Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Te klein vraag na plaaslik vervaardigde goedere

Die gedempte plaaslike vraag na vervaardigde goedere beperk plaaslike fabrieke se vermoë om uit te brei.

Die voedsel- en drankbedryf is een van die suksesse in die plaaslike vervaardigingsektor sedert 1994. Uitvoer het sedert 2010 met 12% gegroei en verkope sedert 2015 met 13%. Foto: Deon Raath

Dit is die afgelope vyf jaar die rede vir gemiddeld 12% van onderbenutte vervaardigingsvermoë, blyk uit ’n nuwe navorsingsverslag oor die haalbaarheid van lokalisering.

Die navorsings-en-konsultasiefirma Intellidex sê in die verslag lae vraag is ’n groot risiko vir die regering se lokaliseringstrategie op mediumtermyn. Die mikpunt is om nie-petro­leuminvoer oor vyf jaar met 20% te verminder.

As die regering met lokalisering sekere invoer deur plaaslike produksie wil laat vervang, moet vervaardigers verseker wees dat daar ’n vraag na hul produkte sal wees. Daarsonder kan hulle nie op skaal produseer nie, tensy daar nuwe uitvoermoontlikhede is, het Peter Attard Montalto van Intellidex die afgelope week met die bekendstelling van die verslag gesê.

Altesame 21 van 27 sektore in die ekonomie het die laaste vyf jaar dubbelsyfer-spaarvermoë (as persentasie van totale vermoë) gehad. Van die sektore wat die ergste geraak is, is:

  • Leergoedere (onderbenutting sedert 2004 wissel tussen 8,4% en 29,8%);
  • Tekstiele (sedert 2011 tussen 22% en 27,4%);
  • Elektriese masjinerie (sedert 2011 tussen 14,5% en 20,7%); en
  • Klerebedryf (sedert 2013 tussen 13,3% en 18,9%).

Ebrahim Patel, minister van handel, nywerheid en mededinging, het die afgelope week in sy begrotingsrede gesê die regering wil deur lokalisering plaaslike nywerheidsvermoë uitbrei en werk skep.

Die mikpunt is om tot R200 miljard se bykomende produksie oor ’n tydperk van vyf jaar plaaslik te vestig.

Mikpunte vir lokalisering

Lokalisering is een van die strategiese oogmerke in die regering se program vir ekonomiese heropbou en herstel (ERRP) ná Covid-19. Pres. Cyril Ramaphosa het die term ook herhaaldelik genoem in sy staatsrede in Februarie.

Die Industrial Development Corporation (IDC) bereken as die lokaliseringsinisiatief suksesvol geïmplementeer word oor die volgende vyf jaar, kan dit teen 2025 vyf persentasiepunte by die BBP-syfer voeg, het Patel gesê.

Lokalisering is beslis ’n element van ekonomiese herstel, maar moet oorweeg word in die konteks van kritiek belangrike hervormings vir groei en om beleggings te lok.
Cas Coovadia van Busa

Intellidex het die verslag namens Business Leadership South Africa (BLSA) en Business Unity South Africa (Busa) opgestel oor die haalbaarheid van die regering se lokaliseringsteikens en hoop dit kan help met beleid wat plaaslike vervaardiging bevorder.

Busi Mavuso, uitvoerende hoof van BLSA, en Cas Coovadia, uitvoerende hoof van Busa, het gesê die sakegemeenskap is ten gunste daarvan om plaaslike vervaardiging uit te brei en praat met Patel oor hoe om dit te doen.

Coovadia het gesê Busa het 40 sakeleiers geïdentifiseer vir ’n taakspan wat betrokke is by die lokaliseringsinisiatief.

“Lokalisering is beslis ’n element van ekonomiese herstel, maar moet oorweeg word in die konteks van kritiek belangrike hervormings vir groei en om beleggings te lok.”

Intellidex sê die teiken van 20% lyk op kort tot mediumtermyn onrealisties, maar kan op langer termyn bereik word met breër ekonomiese hervorming wat die plaaslike vraag en mededingendheid stimuleer.

Cas Coovadia, uitvoerende hoof van Business Unity South Africa. Foto: Herman Verwey

Maatskappye wat goedere produseer, het in ’n peiling as deel van die navorsing gesê onder die regte omstandighede kan hulle 12,6% van wat ingevoer word dadelik plaaslik verkry. As hulle gedwing word om te gou hoër teikens te haal kan dit pryse in die plaaslike mark met tot 20% verhoog.

Die departement van handel, nywerheid en mededinging sê in ’n beleidsverklaring oor lokalisering die vervaardigingsektor se deel in die ekonomie het van 19,2% in 1994 tot 11,8% in 2020 afgeneem, saam met groot werkverlies.

Volgens Patel voer Suid-Afrika goedere van 25% van sy BBP in, terwyl die land baie daarvan self kan vervaardig. Die wêreldgemiddelde is 21,8%, maar in Brasilië is dit maar 9,6% en in China 14,4%.

Hy het gesê die plaaslike vervaardiging van Covid-19-noodsaaklikhede soos persoonlike beskermende toerusting wys Suid-Afrika kan sy vervaardigingsvermoë uitbrei.

Intellidex het bevind die voedsel- en drankbedryf is een van die suksesse in die plaaslike vervaardigingsektor sedert 1994. Uitvoer het sedert 2010 met 12% gegroei en verkope sedert 2015 met 13%.

Dié sektor het groei van minder as 3% nodig om sy lokaliseringsteikens te haal en kan dit binne ’n jaar reeds bereik.

Die regering het ses “meesterplanne” vir spesifieke ekonomiese sektore ontwikkel om lokalisering te verhoog, werk te skep en mededingender te wees.

Meer oor:  Intellidex  |  Idc  |  Busa  |  Nywerheidsontwikkelingskorporasie  |  Vervaardigers  |  Ekonomie  |  Fabrieke  |  Vervaardiging
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.