Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
TFG: Jet help, maar groep se wins daal skerp

Jet was ’n enorme hupstoot vir TFG se inkomste.

Jet
Die winkels van Jet wat TFG bekom het, het tot 'n stewige styging in die groep se verkope bygedra. Foto: Verskaf

Die maatskappy, wat ook Foschini en American Swiss besit, het in die kwartaal tot einde Maart ’n skerp styging van 37% tot R5,7 miljard in sy inkomste beleef.

Jet is in September 2020 van die Edcon-groep gekoop.

TFG het Vrydag sy handelsverslag vir die laaste kwartaal, halfjaar en voljaar tot einde Maart uitgereik.

Klereverkope het in die kwartaal met amper 42% gestyg, huisware met 28%, selfoonprodukte met 59% en juweliersware met net 4,5%.

Van al sy produkkategorieë het net skoonheidsmiddels gedaal, met 2,5%.

As Jet se verkope van meer as R1 miljard uitgesluit word, het verkope in Suid-Afrika en die res van Afrika van TFG Afrika steeds stewig met 13% gestyg vergeleke met die ooreenstemmende kwartaal in die vorige boekjaar.

Uitgesluit nuwe winkels het die verkope met amper 12% gestyg, waarmee die groep baie tevrede is.

In geheel het die groep, wat ook in Brittanje en Australië bedrywig is, ’n groei in omset van 21% tot R8,1 miljard in die vierde kwartaal beleef. Uitgesluit Jet het die verkope met 6% gestyg.

Volle boekjaar

TFG Afrika se omset het vir die volle boekjaar met 1,6% tot R22,8 miljard gestyg, danksy verkope wat in die laaste helfte met 22,7% gestyg het.

Uitgesluit Jet het verkope vir die boekjaar met 8,3% tot R20,6 miljard gedaal.

Aanlyn verkope skiet die lug in

Verkope in aanlyn winkels in TFG Afrika het van begin Mei verlede jaar tot einde Maart vanjaar met 132% gestyg.

April is uitgesluit van die syfers omdat aflewerings toe nie toegelaat is nie weens die streng inperking wat geheers het.

Aanlyn winkels het 3,5% tot omset in Afrika bygedra vergeleke met 1,6% in die vorige boekjaar.

Skoonheidsmiddels en juweliersware het in die laaste halfjaar nog gedaal, hoewel minder. Dié twee produkkategorieë het vir die voljaar onderskeidelik met 18% en 22% gedaal.

Kontantverkope het veral goed gedoen en met 19% vir die boekjaar gegroei. In die vierde kwartaal het dit tot met 63% versnel.

Kredietverkope is doelbewus beperk deur strenger kriteria vir kredietverlening in te stel. Verkope op krediet het met amper 24% gedaal.

TFG Afrika het ten spyte van die moeilike toestande wat geheers het 55 nuwe winkels geopen.

Die hele groep se omset vir die boekjaar het met 6,7% gedaal en uitgesluit Jet met 13% weens die impak van die inperkings in April en Mei verlede jaar in alle lande waar hy bedrywig is en latere inperkings in Brittanje en Australië.

Sake in Brittanje

Die winkels in Brittanje is die swaarste getref in die vierde kwartaal omdat dié land se derde inperking vir die hele kwartaal geheers het en eers op 12 April weer geopen het.

Sy Britse winkels het omtrent die helfte van hul beskikbare handelsure gedurende die afgelope boekjaar verloor.

Die verkope in Britse pond het met 49% vir die jaar gedaal.

Wins daal skerp

TFG het 56% van die klandisiewaarde en ontasbare bates van sy onderneming in die land afgeskryf.

Ingesluit dié afskrywing gaan die groep se basiese wins per aandeel met tussen 160% en 170% daal. Uitgesluit dit daal die verwaterde wesensverdienste per aandeel met tussen 75% en 85%.

Die groep het voortgegaan om sy skuld te verminder danksy die sterk kontantskepping en ’n suksesvolle regte-uitgifte in Julie verlede jaar.

Sy netto skuld is van R8,4 miljard einde van die vorige boekjaar tot R1,3 miljard verminder.

Meer oor:  Jet  |  Tfg  |  Foschini-Groep  |  Covid-19  |  Verkope  |  Winkelgroep  |  Verbruikers  |  Winkels  |  Kleinhandel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.