Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Talle kopers vir Enterprise, sê Tiger Brands

“Verskeie” kopers stel belang om Tiger Brands se afdeling vir verwerkte vleis – wat Enterprise insluit – te koop, sê die maatskappy in ’n verklaring.

‘n Voorbeeld van die Enterprise-produkte wat voorheen landwyd onttrek is as voorsorgmaatreël teen die verdere verspreiding van listeriose. Foto: Tiger Brands

Tiger het in November 2019 aangekondig hy wil al sy vleisfabrieke verkoop. Benewens Enterprise sluit dit handelsname soos Renown, Mieliekip en Bokkie in.

Dit kom ná enorme verliese weens die listeriose-epidemie van twee jaar gelede waarin honderde mense dood is, siek geword het of gestremd gelaat is.

Tiger Brands se Enterprise-aanleg in Polokwane, Limpopo, is in Maart 2018 as die hoofbron van die uitbreking geïdentifiseer.

’n Noulettendheidsondersoek word nou oor “sekere” ondernemings gedoen wat in die vleisafdeling belang stel. Tiger Brands sê geen bindende ooreenkoms is in dié stadium al gesluit nie.

Dis onwaarskynlik dat die transaksie beklink sal word voor die einde van die maatskappy se halfjaar tot einde Maart, maar indien dit wel gebeur, sal die vleisafdeling as beëindigde bedrywighede aangegee word.

Benewens polonies en koue vleis, vervaardig Tiger Brands ikoniese handelsname soos All Gold, Black Cat, Colman’s, Crosse & Blackwell, Ice Cap, Koo, Spray and Cook en Mrs H.S. Ball’s.

Groepsgeding

Tiger Brands sê voorbereiding vir die groepsgeding teen hom oor listeriose duur voort. Altesame 700 mense is deel van die groepsgeding.

Tiger betwis dat hy die enigste bron van die uitbreking was, maar hy benodig inligting oor die toetse wat gedoen is van die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (Nios), wat weier om al die inligting aan Tiger Brands openbaar te maak. Die hooggeregshof in Johannesburg hoor van 13 tot 15 Mei hofaansoeke aan om te besluit of Nios gedagvaar moet word om die inligting openbaar te maak.

Handelsverklaring

Die maatskappy se handelsverklaring vir die ses maande tot einde Maart is baie droewig.

Sy verdienste per aandeel gaan na verwagting minstens 36% laer wees as in dieselfde halfjaar van 2019 en sy wesensverdienste gaan met tussen 30% en 37% val.

Die groep het Deli Foods in Nigerië op 22 Oktober verlede jaar gesluit. As dié onderneming as ’n beëindigde bedrywigheid behartig word, is verdienste per aandeel minstens 35% laer en wesensverdienste tussen 29% en 36% laer.

Die maatskappy sê sy inkomste uit voortgesette bedrywighede het in die eerste kwartaal van sy boekjaar (dus die drie maande tot einde Desember) gestagneer. Sy totale volume verkope het in die drie maande tot Desember met 4% gedaal. Hy kon sy inkomste onveranderd hou danksy ’n 4%-verhoging in pryse.

Daarby is daar ’n dispuut met ’n voormalige verspreider in Nigerië wat meebring dat byna geen produkte in dié land verkoop is nie. Die twis is nou onderhewig aan arbitrasie, maar Tiger sê dit gaan nie voor die einde van die halfjaar beter verkope meebring nie.

In die huidige kwartaal duur die druk voort, volgens Tiger.

Die maatskappy reik sy halfjaarsyfers op 25 Mei uit.

Meer oor:  Tiger Brands  |  Koue Vleis  |  Listeriose
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.