Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Talle afgedank, hoës gedreig in ‘skoonmaakproses’
Foto ter illustrasie.

Die forensiese ondersoek na on­reëlmatighede in die staat se inligtingstegnologie-agentskap Sita het reeds tot 13 afdankings en 22 bedankings gelei. In die proses het die topstruktuur van Sita selfs doodsdreigemente gekry.

Anthea Summers, woordvoerder van Sita, het die afgelope week gesê die agentskap werk hard aan groot sake “met lang tentakels van moontlike sameswering en korrupsie”.

“Ons is nié besig om enigiemand te teiken nie. Die doel is om korrupsie eens en vir altyd uit te roei.”

Summers het gereageer op aantygings dat die forensiese ondersoek wat die regsfirma Bowman Gilfillan by Sita doen ’n “heksejag” op sekere werknemers is.

Van dié werknemers is na bewering in die pad gesteek nadat hulle as fluitjieblasers bepaalde inligting geopenbaar het.

Sita en die parlement se staande komitee oor openbare rekeninge (Skoor) het die afgelope maande verskeie kere kop gestamp oor onreëlmatighede in die agentskap wat reeds glo miljarde beloop. Veral Sita se kontrak met die maatskappy Forensic Data Analysts (FDA), wat aan die oud-polisieman Keith Keating behoort, het Skoor se aandag getrek.

FDA is betrek by ’n omkopery-ondersoek teen die voormalige nasionale polisiekommissaris Khomotso Phahlane. FDA eis dat Sita sy fakture betaal en voer aan die polisie en die regstelsel sal tot stilstand kom as FDA sy steun aan hul rekenaarstelsels onttrek.

Summers sê as deel van die ondersoek het ’n verdere agt werknemers gedurende tugprosedures bedank. Agt strafsake is by die polisie en die Valke aangemeld vir verdere ondersoek.

Twee van die ontevrede werknemers het hul besware na die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie geneem.

Uit die fluitjieblasers se inligting is 110 sake opgevolg, waarvan 87 reeds afgehandel is. Nog sewe mense het bedank voortspruitend uit die tugprosesse.

Summers sê die fluitjieblasers kan nie agter hul verklarings oor onreëlmatighede skuil as die ondersoeke wys dat hulle self aandadig was nie.

Net die regsonkoste van dié sake beloop reeds meer as R14 miljoen. Sita beskou dié uitgawe as geregverdig omdat die koste van korrupsie die agentskap die afgelope dekade reeds honderde miljoene uit die sak gejaag het.

Een van die fluitjieblasers wat nou geskors is, beweer daar word selektief van mense ontslae geraak terwyl van die topbestuurders glo misdaadgeskiedenisse het.

Summers het ontken dat
Sithembele Senti, een van dié bestuurders, só ’n geskiedenis het.

Volgens Sita het die drastiese ingryping by die agentskap daartoe gelei dat die korrupsiekrane nou toegedraai is.

Benewens die doodsdreigemente is eensydige en kwaadwillige bewerings onlangs die wêreld ingestuur. “Dit gaan egter nié die skoonmaakproses beïnvloed nie,” sê Summers.

Meer oor:  Sita  |  Ondersoek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.