Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Tesourie se beloftes maak dalk skuld by SAL

’n Sogenaamde verbintenisbrief waarin die nasionale tesourie belowe om nog ’n kapitaalinspuiting aan die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) te gee, kan groot implikasies vir die land se begroting inhou, het Alf Lees, DA-adjunkwoordvoerder oor finansies, Donderdag gesê.

’n Passasier stap verby die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) se instapgebied by Eindpunt 1 in die Heathrow-lughawe by Londen. Die SAL het glo R21,7 miljard oor die volgende drie jaar nodig.

Dis ’n verwysing na ’n verbintenisbrief waarna Vuyani Jarana, uitvoerende hoof van die SAL, luidens berigte vandeesweek verwys het.

Intussen het Business Day vroeër vandeesweek berig Jarana sê dit sal ’n kapitaalinspuiting van R21,7 miljard oor die volgende drie jaar kos om die SAL weer te stabiliseer en winsgewend te kry.

Hy het vroeër al in vergaderings in die parlement aangedui die SAL sal eers teen 2021 winsgewend wees. Die lugdiens het die afgelope boekjaar ’n verlies van R5,7 miljard gely.

Dondo Mogajane, direkteur-generaal van die tesourie, het op sy beurt onlangs beklemtoon die SAL kan nie weer ’n reddingsboei van die staatskas of belastingbetalers kry nie. Dit moet kom van lenings by banke of deur ’n kapitaalinspuiting van ’n private-ekwiteitsvennoot, oftewel gedeeltelike privatisering, hoewel die regering nie die woord privatisering gebruik nie.

Lees vermoed die verbintenisbrief moet dien as ’n soort waarborg. Hy het gevra of die kabinet weet van die verbintenisbrief en die inhoud daarvan, en wat die implikasies daarvan vir die nasionale begroting kan wees. Lees sê die DA gaan ’n aansoek ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting doen om ’n afskrif van die verbintenisbrief te kry.

Die SAL het reeds oor die afgelope jaar of twee ’n herkapitalisering van R13 miljard gehad, hoewel deel van die geld nog nie oorbetaal is nie.

In die verlede het die onderskeie ministers van finansies aangedui die regering wil eerder sekere staatsbates soos eiendom en niekernbates verkoop om geld te vind vir staatsondernemings as wat die geld uit die staatskas kom.

In die SAL se aanbieding wat Woensdag aan die staande komitee oor finansies gedoen sou word, sê die lugdiens ’n toesigforum is gestig deur die tesourie en die SAL-direksie as ’n gesamentlike taakspan.

Die span moet die onmiddellike kontantvloeiprobleme van die SAL aanpak, die langtermyn-finansieringsvereistes vir die lugdiens uitsorteer, asook die optimale kapitaalstruktuur bepaal. Die forum sal tot September in bedryf wees en elke twee weke vergader.

Die onmiddellike probleme moet opgelos word om te keer dat die SAL in gedwonge sakeredding geplaas word, het die lugdiens gewaarsku.

’n Woordvoerder van die tesourie het in reaksie bloot gesê: “Die finansiering van die SAL se omkeerstrategie sal ’n aanvaarbare mengsel van skuld en ekwiteit vereis, en die saak word gefinaliseer as deel van die oorsigforum tussen die SAL en die nasionale tesourie.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.