Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
TFG se plan met Jet: Nog winkels, poste kom
Jet het voor die oorname meer as 500 winkels gehad. Die winkels ding met Pep, Ackermans en selfs Mr Price mee.

The Foschini Group (TFG) het Woensdag die sluier gelig oor die geleenthede wat hy met Jet sien en sy planne vir dié kettingwinkelgroep.

Die Mededingingstribunaal het Vrydag die transaksie waarvolgens TFG Jet verkry, goedgekeur.

Anthony Thunström, uitvoerende hoof van TFG, het Woensdag op ’n mediakonferensie gesê die groep is vyf of ses jaar gelede deur die aandeelhouers van Edcon gevra om na Jet te kyk.

Jet sou toe sowat R7 miljard gekos het en saam met die verbruikerskuldboek sowat R9 miljard.

Die maksimum verkoopprys wat TFG nou vir Jet sal betaal, is R480 miljoen.

Edcon, wat Jet besit, is in sakeredding en daar is dringend kopers gesoek vir dié winkels ten einde poste te red.

“Ons het effektief Vrydag die sleutels van Jet oorgeneem,” sê Thunström.

Een van die voorwaardes was dat TFG ’n minimum van 371 kommersieel lewensvatbare winkels sou oorneem. Wat as kommersieel lewensvatbaar beskou is, het afgehang van die huur wat betaal word en in sommige gevalle van die vloerspasie omdat sekere winkels net te groot was.

Thunström sê 371 is hoeveel winkels hulle sou gekry het as die verhuurders gebly het by die oorspronklike huurvoorwaardes.

TFG het Vrydag aangekondig hy verkry minstens 420 winkels. Volgens Thunström kan dié getal selfs styg.

“Hoewel die transaksie reeds beklink is, is daar steeds van die verhuurders wat terugkom en sê hulle kry nie ander huurders nie en hulle stel belang om ’n gunstiger huurkontrak te sluit.

“Die verhuurders het ook verstaan dat dit oor poste gaan. 20 tot 40 poste word gered vir elke winkel wat oop bly, afhangend van die grootte van die winkel.”

Korter huurkontrakte

Volgens hom is hulle plaaslik en oorsee nie meer bereid om lang huurkontrakte te sluit nie omdat die ekonomie so onseker is.

Anthony Thunström, uitvoerende hoof van TFG.

Normaalweg sluit hulle huurkontrakte van vyf jaar met die opsie om dit te hernu.

Thunström sê met die Jet-winkels is driejaarkontrakte gesluit met verskillende hernuwingsopsies.

“Vyf- tot tienjaarverbintenisse op die oomblik is gek.”

Bongiwe Ntuli, finansiële direkteur, sê nog ’n vereiste van die Mededingingskommissie was dat vakatures in die toekoms by Jet gevul moet word met personeellede wat nou afgelê is. Dié ooreenkoms geld drie jaar.

Ntuli sê TFG se modelle toon al Jet se winkels het ’n tekort aan personeel.

“Daar is geen twyfel dat as die ekonomie verbeter en die onsekerhede weg is, daar geleenthede gaan wees om poste te vermeerder nie.”

Jet skep nie net regstreekse poste nie, maar in vervaardiging steun 30 000 tot 36 000 poste swaar op vervaardiging vir Jet.

“As Jet sou vou, sou daardie poste in gevaar gewees het.”

‘Waarde vir geld’ skep geleenthede

Thunström sê die verkryging van Jet gaan TFG help om op een van die tendense in die kleinhandelmark te fokus wat al die afgelope paar jaar bespeur word, naamlik ’n behoefte aan waarde vir geld.

Daar is geen twyfel dat as die ekonomie verbeter en die onsekerhede weg is, daar geleenthede gaan wees om poste te vermeerder nie.
Bongiwe Ntuli

“Dit beteken nie goedkoop klere nie. Ongeag watter LSM-vlak, is almal op soek na iets wat aan hulle waarde vir hul geld gee. Die neiging is versterk deur die ekonomiese situasie wat die pandemie geskep het.”

