Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Tencent wil Chinese toeriste na SA help lok
Tencent, wat WeChat besit, hoop dit gaan ’n gewilde betaalmetode in Suid-Afrika word. Foto: WeChat

Die departement van toerisme gaan kragte saamsnoer met die Chinese tegnologiereus Tencent in ’n poging om meer Chinese as toeriste na Suid-Afrika te lok.

Mmamoloko Kubayi-Ngubane, minister van toerisme, het pas ’n ooreenkoms met Tencent, die skepper van die gewilde kletsplatform WeChat, onderteken waarvolgens Suid-Afrika vir die volgende twee jaar as die perfekte vakansiebestemming bemark gaan word.

Tencent gaan Suid-Afrika deur middel van digitale bemarking aan gebruikers van sy WeChat-diens smous.

WeChat het meer as ’n miljard maandelikse gebruikers en is ontsettend gewild in China waar dit ook gebruik word om betalings uit te voer afgesien van gesprekke voer.

“Ek is bly dat Suid-Afrikaanse toerisme tesame met Tencent ’n stewige fondasie kan skep vir groei in die getal besoekers van China na Suid-Afrika,” het Kubayi-Ngubane Dinsdag in ’n verklaring gesê.

China is reeds Suid-Afrika se grootste handelsvennoot.

As deel van die ooreenkoms gaan Kubayi-Ngubane se kantoor tesame met SA Toerisme ook met plaaslike handelaars saamwerk om betalings op WeChat in Suid-Afrika moontlik te maak sodat Chinese besoekers dit hier kan gebruik.

WeChat as betaalmiddel is reeds in Suid-Afrika beskikbaar, maar bitter min handelaars of kopers gebruik dit.

WeChat se Wallet-funksie werk met enige bankrekening en kan gebruik word om geld maklik tussen gebruikers te stuur, of om vir goedere en dienste te betaal, soortgelyk aan SnapScan.

In China is dit algemene praktyk om vir goedere en dienste met WeChat te betaal deur eenvoudig ’n QR-kode te skandeer.

Volgens Kubayi-Ngubane wil die regering help dat handelaars hier ook dié funksionaliteit bied sodat ’n Chinese besoeker aan Suid-Afrika maklik met WeChat vir goed sal kan betaal.

Die Suid-Afrikaanse internetreus Naspers besit ’n beduidende aandeel in Tencent en derhalwe ook WeChat.

Hoewel die diens jare gelede hier beskikbaar gestel is, het dit nog nooit onder Suid-Afrikaners posgevat nie met meeste mense wat steeds dienste soos Facebook se Messenger of WhatsApp verkies.

Meer oor:  Wechat  |  Tencent  |  Mmamoloko Kubayi-Ngubane  |  China  |  Besoekers  |  Ekonomie  |  Toerisme  |  Toerismebedryf
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.