Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Tito kry lof van omstrede Iqbal Survé

Dr. Iqbal Survé, voorsitter van onder meer Sekunjalo en Independent Media, het Tito Mboweni, minister van finansies, se voorstel verwelkom dat hy voor die parlement se staande komitee oor finansies (Skoor) kom getuig.

Iqbal Survé toe hy getuienis voor die Mpati-kommissie van ondersoek na die OBK gelewer het.

Mboweni het Donderdagaand in ’n Skoor-sitting oor die Mpati-verslag oor die Openbare Beleggingskorporasie (OBK) voorgestel dat die komitee Survé en dr. Daniel Matjila, voormalige uitvoerende hoof van die OBK, “in sy vertroue neem” en hulle vra hoe die besluit geneem is dat die OBK in Ayo Technology Solutions belê.

Die OBK het einde 2017 R4,3 miljard in Ayo belê vir 99,8 miljoen aandele, dus nagenoeg R43 per aandeel. Die Mpati-verslag het bevind die belegging is deur Matjila goedgekeur voordat die OBK se beleggingskomitee die nodige noulettendheidsondersoek kon doen.

Matjila is intussen afgedank, maar betwis die Mpati-kommissie se verslag in die hof.

Die OBK is die staatsbeheerde batebestuursfirma wat onder meer die pensioenfonds van staatsamptenare (GEPF) se geld belê.

Twee senior Ayo-werknemers het verlede jaar voor regter Lex Mpati getuig hulle is opdrag gegee om Ayo se syfers te oordryf. Die JSE het Ayo sedertdien met R6,5 miljoen beboet vir wanvoorstellings en foute in sy syfers, maar Ayo ontken steeds dat syfers doelbewus verdraai is om beleggers te mislei.

Die OBK is besig met ’n hofsaak om sy oorspronklike belegging met rente terug te kry. Ayo se aandeelprys het in ’n stadium die afgelope jaar tot net R0,92 getuimel, maar het Vrydag op R7 gesluit, wat die OBK se belegging op minder as R700 miljoen, oftewel 16% van die kapitaal wat belê is, waardeer.

Sekunjalo Investment Holdings, die maatskappy wat Survé se familie se beleggings huisves, besit 62% van die genoteerde African Equity Empowerment Investments, wat op sy beurt 49% van Ayo besit. Die aandeelhouding van Ayo se filiale is ook geweldig ingewikkeld.

Mboweni het aan Skoor gesê dis onbillik dat die hele Ayo en Sekunjalo se reputasie bevlek word weens die beleggings.

In sy verklaring Sondag sê Survé hy verwelkom Mboweni se “pragmatisme”.

Survé verwys na ’n “volgehoue poging om die rol te ondermyn” wat die Sekunjalo-maatskappye speel “om die ekonomie te herbou”. Hy verwys ook na die maatskappye se bydrae tot swart ekonomiese bemagtiging en transformasie.

Ons het nog altyd volgehou die wanvoorstellings oor ons verhouding met die OBK is polities aangedryf.
Dr. Iqbal Survé

“Ons het nog altyd volgehou die wanvoorstellings oor ons verhouding met die OBK is polities aangedryf. Ons sal die parlement vir ’n dringende vergadering nader. Ons sal ook voortgaan met ons pogings om met die OBK in gesprek te tree.”

Dit eggo vorige bewerings wat hy gedoen het van ’n algemene komplot teen hom en sy maatskappye, ook deur mededingers in die mediabedryf. Hy het al aangevoer hy en sy maatskappye word deur spioene uit die apartheidsera afgeluister en dat hy met die dood gedreig word.

Survé hou vol die verhouding van Sekunjalo, Independent en Ayo met die OBK was nog altyd “binne die wet”.

“Sedert die ondersoek begin is, is enorme skade aan dié ondernemings gedoen. Ons het die Mpati-kommissie uit vrye wil genader om ons weergawe van gebeure te gee… Regdeur die kommissie se verrigtinge het ons ten volle saamgewerk.”

Survé sê sy poging om met die OBK in gesprek te tree oor die kommissie se bevindinge het tot op hede niks opgelewer nie, en dis waarom Mboweni se “pragmatiese benadering” verwelkom word.

Survé het wel die kans gekry om sy saak voor Mpati te stel. Die kommissie het bevind die noue verhouding tussen Survé en Matjila het dit vir mense onder hulle moeilik gemaak om teenstand teen die beleggings te bied.

Survé beklemtoon ook dat hy nie op Ayo se direksie of bestuur dien nie.

Meer oor:  Gepf  |  Aeei  |  Sekunjalo  |  Obk  |  Ayo Technology Solutions  |  Independent Media  |  Daniel Matjila  |  Iqbal Survé  |  Tegnologie  |  Mpati-Kommissie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.