Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Tesourie dans na Transnet se pype, sê LP’s
Transnet Freight Rail se Sishen-Saldanha-ysterertstrein. Die spoor waarop dit loop word gereken as die langste swaarvragspoor in die wêreld. Foto: Transnet

Die tesourie gee te maklik toe wanneer Transnet vra of hy meer kan bestee as wat begroot is of wanneer hy van tenderprosesse wil afwyk, sê parlementslede.

In die 2016-’17-boekjaar het die tesourie toegelaat dat Transnet bestaande kontrakte só uitbrei dat dit R3,6 miljard meer gekos het as waarvoor aanvanklik begroot is.

Hulle het ook toegelaat dat kontrakte van R427 miljoen aangegaan word sonder dat die gewone tenderproses gevolg is.

Verder is onreëlmatige besteding van R549 miljoen aangeteken.

Themba Godi, voorsitter van die parlementêre staande komitee oor openbare rekeninge.Foto: Lindile Mbontsi

“Wanneer ’n verhouding te goed is, is daar nie behoorlike toesig nie,” sê Shedrack Booi, ’n ANC-LP in die staande komitee oor openbare rekeninge (Skoor).

Transnet en die tesourie moes Maandag aan dié komitee kom verduidelik waarom soveel ekstra geld gevra is en waarom dit gegee is. Lynne Brown, minister van openbare ondernemings, was ook teenwoordig.

“Dis juis oor hoe sy (Brown) Transnet en Eskom bystaan dat daardie twee staatsondernemings nou met die probleme sit waarmee hulle sit,” sê Booi.

Die verhouding tussen die tesourie en Transnet was egter nie altyd so vriendelik nie. Die komitee het gehoor Transnet en Eskom was baie ongelukkig oor ’n opdrag wat hulle in April 2016 van Kenneth Brown, die voormalige hoof van die verkrygingskantoor in die tesourie, gekry het dat:

  • ’n Openbare onderneming slegs in ’n noodgeval sonder tesourie-toestemming van die tenderproses kan afgewyk.
  • Die tesourie se toestemming gevra moet word as kontrakte vir konstruksie-verwante werk met meer as 20% of R20 miljoen uitgebrei word; of met 15% of R15 miljoen vir enige ander kontrakte.

Lynne Brown het toe aan Pravin Gordhan, toe nog minister van finansies, geskryf dat die tesourie staatsondernemings verhinder om hul werk te doen.

Booi sê dié brief was arrogant, terwyl Lynne Brown sê hul “samewerking” met die tesourie het intussen baie verbeter.

Kenneth Brown is egter einde 2016 weg en al die afwykings en uitbreidings wat ter sprake was, is goedkeur deur Solly Tshitangano, wat in die pos waargeneem het.

Natasha Mazzone, DA-LP: “Die vrouetoilet is op die grondvloer. Dit is ’n interessante plek om mense te sien.” Foto: Deon Raath

Transnet se raad dalk verwyder

Transnet se direksie moes eintlik al op 6 Desember 2017 voor Skoor verskyn het, maar het nie opgedaag nie. Die direksie het wel ’n voorlegging ingedien.

LP’s het Dinsdag se vergadering begin deur die direksie breedvoerig uit te vra oor waarom hulle nie op 6 Desember opgedaag het nie.

Hulle was nie tevrede met Linda Mabaso, die voorsitter, se verskoning dat die direksielede nie beskikbaar was nie.

Mabaso het gesê hulle het net 48 uur kennis gekry van die vergadering. Sommige lede was al met vakansie en die res het nie tyd gehad om te vergader voordat hulle voor die komitee moes verskyn nie.

“Hoe verduidelik jy dan dat ’n voorlegging wel by Skoor ingedien is?” het Mkhuleko Hlengwa, IVP-LP, gevra.

“Julle het dan saam ’n voorlegging voorberei. In dieselfde asem sê jy julle was nie voorbereid nie. As ons kan bewys julle was oneerlik, gaan ons julle laat verwyder.”

Hlengwa het ook gedreig die lede kan as nalatige direkteure verklaar word.

Natasha Mazzone, DA-LP, het gesê van die direksielede wás in Kaapstad. Sy het een voor ’n vrouetoilet raakgeloop en nog een die aand by ’n soesjirestaurant in die V&A Waterfront gesien. “Iets moes die oggend van die 6de Desember rondom 08:00 fout gegaan het sodat hulle nie na die vergadering gekom het nie.”

Linda Mabaso, voorsitter van Transnet se direksie: “Al die raadslede was nie beskikbaar nie. Ek was in Johannesburg. Ons het nie verskyn nie.” Foto: Lindile Mbontsi, Daily Sun

Themba Godi, die voorsitter van Skoor, het Mabaso gevra om te beskryf presies hoe laat wat gebeur het en wie besluit het die vergadering moenie bygewoon word nie.

“Al die raadslede was nie beskikbaar nie. Ek was in Johannesburg. Ons het nie verskyn nie,” het Mabaso geantwoord.

Hierna is Nokuthula Khumalo, Transnet se sekretaris, gevra om WhatApp-boodskappe wat daardie oggend gestuur is, voor te lees. Hieruit blyk dit Mabaso het besluit niemand moet die vergadering bywoon nie.

Godi sê die komitee gaan die direksie se optrede bespreek en ’n verslag opstel met aanbevelings.

Meer oor:  Transnet  |  Natasha Mazzone  |  Lynne Brown  |  Pravin Gordhan  |  Themba Godi  |  Tesourie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.