Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Tekort aan pasta, rys dreig weens Covid-paniek

Tiger Brands sukkel om voor te bly met die voorsiening van pasta en rys, al is die meeste van sy fabrieke volstoom aan die werk.

Tiger Brands sukkel nie net finansieel tydens die staat van inperking nie, maar ook om in die lande se voedselbehoeftes te voorsien. Foto: iStock

Die voedselreus sê Woensdag in ’n Sens-verklaring ten spyte daarvan dat sy fabrieke wat pasta en rys maak, nie soos verskeie ander tydens die staat van inperking gesluit is nie, is daar ’n “noemenswaardige” tekort aan dié twee kossoorte. Hy sukkel om dit aan te vul.

Feitlik al sy werknemers werk nog tydens die staat van inperking, maar die vraag na sekere goedere van verbruikers is heelwat hoër as gewoonlik.

Daar is wel sekere van sy produkte wat tans geensins vervaardig mag word nie weens die regulasies ingevolge die ramptoestand en staat van inperking.

Die volgende produkte word nie tans vervaardig nie, en die voorraad wat dus nog op winkelrakke is, is al wat daar gaan wees tydens die staat van inperking:

  • Sorghum-drankies
  • Versnaperings en lekkernye
  • Koeldrank: Slegs aanmaakkoeldrank en sportdrankies sal vervaardig word
  • Toiletware en skoonmaakmiddels
  • Davita-produkte vir die uitvoermark

Die meeste van Tiger Brands se fabrieke kwalifiseer as noodsaaklike dienste en mag dus in bedryf bly.

Tot dusver reken die maatskappy sal hy, met die uitsondering van rys en pasta, aan die vraag na sy goedere tydens die staat van inperking en selfs tot einde Mei kan voldoen. Hy kan dit egter slegs waarborg solank die oorgrote meerderheid van sy personeel nog kan werk.

Indien dit nie die geval is nie en/of nuwe regulasies sy bedrywighede beïnvloed, sal hy nie soveel voorraad kan vervaardig nie.

Ná Mei, sê Tiger Brands, sal sy vermoë om voedsel te vervaardig, hoofsaaklik afhang van die beskikbaarheid van bestanddele wat ingevoer word.

Hy spreek sy kommer uit oor die beskikbaarheid van noodsaaklike bestanddele te midde van die grootskaalse ontwrigting van internasionale voorsieningskettings.

  

Pryse

  

Tiger Brands is bekommerd oor die departement van handel, nywerheid en mededinging se prysregulasies tydens die staat van inperking.

Ingevolge die nuwe regulasies mag maatskappye nie nou hoër winsgrense verdien nie.

Hulle mag nie die prys van noodsaaklike goedere verhoog om ’n hoër winsmarge as die gemiddelde winsmarge tydens die eerste drie maande van die jaar te reflekteer nie.

Tiger Brands sê dit ontneem hom nou van beplande prysstygings wat bloot die jaarlikse stygende insetkoste van sy produkte moes dek.

Die eerste drie maande van die jaar se winsmarges is volgens Tiger Brands dié maande van die jaar waarin sy verkope en wins op hul laagste is.

Sy insetkoste is weens die staat van inperking nou beduidend hoër, veral omdat hy aansporings vir sy personeel aanbied om aan te hou werk, en hy het nou geen manier om dié en ander hoër koste te verhaal nie.

Die maatskappy sê hy sal die regulasies nakom tot en met 20 April, maar het by die departement aansoek gedoen vir spesiale kwytskelding daarna.

Die maatskappy sê die algehele finansiële impak van die krisis kan nog nie bepaal word nie, maar selfs net die 5%-verswakking in die rand gaan hom R600 miljoen kos vir die bestanddele wat hy moet invoer om sy produkte te kan vervaardig.

Meer oor:  Tiger Brands  |  Kos  |  Koronavirus  |  Noodsaaklike Dienste  |  Pasta  |  Inperking  |  Kosvervaardigers  |  Covid-19  |  Staat Van Inperking  |  Rys
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.