Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Tiger Brands tel kop op, maar taai tye lê voor

Tiger Brands het in die ses maande tot einde Maart beter gevaar as in die vergelykbare tydperk verlede jaar.

Tiger Brands besit onder meer Jungle, wat ontbytpap vervaardig. Foto: Foodreview

Hy het ook nou ’n tussentydse dividend verklaar.

Noel Doyle, uitvoerende hoof, sê die resultate moet nietemin gesien word in die lig van ’n uiters moeilike handelsomgewing en die verwagting dat die tweede helfte van die boekjaar ook uitdagings gaan inhou.

Die grootste kosvervaardiger in Suid-Afrika het Donderdag sy finansiële resultate vir die ses maande tot einde Maart bekend gemaak.

Die groep het ook Donderdag aangekondig ’n aanvangskapitaalfonds word in Junie bekend gestel. Die fonds van sowat R100 miljoen sal grootliks op Suid-Afrika se opkomende ondernemings in die kos- en drankbedryf fokus.

Tiger Brands se inkomste uit volgehoue bedrywighede het in die tydperk onder oorsig met 8% tot R16,4 miljard geklim, veral te danke aan die eerste kwartaal se sterk vertoning.

Die groep se styging in inkomste kom te midde van prysinflasie van 9% en ’n matige daling in die algehele volume van 1%.

Die wesensverdienste per aandeel het met 21% gestyg tot 741c teenoor die 613c in die ooreenstemmende halfjaar.

’n Tussentydse dividend van 320c is verklaar nadat daar nie verlede jaar ’n tussentydse dividend verklaar is nie weens onsekerhede oor die impak van die koronaviruspandemie.

Hy sê die resultate is eintlik ’n storie van twee kwartale, want die goeie vertoning is veral gesteun deur sterk groei in inkomste in die eerste kwartaal van die boekjaar.

Druk op verbruikers en aggressiewe prysstrategieë van mededingers het in die tweede kwartaal toenemend druk op die groep geplaas.

Hoewel betekenisvolle groei in volume vir uitvoer en internasionale bedrywighede aangeteken is, is dit teengewerk deur die afname in volumes van plaaslike bedrywighede, hoofsaaklik laer volumes van graanprodukte, soos brood en ontbytpap, veral in Februarie en Maart.

Tiger Brands bak Albany-brode en maak onder meer Jungle Oats-pap en ontbytstafies.

Stygende pryse van internasionale landboukommoditeite het ook verdere druk op sy winsmarges geplaas.

Die afname in volumes is gedeeltelik teengewerk deur die sterk vertoning en herstel in die kategorieë vir baba-produkte, lekkergoed en snoepprodukte soos Jelly Tots en skoonmaakprodukte soos Jeyes Fluid.

Die syfers

Sy bedryfswins voor waardedalings, abnormale items en rekenkundige koste, het met 16% gestyg tot R1,6 miljard. Die bedryfswinsmarge het tot 9,6% gestyg van 8,9% in die ooreenstemmende tydperk.

Tiger Brands se verdienste per aandeel uit volgehoue bedrywighede is 126% hoër op 755c vergeleke met 333c in die ooreenstemmende halfjaar.

Die verdienste per aandeel uit alle bedrywighede het met 299% gestyg tot 837c vergeleke met 210c en die wesensverdienste per aandeel uit alle bedrywighede is 52% hoër op 741c teenoor 489c in die vergelykende tydperk.

Die groep het veral goed gevaar met sy kostebesparingsinisiatiewe en is tevrede met die verbetering in sy vervaardigingsprosesse.

Wat kan van die volgende ses maande verwag word?

Daar word oor alle kategorieë heen ’n afname in verbruikersvraag verwag. Dit is meestal as gevolg van die erge impak van die pandemie op die ekonomie en mense se bestaansmiddele.

Doyle verwag ook onvermydelike verdere druk op pryse en winsmarges.

“Tiger Brands gaan dus voort met inisiatiewe om koste te bespaar en na maniere te kyk om sy voorsieningskanaal te verbeter.”

Dit is volgens hom belangrik dat daar ’n kultuurverandering by die groep is. “Mense moet kan waag en nie bang wees dat hulle gestraf gaan word as hulle nie noodwendig slaag nie.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.