Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Tiger Brands verwag wins gaan ver val
Tiger Brands besit onder meer Jungle wat ontbytpap vervaardig. Foto: Foodreview

Tiger Brands, die vervaardiger van onder meer Oros-koeldrank, Jungle-ontbytpap, Beacon-sjokolade en kouevleis van Enterprise, verwag sy verdienste per aandeel gaan met bykans 80% val vir die boekjaar tot einde September.

Die maatskappy is swaar deur die Covid-19-pandemie getref en het deur die loop van die boekjaar ook van sekere bedrywighede en filiale ontslae geraak.

Dit sluit in sy bedrywighede by Deli Foods in Nigerië in Oktober 2019.

Planne word ook reeds gemaak om van sy Langeberg & Ashton Foods-fabriek in Ashton in die Wes-Kaap ontslae te raak. Meer as 100 000 ton vrugte word elke jaar daar verwerk.

“ ’n Hersiening van ons sakeportefeulje dui daarop dat die produksie van inmaakvrugte nie by Tiger Brands se strategiese agenda en groeiplanne op die lange duur pas nie,” het Nevashnee Naicker, kommunikasiehoof, aan Landbouweekblad gesê.

Wesensverdienste per aandeel sal na verwagting ook heelwat laer wees as ’n jaar gelede, het Tiger Brands Vrydag in ’n Sens-verklaring aangekondig.

Die verwagting is dat dit tussen 35% en 40% (oftewel tussen R4,60 en R5,32) laer sal wees as ’n jaar gelede.

Verdienste per aandeel vir voortgesette bedrywighede sal na verwagting tussen R17,90 en R18,62 per aandeel laer wees.

Verdienste per aandeel vir voortgesette bedrywighede was ’n jaar gelede R26,20.

Die skerp daling in verdienste per aandeel is deels toe te skryf aan ’n “swak vertoning in die eerste helfte van die jaar”.

En net toe die maatskappy weer begin kop optel, tref die koronaviruspandemie en krap dinge deurmekaar, sê hy.

Tiger Brands het in Mei met die bekendmaking van sy halfjaarresultate gewaarsku hy verwag om ’n minimum van R551 miljard weens die pandemie te verloor.

Die massiewe verlies word deels toegeskryf aan produkte wat hy onder die strenger vlakke van die staat van inperking nie mag verkoop het nie, maar veral weens die onvermoë om sy pryse te verhoog weens die regulasies onder die ramptoestand.

Tiger Brands moes ook ongeveer R70 miljoen in die jaar onder oorsig bestee om te herstruktureer, hoewel hy nie Vrydag melding gemaak het van hoeveel werknemers uiteindelik daardeur geraak is nie.

Hy moes R63 miljoen inboet omdat sy fabrieke wat alkoholprodukte en skoonheidsprodukte vervaardig, vir ’n groot deel van die staat van inperking gesluit was.

Tiger Brands het ook reeds R54 miljoen aan die aankoop van beskermende toerusting vir sy personeel bestee, ’n aansienlike uitgawe wat sy wins knou.

Intussen het die maatskappy se jarelange voorsitter, dr. Khotso Mokhele, sy uittrede aangekondig. Hy word op 1 Januarie deur Geraldine Fraser-Moleketi as voorsitter vervang.

Hoewel Mokhele tot einde Desember amptelik in die pos bly, sal Fraser-Moleketi reeds van 1 September af as voorsitter waarneem sodat die oorgang glad verloop.

Tiger Brands verwag om sy voljaarresultate voor of op 20 November uit te reik.

Sy aandeelprys was Vrydagmiddag 0,64% hoër op R176,64.

Meer oor:  Tiger Brands  |  Maatskappye  |  Wins  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.