Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Talle winkels sluit landwyd oor plundery

Tientalle groot kruidenierswinkels het hul deure weens plundery of uit vrees daarvoor gesluit.

Makro se takke is landwyd gesluit en veiligheidsmaatreëls om dié winkels is opgeskerp.

Makro, wat aan Massmart behoort, het Dinsdag om 13:00 ál 22 sy takke landwyd “vir die veiligheid van ons klante en spanne” gesluit.

Dit sluit ook die takke in van die groep in die provinsies waar die geweld en plundering nie op die oomblik voorkom nie.

Makro waarsku ook op Twitter dat aanlyn bestellings vertraag kan word omdat koeriers dalk sukkel om toegang tot die hoofweë te kry.

“Ons hou die situasie fyn dop en sal klante op die hoogte hou.”

Die groep het sy medelye met en kommer uitgespreek oor alle Suid-Afrikaners wat deur die onrus geraak word.

“Kom ons ondersteun mekaar as ’n nasie. Bly veilig.”

Builders, wat ook aan Massmart behoort, het in dié stadium al sy winkels in KwaZulu-Natal gesluit.

Intussen het die Shoprite-groep bevestig dat “verskeie” van sy winkels in KwaZulu-Natal en in Gauteng ná die “chaos en omvangryke skade” van die afgelope 24 uur gesluit is.

Die groep besit onder meer Shoprite, Usave, Checkers en OK.

Netwerk24 het die afgelope dae berig oor Usave-winkels in onder meer KwaThema aan die Oos-Rand van Gauteng, Jeppestown in Johannesburg en Dobsonville in Soweto wat geplunder is.

’n Woordvoerder het nie gereageer op navrae oor die aantal winkels wat geraak is of die omvang van die skade nie.

Luidens ’n kort verklaring veroordeel die groep die onrus “ten sterkste”.

“Dis veral vernietigend ná die ernstige uitwerking van die Covid-19-pandemie op die ekonomie, met werkloosheid op ’n rekordhoogte en Suid-Afrikaanse verbruikers wat onder enorme druk verkeer en hul lewensbestaan wat heeltyd bedreig word.

“Ons veroordeel die misdadige voorvalle van geweld, plundery en skade aan eiendom. Dit plaas die lewe en veiligheid van miljoene Suid-Afrikaners in gevaar en veroorsaak uitdagings vir voedselsekerheid in die land.”

Pick n Pay het ook ’n aantal winkels in KwaZulu-Natal en Gauteng gesluit. Die Pick n Pay Polly Shorts in Pietermaritzburg in KwaZulu-Natal is onder meer geplunder en in ’n brand beskadig.

David North, die groep se strategiehoof, sê aflewerings na die twee provinsies word ook geraak, maar “ons werk hard saam met ons spanne om ons winkels weer van voorraad te voorsien sodra die situasie gekalmeer het en die veiligheid van ons mense verseker kan word”.

North sê dit is nog te vroeg om die finansiële skade van die plundery, ook op die handel, te bepaal. Winkels bly oop in gebiede wat nié deur die betogings geraak word nie.

Spar het nog nie op navrae gereageer nie. Die Superspar in Howick in KwaZulu-Natal is onder meer geplunder.

Apteke

Clicks het teen Dinsdag 110 winkels in KwaZulu-Natal en 130 winkels in Gauteng gesluit. Landwyd is 279 winkels gesluit en 52 is beskadig.

Die sluiting beteken egter ook dat 106 inentingsplekke landwyd gesluit is.

“Die ontwrigting van dienste beteken Clicks-winkels sal tydelik nie in staat wees om inentings toe te dien of medisyne aan klante te verskaf nie, en optelpunte vir die openbare sektor is ook tydelik nie beskikbaar nie,” sê die groep in ’n verklaring.

“Noodplanne word in werking gestel om alternatiewe reëlings te tref vir die aflewering van chroniese medisyne en afsprake vir inentings, waar moontlik, na ander tye te skuif.

“Ons bedank klante vir hul begrip en geduld in dié baie moeilike tyd.”

Aangesien die geweld nog voortduur, kon Clicks nog nie die koste van die plundery en skade aan sy winkels bereken nie.

Klante kan Clicks se hulplyn by 0860 254 257 skakel om vas te stel of ’n tak gesluit is.

Dis-Chem het ook bevestig dat al sy winkels en inentingsplekke in KwaZulu-Natal, asook sommige in Gauteng, gesluit is. Mense kan op Dis-Chem se webwerf nagaan watter apteke in Gauteng toe is.

Selfoonwinkels

MTN het aangekondig dat die meeste van sy winkels in KwaZulu-Natal gesluit is. Die groep se grootste oproepsentrum is ook in dié provinsie en werk teen “minimale vermoë” omdat baie werknemers nie by die werk kan kom nie. Openbare vervoer in dié provinsie is ontwrig en baie paaie is gesluit. Mense wat MTN wil kontak, word gevra om dit digitaal te doen. Opsies sluit in Facebook, Twitter, WhatsApp (083 123 0011), die webwerf mtn.co.za of die USSD-nommer *136#.

Banke

Verskeie banke, onder meer FNB, Standard en Nedbank, het hul takke in KwaZulu-Natal en enkele takke in Gauteng gesluit. Dit is gedoen omdat sommige werknemers nie by die werk kon kom nie en omdat banke ook onder die vandalisme deurgeloop het. Al die banke het mense aangemoedig om digitale bankdienste te benut.

Bidvest Bank het bekend gemaak dat alle takke in Kaapstad, KwaZulu-Natal, Gauteng en Port Elizabeth “as ’n voorkomende maatreël” tydelik gesluit is.

Meer oor:  Zuma-Geweld  |  Plundery En Geweld  |  Zuma-Betogings  |  Banke  |  Apteke  |  Winkels
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.