Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Tender: SAL gaan OB hof toe sleep
Adv. Busisiwe Mkhwebane. Foto: Argief

Die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) gaan die openbare beskermer (OB), adv. Busisiwe Mkhwebane, hof toe sleep om ’n verslag van haar oor ’n tender vir beskuitjies wat op vlugte bedien word, tersyde te probeer stel.

Dít ten spyte daarvan dat haar bevindings ooreenstem met bevindings van die nasionale tesourie, ’n onafhanklike konsultant wat die SAL vroeër probeer wegsteek het én die onafhanklike reguleringsraad vir ouditeure (Irba) wat ouditeure skuldig bevind het aan onbehoorlike gedrag in verband met dié tender.

Die SAL is tans in sakeredding en sy sakereddingspraktisyns het sy vlugte drasties ingekort om koste te bespaar. Boonop is daar voorbereidings om meer as 2 000 personeellede af te lê in ’n poging om die lugdiens van ondergang te red.

AirChefs, ’n filiaal van SAL, het in 2013 ’n tender geadverteer vir die lewering van versnaperinge om op vlugte te bedien.

In Februarie 2014 het AirChefs Mantelli’s Biscuit Factory ingelig dat hy die tender vir die verskaffing van droë beskuitjies gekry het.

Wheat-worth, wat deel is van die AVI-groep, het toe al dekades lank die droë beskuitjies verskaf wat op SAL-vlugte bedien is.

Kort daarna het die uitvoerende hoof van AirChefs, Martin Kemp, ’n brief onderteken waarin die aanvanklike kennisgewing deur AirChefs teruggetrek en Mantelli’s ingelig is dat hulle nou een van verskeie maatskappye in ’n paneel sou wees wat kwalifiseer om die beskuitjies van tyd tot tyd te lewer.

Simon Mantell, besturende direkteur van Mantelli’s, het hom gewend tot SAL se destydse waarnemende uitvoerende hoof, Nico Bezuidenhout, wat Indyebo Consulting aangestel het om die klag te ondersoek.

Indyebo het Mantell in Augustus 2014 gelyk gegee, maar die SAL het dit aanvanklik vir Mantell probeer wegsteek.

Hy het hom toe gewend tot die destydse SAL-direksie, waarvan Dudu Myeni die voorsitter was. Hulle het die regsfirma ENS aangestel om die kwessie te ondersoek. Dié ondersoek is egter nooit voltooi nie.

In 2015 het die nasionale tesourie op versoek van Mantell ook die saak bekyk en ’n magdom foute in die tenderproses gevind. Hulle het aanbeveel dat ’n deel van die beskuitjiebestellings aan Mantelli’s toegeken word.

Dit het egter nie gebeur nie en Mkhwebane het bevind dat SAL doelbewus die bevindings wat alles in Mantell se guns was, van hom probeer weerhou of geïgnoreer het om te keer dat hy die saak hof toe neem.

Mantell het reeds in 2014 ’n klag oor die kwessie by die (OB), toe nog adv. Thuli Madonsela, ingedien.

Die ondersoek het egter gesloer en in November het hy ’n hofbevel in die Wes-Kaapse hooggeregshof verkry waarin waarnemende regter Hayley Slingers Mkhwebane beveel het om die verslag teen 31 Januarie vanjaar te finaliseer.

Sy het tot op die laaste dag gewag voordat die verslag uitgereik is en bevind dat die terugtrek van die tender inderdaad onreëlmatig was en neerkom op wanadministrasie tot Mantell se nadeel. Sy beveel die voorsitter van die SAL-direksie om toe te sien dat die SAL en AirChefs Mantell binne tien dae om verskoning vra en om hom te vergoed vir die koste wat hy aangegaan het om geregtigheid te laat geskied.

Mantell het vroeër aan haar gesê hy het sowat R600 000 aan regskoste bestee, asook duisende ure van sy tyd.

Meer oor:  Sal  |  Suid-Afrikaanse Lugdiens  |  Openbare Beskermer  |  Ob  |  Maatskappye  |  Lugdiens  |  Staatsondernemings  |  Hofsaak
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.