
Die Foschini-groep het Jet gekoop.
The Foschini Group (TFG) sê sy transaksie is afgehandel met die Edcon-groep om sy Jet-winkels in Suid-Afrika te koop.
’n Soortgelyke ooreenkoms ten opsigte van die Jet-winkels en ander bates in Botswana, Namibië, Lesotho en eSwatini gaan na verwagting binnekort afgehandel word.
TFG het op 13 Julie aangekondig dat hy ’n voorwaardelike aanbod gemaak het om sekere winkels en bates van Jet van Edcon te koop.
Edcon is tans in sakeredding en probeer om sy bates so vinnig moontlik te verkoop om dele van die maatskappy se voortbestaan te verseker.
Die transaksie is op 14 Augustus afgehandel.
Die transaksie is egter nog onderhewig aan sekere voorwaardes. Dit sluit in:
- Goedkeuring van die mededingingsowerhede.
- ’n Ooreenkoms moet ook nog bereik word met die verhuurders van die Jet-winkels wat verkry word oor gewysigde huurvoorwaardes. Die gesprekke met die meeste van die verhuurders vorder goed.
- TFG moet nog ’n ooreenkoms bereik met die onderneming RCS Cards oor die bestuur van die verbruikerskredietboek van Jet. RCS besit tans die kredietboek.
- TFG moet nog ’n ooreenkoms bereik met sekere derde partye wat belangrike dienste aan Jet lewer.
- ’n Ooreenkoms moet ook tussen Edcon en sy sakeredders bereik word oor sekere dienste wat aan TFG verskaf moet word om die oorgang en oordrag van die onderneming na TFG glad te laat verloop.
Volgens TFG verwag die partye die oorblywende voorwaardes sal teen einde September afgehandel word.