SWART-VRYDAG-AANBOD! Betaal slegs R9,99 vir die eerste twee maande as jy nou ’n intekenaar word. Spring gou!
Maatskappye
TFG: Dís hoekom die musiek in Sportscene so hard is

Die afdelingswinkel is dood. Verbruikers raak verdwaal in enorme winkels wat alles vir almal probeer aanbied.

Anthony Thunström, uitvoerende hoof van die kleinhandelgroep TFG.

TFG se sukses berus daarop dat hy eerder meer, maar kleiner winkels het en dat elkeen van sy handelsname op ’n nismark fokus. Alles van die klere en atmosfeer tot die musiek en die personeel spreek tot die teikenmark van daardie winkel.

Só verduidelik Anthony Thunström, uitvoerende hoof van TFG, waarom dié kleinhandelaar omsetgroei in dubbelsyfers kan weergee vir sy halfjaar tot einde September terwyl mededingers vasbrand.

Thunström sê ’n goeie voorbeeld is Sportscene, wat op tieners en jong mense gemik is, maar waar die harde musiek hom sommer dadelik oud laat voel as hy daar instap.

TFG huisves ook onder meer Donna, @home, American Swiss, Foschini, The Fix, Duesouth, Totalsports, Fabiani, Exact en Sterns.

Swart Vrydag

Die tweede helfte van die groep se boekjaar gaan weer swaar op die verkope op Swart Vrydag, Kubermaandag en oor die Kerstyd staatmaak.

Thunström sê elkeen van TFG se handelsname gaan sy eie unieke aanbod vir Swart Vrydag hê – dié baie belangrike verkoopdag word 11 maande lank beplan. Hy sê die grootste fout wat ’n kleinhandelaar kan maak, is om ou voorraad op Swart Vrydag te probeer smous om daarvan ontslae te raak. Hy sê hulle mik daarna om die regte, vars voorraad vir dié groot dag in elke winkel te hê.

Markplek

Maar so dood soos afdelingswinkels is, net so is die aanlyn “afdelingswinkel” of markplek besig om te verrys. TFG het Woensdag myTFGworld.com, ’n enorme markplek vir al sy eie handelsname, maar ook derdepartywinkels soos die speelgoedwinkel Hamley’s en die blommewinkel Bloomable, bekend gestel.

Thunström sê TFG het altesame 13,4 miljoen klante in Suid-Afrika en daar is diep gedink hoe om “die breedste moontlike inkoop- en leefstylervaring” te skep.

Die webwerf myTFGworld.com is dié week bekend gestel.

Die maatskappy het reeds ’n peiling onder die eerste 1 000 besoekers aan die webwerf gedoen. “Die reaksie is ongelooflik positief,” sê Thunström, hoewel hy toegee dat die webwerf “absoluut in sy kinderskoene” is.

Thunström sê die grootste uitdaging van aanlyn inkopies in Suid-Afrika is hoe stadig dit posvat. TFG spog dat 7,8% van al sy verkope nou aanlyn plaasvind, maar dit weerspieël eintlik maar dat aanlyn verkope in Brittanje en Australië goed vaar.

In Brittanje verteenwoordig aanlyn verkope al nagenoeg 30% van verkope, in Australië 4%, maar in Suid-Afrika nog net 1%.

Dit beteken enorme investering aan die tegniese kant, sowel as baie bemarking, in ruil vir wat nog ’n baie lae opbrengs is.

Hy is nie té bekommerd daaroor nie, want hy sê in alle markte het aanlyn verkope stadig begin totdat dit ’n sekere punt bereik het. As jy nié die investering gedoen het nie, is dit dan neusie verby.

In syfers
  • Groepomset styg met 28,6% tot R15,9 miljard
  • Bruto winsgrens styg van 51% tot 53,6%
  • Wesensverdienste styg met 14,3% tot R1,2 miljard
  • Wesensverdienste per aandeel styg met 8,3% tot 506c
  • Tussentydse dividend van 330c

Sterk groei

TFG het sy groepomset met 28,6% tot R15,9 miljard verhoog. Dis vir die halfjaar tot einde September vergeleke met dieselfde halfjaar van 2017.

Die enorme styging in verkope is grootliks danksy TFG se verkryging van die Britse klerewinkel Hobbs in November verlede jaar, asook die verkryging van Retail Apparel Group (RAG) in Australië in Julie verlede jaar.

Klereverkope van TFG Londen, wat ook Phase Eight en Whistles besit, het met 50,7% opgeskiet. Dié van RAG het met 170,7% opgeskiet.

Dis natuurlik self nuuswaardig dat TFG in Brittanje en Australië goed vaar, gegewe die bloutjie wat ander klerekleinhandelaars al daar geloop het. Brait, wat New Look in Brittanje besit, en Woolworths, wat David Jones en Country Road in Australië besit, het die afgelope ruk droewige syfers uit dié lande gebring.

Thunström sê deel van hul sukses oorsee is dat hulle nie die fout maak om te dink omdat hulle iets van kleinhandel in Suid-Afrika weet, hulle ook ander markte verstaan nie. TFG bestee baie tyd om seker te maak die regte bestuurspan, wat daardie mark verstaan, aan die stuur by oorsese winkels is.

Thunström, voorheen die finansiële hoof, het in September by Doug Murray as uitvoerende hoof oorgeneem. Murray is steeds ’n direkteur.

Oor dié skuif sê Thunström hy het gedink hy het voorheen hard gewerk, maar die omvang van sy verantwoordelikhede as die baas het hom nogal onkant gevang. Hoewel hy sê hy ’n puik span het om op te steun, weet hy hy is die een wat vir besluite moet pa staan.

Hoe Suid-Afrika vaar

TFG Afrika, waaronder Suid-Afrika se syfers weergegee word, kon sy klereverkope met 11,2% groei. Die afdeling het 7,8% meer huisware verkoop, 1% meer grimering, en 2,7% meer juweliersware, maar verkope van selfone en lugtyd het met 2,6% gedaal. Dit bring alles algehele verkoopsgroei vir die streek van 8,4% mee. Verkope in vergelykbare winkels – dus dié wat ook in die 2017-halfjaar oop was – was 4,8% hoër.

Die groei in die verkope van grimering is van net 1% kom teenoor die 1,7%-daling vir die ses maande tot September 2017.

Die verkoopsgroei kom ondanks die daling van 5,5% in TFG se gemiddelde pryse.

Dié syfers sal plaaslike mededingers slapelose nagte gee. Truworths se verkope vir die jaar tot Junie het met net 0,8% gestyg en Woolworths se klereverkope het met 1,5% geval, ook vir sy boekjaar tot Junie.

Die Mr Price-groep het darem gesê verkope by Mr Price het met 6,4% gestyg en by Miladys met 9,1%, albei vir die vier maande tot einde Augustus.

Edcon, moedermaatskappy van Jet, Edgars en CNA, het vir die jaar tot einde Maart ’n daling van 2,5% in sy verkope aangegee, sonder om te spesifiseer wat klereverkope beloop. Die maatskappy, wat nie genoteer is nie en besig is met enorme herstrukturering, het sedertdien nog geen nuwe resultate uitgereik nie.

Meer oor:  Tfg  |  Sportscene  |  Donna  |  Foschini  |  Anthony Thunström  |  Doug Murray  |  Klereverkope  |  Klere  |  Klerekleinhandel  |  Kleinhandelaars  |  Kleinhandel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.