Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Tiger Brands wil van Oceana ontslae raak

Ondanks die uitbreek van listeriose, wat die kosgroep Tiger Brands se verdienste vir die boekjaar tot einde September geknou het, kon hy danksy sy sterk balansstaat ’n slotdividend van R7,02 per aandeel verklaar.

Tiger Brands is die vervaardiger van die ikoniese Black Cat-grondboontjiebotter. Foto: Tiger Brands

Dit bring die jaardividend op R10,80 per aandeel te staan, wat dieselfde is as in die vorige jaar.

Die nuus oor Tiger se jaarresultate Donderdag is egter oorskadu deur sy besluit om sy 42,1%-belang in die visserygroep Oceana te ontbondel. Tiger verwag die ontbondeling sal teen April volgende jaar afgehandel wees. Oceana is afsonderlik op die JSE genoteer.

Die besluit is geneem as deel van ’n strategiese hersiening van sy belegging in assosiaatmaatskappye.

In reaksie op Tiger se besluit het Oceana Donderdag in ’n Sens-verklaring aan sy aandeelhouers gesê die direksie gaan ’n subkomitee vorm om die implikasies en moontlike geleenthede van die voorgestelde ontbondeling te oorweeg.

Oceana sê hy is steeds ’n onafhanklik genoteerde maatskappy op die JSE en is verbind tot sy strategie en sakeplan.

Tiger is een van die top-40-aandele op die beurs, met bekende handelsmerke soos Enterprise, Black Cat, Doom, Allgold, Jungle Oats, Hall’s, ACE, Bioclassic, Airoma, Renown, Colman’s en Mrs Balls Chutney in sy stal.

In syfers
  • Omset val met 9% tot R28,5 miljard

  • Bedryfsinkomste daal met 28% tot R3,3 miljard
  • Wesensverdienste per aandeel krimp met 26% tot R15,87
  • Dividend onveranderd op R10,80 per aandeel

Listeriose-impak

Intussen verduidelik Tiger Brands die tydelike sluiting van sy vleisproduk-afdeling weens die listeriose-epidemie het ’n wesenlike impak op sy syfers gehad, want dit was vir die hele tweede helfte van die boekjaar gesluit.

Dit het die afdeling se omset met 52% tot R1,1 miljard laat daal, en ’n bedryfsverlies van R252 miljoen is gely.

Tiger het R380 miljoen verloor weens vleisprodukte soos polonie wat weens listeriose van rakke verwyder moes word. Dit is reeds nadat versekeringsuitbetalings ingereken is.

Tiger sê die sluiting het hom kans gegee om produksiegeriewe op te knap en personeel op te lei. Die Germiston-fabriek is op 12 Oktober heropen. Die Enterprise-vleisinmaakfabriek in Polokwane het op 12 September heropen. Volle produksie sal hervat word sodra die Capricorn-munisipaliteit sekere strukturele opgraderings wat reeds afgehandel is, finaal goedgekeur.

’n Groepeis teen Tiger oor die listeriose-epidemie is nog nie gesertifiseer nie, sê Tiger. Sodra dit gedoen is en die lede van die groepeis bepaal is, verwag die maatskappy dat ’n eis gekoppel aan ’n spesifieke bedrag teen hom ingestel gaan word.

Die groep het versekeringsdekking vir produkaanspreeklikheid, en Tiger sê hy het by sy versekeraars bevestig hoeveel dekking hy het. Die polis sal dan ingeval van ’n suksesvolle groepeis gebruik word.

Die groep sê die listeriose-krisis was vernietigend vir Tiger, vir sy mense en vir die gesinne wat deur sterftes geraak is. Hy het R10 miljoen gegee vir ’n sentrum vir voedselveiligheid wat in oorleg met die Universiteit Stellenbosch opgerig word.

As die vleisfabrieksluitings uitgesluit word, sou Tiger se wesensverdienste per aandeel in die boekjaar in elk geval met 11% tot R18,81 gedaal het.

Ander afdelings

Tiger sê hoër BTW en brandstofprysstygings het bygedra dat verbruikersvraag verswak het in al sy produkkategorieë behalwe mieliemeel, waar groter voorraad en prysdeflasie die vraag gestimuleer het.

Die prestasie van sy kruideniersware- asook sy tuis- en persoonlikesorgprodukte was swakker as verwag. Laasgenoemde afdeling se omset is 16% laer op R2,2 miljard.

Volgens Tiger het sy sjokolade-markaandeel gewen in sy versnapering-afdeling, maar tog was die omset 4% laer op R2,1 miljard.

Ná die markopening Donderdag was Tiger se aandeelprys 0,66% laer op R269,11. Oceana se aandeelprys was onveranderd op R81,41.

Meer oor:  Oceana  |  Tiger Brands  |  Mieliemeel  |  Visserye  |  Listeriose-Epidemie  |  Kosvervaardigers  |  Listeriose
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.