Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Time Square skitter; GrandWest verloor glans

Die GrandWest-casino in Kaapstad is nog so besig soos altyd, maar mense spandeer minder geld.

Time Square se inkomste styg skerp en dié casinokompleks wen ook markaandeel.

Dié inkomste van die casino, Sun International se grootste kontantkoei onder sy Suid-Afrikaanse casino’s, het die afgelope ses maande met 3% tot R1,05 miljard gedaal. Dit is die eerste keer in twee jaar dat sy inkomste daal.

Tesame met dalings in die inkomste van onder meer Sun City, Wild Coast Sun, die Carousel en ander beteken dit dat agt uit 15 van Sun International se casino’s ’n daling in hul inkomste in die ses maande tot einde Junie ondervind het.

Die daling van Sun City se inkomste het verlede jaar begin en word aan die swak ekonomie toegeskryf, sowel as die uitwerking van ’n haelstorm middel Desember 2018 wat van sy wooneenhede onbewoonbaar gemaak het.

Aan die positiewe kant is Time Square, Sun International se megaprojek in Pretoria, besig om van krag tot krag te gaan. Dié casino-en-hotelkompleks se inkomste het met 15% tot R671 miljoen gestyg en die casino wen vinnig markaandeel. Teen einde Junie was sy markaandeel in die casinomark in Pretoria en omgewing 14,6%, teenoor 13,5% in Desember 2018, en dit het ná die einde van die boekjaar tot 17,4% opgeskiet.

In syfers

Sun International se tussentydse resultate vir sy Suid-Afrikaanse bedrywighede vir die ses maande tot einde Junie, soos vergelyk met dieselfde helfte van 2018:

  • Inkomste: Styg met 7% tot R5,53 miljard
  • Verdienste voor rente, belasting, waardeverminderings en afskrywings (ebitda): Styg met 3% tot R1,43 miljard
  • Wesensverdienste: Styg 25 keer tot R107
  • Dividend: Geen tussentydse dividend is verklaar nie

Nog ’n suksesstorie is Sun Slots, waarvan die inkomste met 13% tot R637 miljoen gestyg het. Sun Slots is die munt-dobbelmasjiene wat in elke tweede kroeg, sportklub of hotel gespeel kan word. Die prestasie van dié masjiene is goeie nuus gegewe dat Sun International pas die 30% van Sun Slots, wat Grand Parade Investments besit het, gekoop het.

Anthony Leeming, uitvoerende hoof van Sun International, sê hulle is gefrustreerd dat die vereenvoudiging van visumaansoeke vir lande soos Indië steeds sloer. Reeds in Maart het hy die hoop uitgespreek dat dit veral Sun City sal help. Die gadagte is dat mense in Indië en China aanlyn om visums aansoek kan doen. “Ons verstaan dis ingewikkeld, maar dit neem te lank.”

In die lig van die uiters moeilike handelsomstandighede is Leeming glad nie seker wanneer ’n ommekeer in sy casino’s verwag kan word nie. Die maatskappy fokus in dié stadium daarop om sy interne koste te beperk, doeltreffendheid te verhoog en ook om kliëntediens te verbeter.

    Meer oor:  Sun International  |  Dobbelbedryf  |  Dobbel  |  Casino's  |  Hotelle
    MyStem: Het jy meer op die hart?

    Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

    Ons kommentaarbeleid

    Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

    Stemme

    Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.