SPESIALE VAKANSIE-AANBOD: Teken in teen net R49 vir jou eerste maand! Word 'n intekenaar
Maatskappye
Tesla wys sy elektriese bakkie

Die langverwagte eerste elektriese “bakkie” van die elektriesevoertuigvervaardiger Tesla is Donderdag in Los Angeles, Amerika, onthul.

elektriese bakkie
Hulle sê dis ’n bakkie maar dit lyk nie soos een nie. Tesla se eerste elektriese “pickup truck” is Donderdag in Los Angeles bekend gestel.Foto: AP

Die bakkie, wat meer soos ’n futuristiese pantservoertuig lyk, sal sowat $39 900 (R585 700) kos en meer as 500 myl (800 km) kan ry met ’n volgelaaide battery, het Elon Musk, Suid-Afrikaans gebore stigter en uitvoerende hoof van Tesla, op die bekendstelling gesê.

Musk het al lank belowe hy wil ’n elektriese weergawe van Amerika se gunsteling-voertuig bou, maar dit kan tradisionele voertuigvervaardigers se wins bedreig.

Die drie topverkopers in die Amerikaanse voertuigmark is almal groot bakkies, of wat die Amerikaners “pickup trucks” noem.

Die vervaardiging van die nuwe voertuig sal aan die einde van 2021 begin, het Musk gesê.

Die ontwerp van die nuwe bakkie is deels deur die Lotus Esprit-sportmotor geïnspireer wat in die James Bond-fliek van die 1970’s, The Spy Who Loved Me, gebruik is, het Musk vroeër gesê.

Die mark vir groot Amerikaanse bakkies word tans deur Ford se F-150 oorheers, asook modelle van General Motors en Fiat Chrysler.

Tesla se Model 3- elektriese passasiersvoertuig is die topverkoper onder elektriese voertuie in die wêreld.

Hy het tot dusver meestal Model S- en Model 3-sedanmotors verkoop, maar bied ook die Model X-sportnutsvoertuig en begin volgende jaar met die Model Y- kompakte sportnutsvoertuig.

Tesla se skuif na die hoëverrigting-deel van die voertuigmark is volgens ontleders ’n natuurlike skuif gegewe die sukses van Ford se F-150 Raptor wat in 2009 bekend gestel is en waarvan die verkope jaarliks klim.

Ford en General Motors maak self reg om Tesla se nuwe mededinging aan te vat met hul eie weergawes van hoëverrigtingvoertuie soos die Ford Mustang Mach E-sportnutsvoertuig, asook hul eie elektriese bakkies.

Ford en General Motors het groter verkope van elektriese voertuie nodig om te voldoen aan Kalifornië se strenger standaarde vir kweekhuisgasvrystellings. Die vraag na elektriese bakkies is egter na verwagting nie so hoog nie. Die marknavorsingsfirma IHS Markit verwag verkope van elektriese bakkies sal teen 2026 sowat 75 000 eenhede haal, vergeleke met totale bakkieverkope van drie miljoen. Die nuwe Tesla-bakkie is nie by dié raming ingesluit nie. – Reuters

Meer oor:  Ford  |  Tesla  |  Elon Musk  |  Elektriese Motors  |  Bakkie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.