Volgens hom het TFG dit reeds ’n paar jaar gelede geïdentifiseer as ’n geleentheid om groter blootstelling in die marksegment in die kleinhandelsektor te kry wat hy as “werklike waarde” beskryf.

“Dit sou intern moeilik gewees het om te doen omdat dit baie lank neem om ’n goeie handelsnaam te bou. Jy sal sowat tien tot 15 jaar daarin moet belê voordat jy daarby uitkom.

“Gelukkig het Jet hom as ’n verkrygingsgeleentheid voorgedoen.”

Edcon het Jet altyd beskryf as ’n kettingwinkelreeks met ’n teikenmark in die LSM 4- tot 7-inkomstegroepe teenoor Edgars wat op LSM 6 tot 10 fokus.

Thunström meen Jet het ’n baie goeie handelsnaam in Suid-Afrika met reusevolumes produkte wat verkoop word en ’n enorme aantal klante.

“Dit gaan ons blootstelling gee aan ’n segment in Suid-Afrika waar ons heeltemal te min blootstelling gehad het.

“Dit gaan nog ’n ruk lank ’n belangrike segment in die kleinhandel wees.”

Sy belangrike mededingers is Pep, Ackermans en selfs Mr Price.

Hoewel Jet nou heelwat kleiner gaan wees as voorheen, toe hy meer as 500 winkels gehad het, glo hy daar is plek om te groei en nog winkels te open.

“Dit is in ons DNS om of ons eie ondernemings of die wat ons koop, te laat groei.

“Namate die waardesegment in geheel uitbrei, gaan daar geleenthede wees vir groei.”

Voorraadtekorte

Hy erken in die eerste paar maande sal handel suboptimaal wees weens die tekort aan voorraad op Jet se winkelrakke.

Volgens hom het Edcon weens sy geldelike verknorsing die afgelope jare wesenlik te min belê in Jet ten opsigte van voorraad en tegnologie.

“Ons het na hul marknavorsing van die afgelope jare gekyk en die enigste kritiek van klante was die tekort aan voorraad. Ons gaan hieraan aandag gee.”

Bongiwe Ntuli, finansiële direkteur, van TFG.

Volgens hom sal TFG se plaaslike vervaardiging help om Jet se winkelrakke vinniger aan te vul.

Ten opsigte van tegnologie is daar onderbelê in dinge soos verkooppunte. Hul kasregisters was vier tot vyf keer per jaar langer af as wat TFG s’n is.

TFG gaan ’n nuwe verkoopspuntstelsel nou eerste in Jet bekend stel.

Jet, wat nie tans aanlyn beskikbaar is nie, gaan mettertyd ook ’n volledige aanlyn winkel kry.

Thunström glo die koopprys maak op vir al die risiko’s wat met die verkryging van Jet gepaardgaan.

“Ons het die winkels gekies wat ons wou hê en sal nie werklik kleinhandelaars gewees het as ons nie dink daar is ’n geleentheid om markaandeel te neem nie.”

Hy sê Jet het winkels in meer as 100 plekke waar TFG voorheen geen blootstelling gehad het nie.

“Ons sal daaraan werk om hul voetspoor uit te brei.”

Bestuurspan bly

Jet het reeds vir net langer as ’n jaar ’n nuwe bestuurspan.

“Ons is baie beïndruk met die bestuurspan en daar is geen voorneme om daaraan te peuter nie.”

Is daar planne om die hoofkantoor Kaapstad toe te skuif, waar TFG s’n is?

Hy sê dit sou talle probleme skep om die hoofkantoor van sowat 200 mense te skuif.

Hulle het wel al verlede Vrydag uit die Edgardale-hoofkantoor van Edcon in Crown Mines in Johannesburg uitgetrek na TFG se streekkantoor.

Volgens Thunström het die groep geen voorneme om hulle in die afsienbare toekoms te skuif nie.

Meer oor:  Jet  |  Tfg  |  Foschini  |  Klerewinkels
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.