Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Sygnia, Deloitte se paaie skei ná boekhou-skandaal

Sygnia is vir die tweede keer in minder as twee jaar op soek na ’n nuwe eksterne ouditeur.

Magda Wierzycka, uitvoerende hoof van Sygnia.

Die maatskappy het pas op Sens aangekondig sy paaie gaan skei met dié van Deloitte. Deloitte is aangestel in die plek van KPMG, wat Sygnia in Augustus 2017 laat gaan het as sy eksterne ouditeur.

Volgens die Sens-verklaring het Sygnia se direksie op ’n direksievergadering op 21 Mei besluit om ’n alternatiewe eksterne ouditeur te soek gegewe “onbevredigende interaksie met Deloitte”, maar ook weens die “reputasierisiko wat met die firma verband hou”.

Dit kom nadat boekhou-ongerymdhede by die suikerfirma Tongaat Hulett ontdek is wat as ’n tweede Steinhoff beskryf word. Deloitte was ook Steinhoff se ouditeurs.

Bernard Agulhas, uitvoerende hoof van die Onafhanklike Reguleringsraad vir Ouditeure (Irba), het verlede week gesê Irba wil Deloitte ondersoek oor Tongaat se boeke.

Sygnia sê Deloitte is op 5 Junie ingelig dat die firma ’n ander ouditeur soek en dat die beëindiging van Deloitte se kontrak op 13 Junie op ’n vergadering die direksie se ouditkomitee bekragtig sou word, waarna Deloitte op 11 Junie self bedank het.

Yolisa Tyantsi, Deloitte se hoof van reputasiebestuur in Afrika, sê die maatskappy lewer nie kommentaar op verhoudinge met kliënte nie. Sy was egter nie bewus van Sygnia se Sens-verklaring en die aantyging dat Deloitte ’n reputasierisiko inhou nie. Verdere vrae is aan Deloitte gestuur, maar die maatskappy het later slegs as volg gereageer: “Ons glo (Sygnia se) Sens bevat sekere feitelike onakkuraathede met betrekking tot die omstandighede van ons bedanking. Hoewel Deloitte die hoogste vlakke van etiese gedrag en kliëntevertroulikheid handhaaf, is ons van siening dat dit in dié geval verstandig sal wees om die ware feite te gee. Ons beoog om dit weldra te doen.”

Magda Wierzycka, uitvoerende hoof van die batebestuursfirma, is uitgesproke teen staatskaping. Sygnia was in Augustus 2017 die eerste firma wat KPMG as sy eksterne ouditeur afgedank het.

KPMG was die ouditeurs van Linkway Trading, een van die onderneming van die Gupta-familie.

Hierna het tientalle groot firmas KPMG se dienste beëindig.

Mcebisi Jonas, voormalige adjunkminister van finansies toe hy vroeër vanjaar voor die Zondo-kommissie na staatskaping getuig het. Foto: Deaan Vivier

Twee weke gelede het Sygnia bekend gemaak sy bates onder bestuur en administrasie het van einde Maart ’n jaar gelede skerp met 26% of sowat R48 miljard tot R228,1 miljard gestyg.

Die direksie skryf dit toe aan “die positiewe publisiteit wat die sterk, aktivistiese standpunt teen korrupsie vir die Sygnia-handelsnaam meegebring het”, asook die deursigtige gelde wat hy op sy beleggingsprodukte hef.

“Sygnia se kostedoeltreffende digitale bemarkingsveldtog en sy openbare standpunt teen korrupsie wat ingeneem is in ’n tyd waar ander maatskappye stilgebly het, het tot die verhoging in bewustheid oor die handelsnaam gelei,” het Wierzycka in ’n verklaring gesê.

Sygnia het verlede jaar vir Mcebici Jonas vir sy direksie verkies. Jonas is die voormalige minister van finansies vir wie die Gupta-familie glo in 2015 die pos as minister van finansies in Nhlanhla Nene se plek aangebied het. Hy het geweier.

Sedertdien was Jonas en Pravin Gordhan, wat later sy minister geword het, gereeld op verhoë landwyd aan die woord teen staatskaping.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.