lank die ondersoek gaan duur nie.

“Ons respekteer die JSE se prosesse en vertroulikheid, en het die instelling van die relevante ondersteunende dokumente verskaf sodat die JSE die saak kan beoordeel,” sê Sygnia in Woensdag se verklaring.

“Sygnia se direksie het die Sens-verklaring goedgekeur, en staan agter die feitelike akkuraatheid daarvan.”

Die verklaring sluit af: “Sygnia se kernbeginsels van integriteit, deursigtigheid, billikheid en gelykheid vir alle Suid-Afrikaners rugsteun elke sakeverhouding wat ons het, hetsy met ’n kliënt, personeellid of diensverskaffer.”

Yolisa Tyantsi, hoof van korporatiewe kommunikasie en reputasiebestuur by Deloitte, het verlede week aan Netwerk24 gesê Deloitte sal nie verder kommentaar lewer voordat die interaksie met die JSE oor die saak gefinaliseer is nie.

Sygnia se kernbeginsels van integriteit, deursigtigheid, billikheid en gelykheid vir alle Suid-Afrikaners rugsteun elke sakeverhouding wat ons het, hetsy met ’n kliënt, personeellid of diensverskaffer.

Wie het wat gesê?

Sygnia het Woensdag in ’n Sens-verklaring gesê Deloitte is op 5 Junie ingelig dat die firma ’n ander ouditeur soek en dat die beëindiging van Deloitte se kontrak op 13 Junie op ’n vergadering deur die direksie se ouditkomitee bekragtig sou word, waarna Deloitte op 11 Junie bedank het.

Sygnia beweer sy direksie het reeds op 21 Mei op ’n direksievergadering besluit om ’n alternatiewe eksterne ouditeur te soek gegewe “onbevredigende interaksie met Deloitte”, maar ook weens die “reputasierisiko wat met die firma verband hou”.

Daarna het Deloitte teruggekap met die volgende kommentaar: “Ons glo (Sygnia se) Sens bevat sekere feitelike onakkuraathede met betrekking tot die omstandighede van ons bedanking. Hoewel Deloitte die hoogste vlakke van etiese gedrag en kliëntevertroulikheid handhaaf, is ons van mening dat dit in dié geval verstandig sal wees om die ware feite te gee. Ons beoog om dit weldra te doen.”

Die reputasierisiko waarna Sygnia verwys, hou waarskynlik met Deloitte se rol as die ouditeur van Tongaat Hulett verband. PwC doen tans ’n forensiese ondersoek na die suikermaatskappy se boeke in wat as potensieel ’n tweede Steinhoff beskryf word. Tongaat se aandeleverhandeling op die JSE is verlede Maandag op versoek van die firma opgeskort tot Oktober, wanneer hy na verwagting sy 2019-resultate en herstateerde 2018-resultate gaan uitreik.

Magda Wierzycka, uitvoerende hoof van die batebestuursfirma, was die afgelope weke baie uitgesproke op Twitter oor die rol van private ouditeure. Deloitte was jare lank Steinhoff se eksterne ouditeur terwyl beweerde bedrog oënskynlik onder sy neus gepleeg is voordat dit in die 2017-resultate raakgesien is.

Sygnia soek nou vir die tweede keer in minder as twee jaar ’n nuwe eksterne ouditeur. Sygnia het KPMG in 2017 afgedank weens dié ouditfirma se betrokkenheid by sogenaamde staatskaping in sy rol as ouditeur van die Guptas se Linkway Trading.

Meer oor:  Deloitte  |  Sygnia  |  Magda Wierzycka  |  Maatskappye
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.