Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Tabak, plaaslike sigarette nou gewilder as vóór verbod

’n Klein vervaardiger van snuif, rol- en pyptabak was een van die grootste wenners van die verbod op die verkoop van sigarette wat ingestel is in ’n poging om die verspreiding van die koronavirus te bekamp.

Suid-Afrikaners het in grootmaat oorgeslaan na plaaslike tabakprodukte na die staat van inperking se verbod op sigarette. Foto: Argief

Baie mense wat dalk nie sigarette op die swartmark kon bekostig nie, het na tabak oorgeslaan.

Volgens ’n nuwe peiling wat prof. Corné van Walbeek en sy span van die Universiteit van Kaapstad se navorsingseenheid oor die ekonomie van aksynspligtige produkte (Reep) oor sigaretverkope gedoen het, het 38% van respondente iets anders as sigarette begin rook weens die verbod. Baie het meer as een produk uitprobeer.

Van hulle het:

  • 56% hul eie sigarette begin rol;
  • 32% het e-sigarette of verhitte tabakprodukte begin gebruik; en
  • 16% het pyptabak begin rook.

Maar dit lyk asof die alternatiewe vir baie mense heel lekker was, want Afroberg Tobacco Company, vervaardiger van Boxer- en Best Blend-tabak, het sy markaandeel met meer as 406% verhoog van voor die verbod tot nou. Dié maatskappy se markaandeel het van net 0,5% voor die verbod tot 2,4% in September opgeskiet.

Ander wenners weens die verbod was plaaslike sigaretvervaardigers soos Carnilinx (met handelsname soos JFK en Atlantic), Gold Leaf Tobacco (Chicago, Sharp, Rudland & George), Best Tobacco Company (Caesar) en Pacific Cigarette Company (Remington Gold).

Plaaslike vervaardigers se produkte was betreklik geredelik op die swartmark beskikbaar.

As geheel het hul markaandeel van 26,3% voor die verbod op tabakverkope op 27 Maart tot 34,5% in September gestyg. Die verbod is op 15 Augustus opgehef.

Carnilinx se markaandeel het van 6% tot 6,2% gestyg, en Gold Leaf s’n van 12,6% tot 14%. Best Tobacco Company (van 1,9% tot 3,5%) en Pacific Cigarette Company (1,8% tot 3,4%) het hul markaandeel byna verdubbel.

Voor die inperking is 73,7% van die sigarette wat gerook is, vervaardig deur multinasionale maatskappye soos British American Tobacco (Peter Stuyvesant, Dunhill, Kent en Rothmans), Japan Tobacco International (Camel, Winston, Glamour) en Philip Morris International (Marlboro en Chesterfield).

In Junie, nog diep in die inperking, het dié reuse se markaandeel tot 17% geval.

Teen September het hul markaandeel tot 65,5% herstel.

British American Tobacco se markaandeel het van 47,8% tot 40,9% geval, Japan Tobacco van 15,5% tot 14% en Philip Morris van 10,2% tot 8,7%.

Al die multinasionale maatskappye se individuele handelsname het markaandeel verloor, met die uitsondering van Winston. Dié sigarette het voor die verbod ’n markaandeel van 6,6% gehad, tydens van 0,8% en nou van 6,9%.

Minstens 35% van respondente het weens die verbod permanent oorgeskakel na ’n nuwe handelsnaam, maar 65% rook nou weer wat hulle voor die verbod gerook het.

Van dié wat geskuif het, het 36% van ’n multinasionale maatskappy se handelsnaam wegbeweeg en net 11% het nou oorgeskakel na ’n handelsnaam van ’n multinasionale maatskappy.

Pryse

Net nadat die verbod opgehef is, het sigaretvervaardigers deur die bank hul pryse verhoog, maar rokers, wat aan swartmarkpryse gewoond geraak het, het nie juis geblik of gebloos nie.

Multinasionale maatskappye se pryse was in September nagenoeg 5% hoër as in Maart en plaaslike maatskappye 30% hoër.

Waar koop mense nou hul sigarette?

Sedert die opheffing van die verkoopsverbod koop die meeste mense weer hul dampies by formele winkels (56%). Kleinhandelaars het egter ’n bietjie markaandeel verloor teenoor voor die pandemie (sowat 62%).

Verkope by spaza- en huiswinkels het tydens die verbod gestyg, maar het teruggesak tot 30% van verkope, nagenoeg wat dit voor die verkoopsverbod was.

’n Interessante wending was dat karwagte hul markaandeel van sigaretverkope verdubbel het, al bly dit klein. Dit was 2% voor die verkoopsverbod en is nou 4%.

“Dit wil voorkom asof die onderskeie tabakmaatskappye die siening ingeneem het dat rokers gewoond geraak het aan hoë pryse tydens die verkoopsverbod en dat hulle hul winsgewendheid kon verbeter deur pryse vergeleke met die tydperk voor die verbod te verhoog.”

Van Walbeek beskou dit eintlik as ’n goeie ding dat die prysverskil tussen multinasionale en plaaslike vervaardigers in die proses verklein is. Dit beteken mense kan nie as hul beursie knyp so maklik “afgradeer” nie.

Hy herhaal die aanbeveling dat aksyns so gou as moontlik verhoog moet word, sowel om sigaretverbruik te verminder as om die regering se inkomste te verhoog.

Om die sluikhandel in sigarette – wat geen inkomste vir die staat oplewer nie – egter te stuit, moet die Suid-Afrikaanse Inkomstediens en ander wetstoepassingsagentskappe dit prioritiseer.

Van Walbeek sê ’n stelsel waardeur sigarette nagespoor kan word, moet in werking gestel word.

Opgehou rook

Net 9% van mense wat vanjaar tydens die verbod op sigaretverkope opgehou rook het, staan nou, drie maande later, steeds sterk.

 rook,sigarette

Dis effens meer as die helfte van die rokers (16,7%) wat probeer het om op te hou rook tydens die verbod, wat gegeld het vandat die inperking vir die Covid-19-pandemie op 27 Maart begin het tot 14 Augustus.

Minder as die helfte (43%) van die mense wat weer geswig het, het dit reeds gedoen voordat die verkoopsverbod opgehef is en die res (57%) daarna.

Daar is wel aanduidings dat mense wat aangehou rook het, nou minder rook. Voor die inperking het rokers gemiddeld 17,3 sigarette per dag gerook, tydens die verbod 13,3 en nadat die verbod opgehef is, 16,6.

Minstens 22% van respondente sê hulle rook nou meer as voor die inperking, 38% minder en 40% omtrent dieselfde.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.